Estimated reading time: 6 minutes
Ondanks uitdagings wat die bedryf in die gesig staar, bly die Brangus-beestelersgenootskap dinamies, vooruitstrewend en gesond. Dit was die duidelike boodskap tydens die genootskap se algemene jaarvergadering (AJV), wat by die Afridome in Parys gehou is. Verskeie belangrike kwessies in die beesbedryf het onder die loep gekom gedurende die vergadering. Dit is gevolg deur ’n galadinee, waartydens uitmuntende rasprestasies gevier is en prestasietoekennings aan verdienstelike telers oorhandig is.
Telerstoekennings en nuwe raadslede
Dié genootskap se Teler van die Jaar 2026-toekenning is aan Leonard Roberts van Kwaggas Brangus oorhandig. Hy het ook die Kleinkudde Teler van die Jaar 2026-toekenning ontvang. Jimmy Roberts van Triangle Farms is aangewys as die Medium-kudde Teler van die Jaar 2026, terwyl die Grootkudde Teler van die Jaar 2026 aan RC Malherbe van Roechama Brangus toegeken is.
Volgens Pieter Swart, voormalige president en raadslid van spesiale projekte, is dit belangrik dat die genootskap sy lede vir hul toewyding, harde werk en prestasies vereer. Hy sê dit is veral bemoedigend dat al drie die ontvangers van die klein-, medium en grootkudde-toekennings, asook die Teler van die Jaar, jong produsente is. “Dit wys duidelik dat die genootskap diepte het, gesond is en dat sy lede hulle goed van hul taak kwyt,” sê hy. Die nuwe raad vir 2026 is tydens die AJV verkies en by die dinee bekendgestel.
Kosie Smith en Francois Scholtz behou hul posisies as president en vise-president onderskeidelik. Twee nuwe raadslede is verkies, naamlik Martin Campher wat die leisels by Roy Unsworth oorneem, en De Wet Booysen wat Johan Blomerus opvolg. Unsworth en Blomerus se termyne op die raad het verstryk. Die ander raadslede, Myburgh Wessels, Gerald Fletcher, Pieter Swart, Jimmy Roberts en Delwyn Roberts, behou hul posisies. Volgens Jimmy Roberts, raadslid vir opleiding en keuring, is die feit dat twee nuwe raadslede nou op die raad dien ’n positiewe verwikkeling vir die genootskap, aangesien dit die tafel dek vir nuwe idees en insigte.
Nuwe projekte en internasionale insigte
Roberts sê verskeie nuwe projekte is ook in die beplanning en sal na verwagting volgende jaar afskop. Die genootskap het ’n bestaande speenkalfprojek waarop hulle baie trots is en waarin die prestasie van Brangus-speenkalwers onder voerkraaltoestande geëvalueer word. ’n Voerkraal waar Brangusse gevoer word, is geïdentifiseer en aspekte soos voeromset word akkuraat gemeet. “Ons wil die Brangus bevorder deur te wys dat ons ’n goeie speenkalf aan die kommersiële produsent kan verskaf,” sê hy. Dit is duidelik dat kleiner Brangus-kalwers steeds in gesogte speenkalwers ontwikkel. Die resultate van die projek sal later bekendgemaak word.
Roberts sê ook dat die genootskap beplan om iewers tussen Maart en April volgende jaar ’n nasionale verseveiling aan te bied. Dit sal apart van die bestaande nasionale veiling, wat jaarliks ’n hoogtepunt op die veilingkalender is, aangebied word. Die beoogde nasionale vroulike veiling het ten doel om genetika tussen telers uit te ruil, aangesien die aantal diere te groot sou wees indien dit deel van die jaarlikse nasionale veiling was. Deurlopende genomiese toetse en prestasietoetsing is ander projekte waaroor die genootskap opgewonde is.
Roberts verwys ook na die Brangus Global Exchange-projek vroeër vanjaar wat ’n reuse-sukses was. Verteenwoordigers van die Brangus-beestelersgenootskappe in Suid-Amerikaanse lande soos Argentinië, Uruguay, Paraguay, Brasilië en Peru, het hul eweknieë in Suid-Afrika besoek. Tydens die besoek is waardevolle insigte en beste praktyke rakende bestuur, keuringsisteme, genetika, boerderybestuur en bemarking uitgeruil.
