Bek-en-klouseer by Bloem-veilingskraal: Vrae en lesse 

Estimated reading time: 7 minutes

Sowat ‘n duisend beeste is verlede week by Tobie Myburgh Afslaers se veilingskrale by Bloemfontein, onder kwarantyn geplaas toe bek-en-klouseer (BEK)-letsels in ‘n koei, wat op die veiling verkoop is, waargeneem is.  

Die veiling het Dinsdag, 21 April, plaasgevind. Volgens Sarel Myburgh, eienaar van Tobie Myburgh Afslaers, vereis die abattoir wat diere op die veiling gekoop het, dat die diere weer gebek word voordat hulle gelaai word om na die slagpale vervoer te word. Dit was tydens hierdie proses dat die letsels in ‘n koei se bek waargeneem is. 

Die staatsveearts is in daardie stadium van die situasie in kennis gestel. Die volgende oggend is nóg 12 diere met letsels geïdentifiseer. Al die diere met letsels kom van dieselfde plaas af. Die veilingskrale is dadelik onder kwarantyn geplaas en alle veilings is tydelik gestaak tot verdere kennisgewing. Myburgh sê van die 1 045 beeste wat op die veiling was, kon hulle dadelik die slagbeeste weglaai. Daar is egter steeds 984 beeste in die krale en onder kwarantyn. 

Die staatsveearts het verlede Woensdag-oggend entstof voorsien en al die beeste in die krale is teen BEK ingeënt.  

Die storie het egter ‘n baie interessante wending geneem, sê Myburgh, toe hulle die 12 betrokke koeie met die letsels, sewe dae later weer gebek het. Slegs twee van die koeie het nog letsels in hul bekke gehad. Hoe die letsels so vinnig kon verdwyn, is vir hom onverklaarbaar. 

Voorwaardes, steekproewe en prosedures 

Volgens hulle gesondheidsvoorwaarders, verduidelik Myburgh, moet boere wat vee na die veiling toe stuur, self al die diere ondersoek voordat hulle gelaai word en na ‘n veiling toe vervoer word. Wanneer die diere dan by die veiling aankom, word ‘n steekproef gedoen deur ‘n hoeveelheid diere op elke vragmotor te ondersoek. Elke dier se koors word gemeet soos hulle van die vragmotor afklim. Daar was in daardie stadium geen tekens van BEK nie en daar is met die veiling voortgegaan.   

Hy sê daar is ongelukkig nie duidelikheid oor hoe lank dit neem vir ‘n dier om letsels in die bek te wys nie, wat dit baie moeilik maak. Die betrokke verkoper wie se diere die letsels begin wys het, sou klaarblyklik die vorige week al die diere op die veiling kom verkoop het, maar te veel reën het veroorsaak dat hy hulle eers die volgende week kon bring. Hy het hulle glo nie weer gebek voor hulle uiteindelik gelaai is nie, want hulle het geen tekens gewys nie – geen kwyl, geen koors en ook nie mankheid nie.  

Kwarantyn is ‘n duur oefening 

Die pad vorentoe, sê Myburgh, is heeltemal onduidelik. Hoewel die diere nou die eiendom van die kopers is, moet hy self die diere voer en versorg terwyl hulle onder kwarantyn is. Hy het die afgelope week nege interlink-vragte tef en lusern aan hulle gevoer. Veilingskrale is nie ontwerp om daagliks ‘n groot hoeveelheid diere te voer nie en dit is dus ‘n baie moeilike en duur proses. 

Die staatsveearts moet twee weke ná die diere ingeënt is, weer kom ondersoek instel. Indien daar dan geen nuwe gevalle is nie, kan die diere uitgelaai word, anders moet hulle vir nog ‘n tydperk onder kwarantyn bly. 

Volgens Myburgh is daar net een manier om die hele BEK-katastrofe te beheer, en dit is dat geen bees op ‘n veiling mag kom as hy nie ingeënt is nie. Dit beteken dat die land se totale beeskudde ingeënt moet word en dat BEK-inentings deel moet word van elke produsent se normale inentingsprogram. Dit beteken uiteraard dat genoeg entstof vrylik beskikbaar sal moet wees. 

In Veeplaas se Mei 2026-uitgawe verskyn ‘n artikel getiteld “Die sleutel tot veilige veehandel” (deur Timon Dedekind en Carli Jacobs), waarin Tobie Myburgh Afslaers se protokol verduidelik word. Dit bevat onder meer die duidelike vereiste dat produsente 48 uur voor ‘n veiling ‘n e-ligging (location pin) van die hul plaas aan die veilingshuis moet stuur en ‘n kraal bespreek. Sodra die inligting ontvang is, stuur die veilingshuis ‘n gesondheidsverklaring na die produsent vir voltooiing. Voertuie ry ook deur ontsmettingspunte en ‘n veearts bek dan die diere.  

Vertolking van regulasies 

Gegewe hierdie ongelukkige voorval, is dit nodig om weer te kyk na die beheermaatreëls wat verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer is. Die minister van landbou, John Steenhuisen, het op 13 Junie 2025 beheermaatreëls bekragtig wat verband hou met beheerde siektes by diere met gesplete hoewe. Hierdie maatreëls is ingevolge Artikel 9(1) van die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984), voorgeskryf. Die doel was om die risiko van die verspreiding van beheerde siektes deur die beweging van diere te verminder.  

