Die BEK-pad is nié besaai met rose nie

Estimated reading time: 4 minutes

’n Studie in hoe om dit níé te doen nie. Dit is hoe Nick Serfontein die staat se hantering van die bek-en-klouseer (BEK)-uitbreking tydens ’n inligtingsdag by Kroon Boma buite Kroonstad beskryf het.

Serfontein, voorsitter van die Sernick Groep en bekende Bonsmara-stoetteler, het die dag gereël en vier sprekers genooi om perspektief aan die situasie te gee. Eerste aan die woord was dr Corné Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, wat ’n internasionale en plaaslike politieke perspektief gegee het. Hy is gevolg deur Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, wat perspektief rondom die regsgeding teen die minister en Departement van Landbou gegee het.

Daarna het drs Shaun Morris en Danie Odendaal, twee veeartse wat van die begin af in die voorste loopgrawe teen die uitbreking geveg het, die gebeure wat tot die uitbreking gelei het in perspektief geplaas en die pad vorentoe bespreek.

Hierdie ramp, was die konsensus, kan direk aan onbevoegdheid en nalatigheid deur amptenare in die Nasionale Departement van Landbou toegeskryf word.

’n Gebreekte stelsel

Die stelsel werk nie en die departement moet daarvoor pa staan, het dr Morris gesê. Wat veral ’n skreiende skande is, is hoewel Suid-Afrika wêreldleiers op die gebied van BEK het, die departement hulle bloot geïgnoreer het.

Hy het wel spesifieke erkenning gegee aan die Vrystaatse Staatsveeartsenydienste wat proaktief probeer optree, veral ten opsigte van die bedreiging wat BEK vir siektevrye buffeltroppe in die provinsie inhou. Buffels, het hy beklemtoon, is R65 miljard werd en as BEK-vrye buffels besmet sou word, is dit die einde van die pad vir die bedryf.

Die feit is, het hy gesê, dat Suid-Afrika sy BEK-vry status verloor het, terwyl wetgewing wat op die bestuur van die siekte betrekking het, vir BEK-vrye omstandighede geskryf is. Dit is dus onvanpas vir die heersende omstandighede.

’n Verdere frustrasie is dat verskeie verslae en aanbevelings deur kundiges geformuleer is om die ramp die hoof te bied, maar dat dit alles geïgnoreer is. “Die reëls en regulasies waaronder produsente gebuk gaan, is drakonies en daarop gemik om hulle besighede te vernietig. Daar is byvoorbeeld geen logiese basis vir jaar-lange kwarantyn nie. So ook nie om melk dubbel te pasteuriseer nie.”

Kyk ‘n mens na die vordering wat rondom die verstaan en bekamping van die siekte gemaak is, het hy afgesluit, kan dit direk aan die insette van die privaatsektor toegeskryf word. En die privaatsektor sal aanhou, ten spyte van die staat se onbeholpenheid.

’n Plan van aksie

Dr Odendaal het sy praatjie afgeskop deur te beklemtoon dat die BEK-ramp verhoed kon word. As privaatveearts en stigter van Veearts Netwerk, kon hy vroeg al sien watter ramp die land in die gesig staar. Die fout wat hy egter gemaak het, sê hy, was om te glo dat die staat sy verpligting sou nakom om die siekte te bekamp.

Met die agteruitgang van die veeartsenykundige navorsingsinstituut by Onderstepoort, insluitend Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), het die privaatsektor daardie funksies feitlik ten volle oorgeneem. Die sektor vervaardig nou omtrent 95% van alle entstowwe wat eens by OBP vervaardig is. Dit is ten spyte van die staat en die Landbounavorsingsraad (LNR) se teenkanting teen die vervaardiging van entstowwe onder lisensie deur privaatlaboratoriums.

Dit is dus duidelik, het dr Odendaal beklemtoon, dat daar nie op die staat gereken kan word nie en dat die privaatsektor dinge self sal moet doen. Parallelle strukture moet in plek gestel word om die staat se funksies uit te voer.

Voorbereiding vir toediening

Daar sal na verwagting 12 miljoen dosisse entstof teen einde Mei in die land wees. Sy rol, het hy gesê, is om veeartse daarop voor te berei, want hoe moet daardie 12 miljoen dosisse doeltreffend versprei en toegedien word? Dit sal die privaatsektor se werk wees.

Dit is hier waar Veearts Netwerk tot sy reg kom, met ’n netwerk van veeartse regoor die land wat maandeliks verslae indien van watter siektes hulle in hul praktyke waarneem. Dan is daar ook privaatinstansies nodig wat entstowwe kan vervaardig sodat die siektetendense wat deur Veearts Netwerk geïdentifiseer word, betyds aangespreek kan word. 

Veearts Netwerk beskik oor ’n databasis van Suid-Afrika se veeprodusente wat gebruik kan word vir die doeltreffende verspreiding van beskikbare entstof. Hierdie databasis kan ook vir internasionale enstofvervaardigers as waarborg dien dat die entstowwe wat hulle vervaardig, wel gebruik word. Deelnemende veeartse sal ook inligting aan die staat kan verskaf indien hulle dit vereis, want die rekords sal deel wees van die veeartspraktyke se databasisse.

Dit laat die staat toe om te fokus op diere wat op kommunale en munisipale gronde wei, want dit is juis laasgenoemde wat die grootste probleem veroorsaak.

Volgens dr Odendaal wat die uitdaging tot nou toe, om die aansoekvorms vir die ontvangs van entstowwe te vereenvoudig en elektronies beskikbaar te stel.

Wees gereed en gerat

Die kort en die lank daarvan, het hy afgesluit, is dat die staat nie al die entstowwe wat teen einde Mei verwag word, sal kan hanteer nie. Dit is dus belangrik dat die privaatsektor gereed moet wees om te help met die berging en verspreiding van die entstof. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Related

Absa Beesarena: Biosekuriteit bly ’n prioriteit by Swartlandskou 

Estimated reading time: 2 minutesDie Absa Beesarena by Swartlandskou is vanjaar weer een van die groot trekpleisters vir beesprodusente, telers en landbou-entoesiaste. Met nege beesrasse wat vanjaar deel vorm...

The ARC Beef Performers Awards 2026: Honouring excellence and progress

Estimated reading time: 4 minutesOn 26 November 2026, the Agricultural Research Council's Beef Cattle Improvement Scheme, in collaboration with the National Department of Agriculture,...

Brangus SA bring hulde aan rolspelers, raadslede en die toekoms

Estimated reading time: 6 minutesOndanks uitdagings wat die bedryf in die gesig staar, bly die Brangus-beestelersgenootskap dinamies, vooruitstrewend en gesond. Dit was die duidelike...