Gehalte en genetika verbeter
Roberts sê Brangus-telers het die uitbreking van bek-en-klouseer (BEK) goed hanteer en kon steeds hul produksieveilings aanbied. Die gemiddelde pryse op produksieveilings styg, met meer bulle wat verkoop word en al hoe meer diere wat die mark betree. Terselfdertyd verbeter die gehalte van die diere. Volgens hom bevestig die veilingsresultate dat die gehalte van Brangus-diere deurgaans hoog bly. Daar is ’n groot aanvraag na Brangusse en die ras verbeter deurlopend. Ondanks uitdagings soos BEK en die daaglikse druk van ’n boerdery, bly Brangus-telers gemotiveerd en behou ’n positiewe ingesteldheid.
Telers toon toenemend belangstelling in genetiese verbetering en ondersoek onder meer kunsmatige inseminasie (KI), embriospoeling en die verkryging van beter bulgenetika. Daar is noue samewerking tussen telers op hierdie gebied, terwyl die vraag na Brangus-genetika van buite die ras ook toeneem. Kommersiële produsente toon selfs belangstelling om embrio’s met Brangus-genetika te spoel om hul eie kuddes geneties te verbeter.
Die genootskap bied aan sy telers ook toegang tot internasionale genetika. Bulle wat in Amerika beskikbaar is, word geïdentifiseer en semen word van geselekteerde diere na Suid-Afrika ingevoer, wat ’n groot geleentheid aan die genootskap se telers bied.
Opleiding bly belangrik
Roberts sê opleiding is ook ’n belangrike fokuspunt. Die klubs binne die genootskap bied jaarliks opleidingsdae aan. Daar word ook een keer per jaar ’n groter opleidingsdag aangebied, met junior- en senior-kursusse, asook ’n kursus vir beginners. Verlede jaar se opleidingsdag was baie suksesvol, met veral ’n goeie opkoms van kommersiële produsente.
Hy moedig produsente aan om die volgende opleidingsdag, wat in die eerste week van Februarie volgende jaar in Greylingstad, Mpumalanga, aangebied word, by te woon. Hierdie dag is beslis die moeite werd aangesien waardevolle kennis gedeel word waarby enige boerdery kan baat.
Ander toekennings
Ander telers en rolspelers wat tydens die dinee vir hul toewyding en harde werk vereer is, sluit in:
- Kleinkudde met die beste tussenkalfperiode (TKP) van onder 400 dae: Arthur Hellberg van AK Brangus.
- Medium-kudde met die beste TKP onder 400 dae: Schabort Froneman van Froneland Brangus.
- Grootkudde met die beste TKP onder 400 dae: Martin Campher van Keeversfontein.
Die Vyfster-volledigheidstoekenning is aan André van der Merwe van Wouman Brangus, Francois Scholtz van Beswil Brangus, Christopher Sparks van Mount Olive en Riaan Hagendijk van Goedgenoeg Boerdery oorhandig. ’n Spesiale dienstetoekenning vir Brangus SA is vanjaar aan George Gibbens van George Gibbens Brangus oorhandig.
Nog toekennings wat tydens die geleentheid gemaak is, sluit in:
- Klub met die beste gemiddelde tussenkalfperiode 2026: KwaZulu-Natal.
- Beste produksieveiling van die jaar 2025: UBG.
- Beste klubveiling van die jaar 2025: Sentraal.
- Breedplan bul van die jaar 2026: RCM 23272, geteel deur RC Malherbe van Roechama Brangus.
- Brangus nasionale skou– Opperste Kampioenkoei 2026: RCM 17201 geteel deur RC Malherbe van Roechama Brangus.
- Brangus nasionale skou – Opperste Kampioenbul 2026: RCM 2283, geteel deur RC Malherbe van Roechama Brangus
- Jong Stoet van die Jaar 2026: Duncan Watson van JOC Brangus.
Vir meer inligting stuur ’n epos na admin@brangus.org.za of besoek die Brangus-beestelersgenootskap se webtuiste by https://brangus.org.za. – Christal-Lize Muller, Plaas Media