Die beheermaatreëls bepaal dat sekere veeboerdery-aktiwiteite ’n hoë risiko inhou vir die verspreiding van dieresiektes en parasiete. Dit is hoofsaaklik aktiwiteite waar diere van verskillende oorsprong op een perseel bymekaargebring word en daarna na verskillende bestemmings versprei word. Veilings, skoue en vervoer is tipiese voorbeelde. 

Weens die aard van hierdie aktiwiteite is dit nie moontlik om aan die verpligte 28-dae-isolasietydperk ná verskuiwing te voldoen nie. Die regulasies stel hierdie aktiwiteite dus vry van die nakoming van die 28-dae tydperk, mits daar aan al die voorwaardes in die beheermaatreëls voldoen word en ouditeerbare, skriftelike rekords van nakoming vir ’n minimum van vyf jaar bewaar word. 

Aankoms- en biosekuriteitsareas 

Die regulasies is omvattend, maar vir die doeleindes van hierdie berig is twee punte van belang. Die eerste is dat alle diere wat verskuif word, binne drie dae voor verskuiwing deur die verantwoordelike persoon, of ’n veearts, vir kliniese tekens van siekte ondersoek moet word en ‘n sertifikaat uitgereik word wat verklaar dat die diere nie siektetekens wys nie. Hierdie verklaring moet minstens 48 uur voor laai by die versamelpunt (soos ’n veilingskraal) ingedien word. 

Die tweede skryf die aksies voor wat by ‘n veilingskraal gevolg moet word as die diere daar aankom. Die regulasies vereis dat daar by ’n bymekaarkomplek, soos ’n veilingskraal, ’n duidelike skeiding tussen die aankomsarea (‘vuil’) en die biosekuriteitsarea (‘skoon’) moet wees. Hierdie areas moet fisies van mekaar geskei word om kruisbesmetting te voorkom. Daar mag geen beweging van mense, voertuie, toerusting of ander potensiële draers van siektes tussen die twee areas wees nie. 

’n Biosekuriteitsbeampte moet deur die verantwoordelike persoon van die bymekaarkomplek (in hierdie geval die veilingshuis) aangestel word en by die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad (SAVC) geregistreer wees. Hierdie biosekuriteitsbeampte moet toesien dat diere slegs in die aankomsarea afgelaai word, vir tekens van siekte geïnspekteer word, en dat alle diere individueel geïdentifiseer en aangeteken word. Hierdie inligting moet die diere se oorsprong bevestig en ooreenstem met die verklaring wat by die plek van oorsprong uitgereik is. 

Kenners se menings 

Volgens ‘n afslaer in die Vrystaat, wat verkies om anoniem te bly, is die gesondheidsondersoek op die plaas, vóór die diere gelaai word, van die uiterste belang. By sommige veilings kan 600 tot 1 000 diere op die oggend van die veiling afgelaai word, soos wat die geval was by die Bloemfontein-veiling wat hier te sprake is. Dit is fisies onmoontlik om alle diere te bek voor hulle in die skoon area toegelaat word. Daarom doen hulle steekproewe, en sal byvoorbeeld 20 uit ‘n groep van 100 kalwers se bekke oopmaak om vir letsels te soek. Uit die aard van die saak word al die diere dopgehou vir ander fisiese simptome soos kwyl en mankheid.  

In KwaZulu-Natal, het ‘n veearts aan Plaas Media gesê, is dit verpligtend in daardie provinsie dat elke enkele dier gebek word voordat die diere by die veiling van ‘n vragmotor afklim, ongeag die hoeveelheid diere wat aankom. Volgens dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk, sou dit belangrik wees om te weet of die letsels in die betrokke diere in die Bloemfontein-voorval, ou letsels was of tekens van ‘n nuwe uitbreking is. Die feit dat die letsels van tien van die 12 koeie ‘n week later gesond was, kan een van twee verklarings hê: Die eerste is dat dit ou letsels is en dat die diere weer gesond is. Die tweede is egter dat dit moontlik níé BEK is nie, maar dat die letsels ‘n ander oorsaak gehad het.  

Myburgh sê dat hy voortaan slegs gesondheidsertifikate sal aanvaar wat deur ‘n veearts uitgereik is vir diere wat op sy veilings aangebied word. Hy het ook reeds sy infrastruktuur só met ekstra drukgange verander, dat elke enkele dier wat sy perseel betree, voortaan gebek sal word. – Izak Hofmeyr en Christal-Lize Muller, Plaas Media. 

Dinamika en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse lusernhooibedryf: Produsentepryse (Deel 4)

Estimated reading time: 7 minutes Vorige artikels in hierdie reeks het gefokus op aspekte soos...

Mosdene Borans make their mark

Estimated reading time: 7 minutes When the bid closed on R2 million for the Boran...

FMD in dairies: Centrifuging fact from fiction

Estimated reading time: 6 minutes Where FMD is present, milk must be pasteurised before sale....

Om te boer in ’n wêreld sonder diesel

Estimated reading time: 4 minutes Suid-Afrika se top skaapprodusent, Richard Armstrong, het onlangs in die...