Williston skitter by Samic Nasionale Slaglamkompetisie

Estimated reading time: 3 minutes

Telers van die land se beste lamkarkasse is vanjaar weer op Williston by die Samic Nasionale Slaglamkompetisie 2021/22 vir hul harde werk vereer. Uit die 24 pryse wat uitgedeel is, het 18 na produsente in die Williston-distrik gegaan.

Die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfmaatskappy (Samic) en Williston Vleiskoöperasie het op 11 Augustus ’n deftige funksie aangebied om die nasionale wenners uit die Williston-omgewing te vereer. Nog twee nasionale prysuitdelingsfunksies sal in Oktober by Vryburg en in Pretoria gehou word, waar die ander kompetisiewenners hul pryse sal ontvang.

Streeksbestuurder van Samic, Dirk Zandberg sr, het tydens die geleentheid die groot belangstelling onder skaapboere om meer betrokke by slaglamkompetisies te raak, geloof. Volgens hom is daar heelwat nuwe organiseerders wat ook slaglamkompetisies aangebied het, en dit het die stryd om die eerste plekke soveel moeiliker gemaak.

Lees meer oor Williston se kaasbedryf hier.

Kommersiële wenners

Hy het verder genoem dat skaapprodusente die waarde van die slaglamkompetisies besef en dit as ’n leerproses beskou om lammers te teel wat in lyn is met die behoefte van die mark. In die afdeling vir kommersiële skaapboere het Coetzee Reitz van Williston die tweede plek in die enkellamkategorie verower.

Daar was ook sterk mededinging om die beste slaglamkompetisie in die land aan te bied. Williston Vleiskoöperasie Slaglamkompetisie het die tweede plek ingeneem.

Onder die kommersiële bokboere was die kompetisie ook straf. Helana Louw het uitstekend gevaar – sy het die beste groep bokkarkasse in die land vertoon en haar enkellamkarkas is as die nasionale naaswenner aangewys.

Opkomende boere maak skoonskip

In die slaglamkompetisies vir opkomende boere het die produsente van Williston skoonskip gemaak. Dit was veral J Meerka van Williston wat al die eerste plekke opgeraap het.

In die skaap-afdeling het J Meerka die beste enkelkarkas sowel as die beste groep karkasse vertoon. Gert Esau van Williston het die tweede plek ingeneem in die enkelkarkaskategorie, en Emily Kok was die naaswenner in die afdeling vir beste groep karkasse.

Lees meer oor skaap skeerfasiliteite hier.

In die bokafdeling vir opkomende boere het J Meerka weer met die eerste plekke in die enkelkarkas- sowel as die groepkarkaskategorieë weggestap. Julihan van Wyk, ook van Williston, was weer die nasionale naaswenner in beide kategorieë.

Williston Skou en Williston Vleiskoöperasie het die eerste én tweede plekke ingeneem as die beste slaglamkompetisies vir opkomende boere in die land.

Lees meer oor bybal-ontsteking hier.

Eretoekennings

Tydens die prysuitdeling het Samic geskiedenis gemaak deur ’n eretoekenning aan twee lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se veediefstaleenheid in die Wes-Kaap te oorhandig. Samic se Dirk Zandberg jr het ’n paar maande gelede begin om opleiding aan lede van veediefstaleenhede te gee om abattoirs en slaghuise te ondersoek wat nie volgens wetlike vereistes handel nie. Die Wes-Kaap se veediefstaleenheid het reeds die vrugte van dié opleiding gepluk en ’n paar goeie suksesse behaal om oneerlike handel hok te slaan.

Lees meer oor kleinvee geslagsiektes hier.

Tydens die prysuitdeling het Dirk gesê sy ideaal is om meer veediefstaleenhede in die land te bemagtig om onwettige praktyke by abattoirs en slaghuise stop te sit, sodat verbruikers van gehalte vleis verseker kan wees. Die twee SAPD-lede wat eretoekennings ontvang het is kaptein Nico du Toit en adjudant-offisier Nick Cremer.

Plaas Media is ook vereer vir hul mediabydrae om die werksaamhede van Samic en karkaskompetisies in die geheel te bevorder. – Koos du Pisansie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Samic se kantoor by 012 361 4545 of Williston Vleiskoöperasie by 053 391 3002.