RPO Noordwes-jaarkongres: Die ware BEK-prentjie

Estimated reading time: 6 minutes

Bek-en-klouseer (BEK) en die uitdagings wat daarmee gepaardgaan, was die hoof besprekingspunt tydens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Noordwes se jaarkongres in Klerksdorp. Volgens Nico Kilian, voorsitter van RPO Noordwes, vaar die bedryf onder die omstandighede goed, veral met beespryse wat sedert einde November gestyg het.

Tog heers daar mismoedigheid en negatiwiteit oor voortslepende BEK-uitbrekings en beperkte entstofvoorsiening aan die provinsie, wat tot dusver net sowat 6% van die ingevoerde dosisse ontvang het.

LEES MEER: BEK by Bloem-veilingskraal.

Kilian het gesê die kwessie is reeds met die BEK-bedryfskoördineringsraad, landbouminister John Steenhuisen, en die ministeriële taakspan vir beheerde siektes opgeneem. Die probleem is dat min bloedtoetse van siek diere gedoen word, aangesien die uitslae te lank neem. Die gevolg is min positiewe BEK-toetsings in Noordwes, wat nasionale entstoftoewysings benadeel, aangesien laasgenoemde op grond van dié data bepaal word.

BEK in Noordwes

Volgens Kilian was daar tot onlangs 238 bevestigde BEK-gevalle (positiewe toetsuitslae) in Noordwes. “Die waarheid is egter dat talle plase in distrikte soos Potchefstroom, Ventersdorp, Lichtenburg en Coligny gevalle aangemeld het. In Lichtenburg alleen is daar meer as 140 plase, maar slegs tien positiewe toetsuitslae op papier. Kyk ‘n mens slegs na statistieke, lyk dit op die oog af nie te ernstig nie. Die werklikheid op grondvlak is egter die teenoorgestelde.”

Kilian het gesê daar word op hoë vlak gepleit dat verdagte gevalle ook ondersoek moet word vir ‘n meer akkurate prentjie. Hy het ook gewys op staatsveeartse wat oorlaai is met inentingswerk, streng protokolle en personeel- en beplanningsuitdagings. Dit veroorsaak dat nie alle uitbrekings bereik word nie.

Dit alles dra daartoe by dat Noordwes onvoldoende hoeveelhede entstof ontvang om inenting en die beperking van siekteverspreiding doeltreffend te hanteer.

Aanmelding van siek diere

Kilian het ook gesê produsente meld dikwels nié vermoedelike BEK-uitbrekings aan nie, uit vrees vir kwarantyn. In hierdie opsig het protokolle verander, maar was ten tyde van die kongres nog nie afgekondig nie. Vorige protokolle geld dus steeds (kwarantyn van tot 12 maande), hoewel dit na tussen drie en ses maande verkort is.

Die wagtydperk en hoë behandelingskoste vir sekondêre BEK-komplikasies ontmoedig ook aanmelding, maar dit bly nietemin noodsaaklik vir akkurate data. Bewegingsprotokolle is reeds aangekondig, maar dit is moeilik om permitte (‘n verpligte proses) te verkry om diere oor provinsiale grense te vervoer. ’n Groot uitdaging is die vervoer van beeste na veral laerrisikogebiede soos die Noord-Kaap. Rolspelers daar is baie strenger as dié in die binneland.

Kilian het gesê die Artikel 10-skema neem lank om goedgekeur te word en staatsbeheer beperk inenting tot goedgekeurde privaatveeartse. Produsente is egter daartoe in staat om self hul diere in te ent en doen dit lankal om byvoorbeeld beesbrusellose, nog ’n staatsbeheerde siekte, te voorkom. Dit is noodsaaklik dat hierdie bevoegdheid tot op produsentevlak afgewentel word.

Hy het gewaarsku dat die staat nie genoeg personeel sal hê wanneer meer entstof beskikbaar raak nie, en dat entstowwe onbenut in koelkamers sal bly staan. Boonop word entstowwe tans volgens protokol slegs in fokusgebiede soos melkplase, voerkrale, binne ’n radius van 3 tot 5km rondom plase met buffels, en die informele sektor waar loslopende diere beweeg, toegedien. Die gevolg is dat kommersiële produsente steeds nie entstof ontvang nie, wat frustrasie en wantroue verhoog.

Entstofstrategie onder druk

Volgens dr Peter Evans, hoofveearts van Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) se operasionele sentrum en ‘n lid van die ministeriële taakspan, bestaan die taakspan uit 14 privaat- en tien staatslede, insluitend viroloë, navorsers en kundiges uit die voerkraal- en melkbedryf. Hierdie rolspelers verteenwoordig nie hul onderskeie bedryfsorganisasies nie, maar is vir hul kennis en ervaring in ’n komplekse landbou-omgewing aangestel.

Dr Evans het gesê een van die leemtes is dat daar, weens staatsprosedures, nie gereeld en genoeg gekommunikeer word nie. Dit skep die indruk dat die taakspan onaktief is, terwyl hulle eintlik intensief aan die werk is, veral in entstof-, navorsings- en adviesgroepe wat die Nasionale Departement van Landbou ondersteun.

Sommige lede ervaar wel frustrasie omdat hulle aanbevelings nie altyd vinnig of volledig toegepas word nie; algemene vordering is egter positief. ’n Voorbeeld is ‘n wetenskaplik-gebaseerde plan van waar entstowwe aangewend moet word en watter risikogebiede bestaan. Die huidige uitrol van entstowwe kan dus op ’n wetenskaplike basis geregverdig word.

Beperkte entstofvoorrade word op grond van risikogebiede versprei, wat dit ’n uitdagende proses maak. Dit beteken egter nie dat sekere provinsies bevoordeel word nie. Hy meen die uitdaging is dat betroubare data ontbreek – data moet akkuraat aandui waar gevalle voorkom en waar onderrapportering plaasvind, weerspieël dit nie die werklike situasie nie.

Dr Evans het gesê vooruitgang vereis ’n sterk vennootskap tussen verkoper en koper, veral wat diere se gesondheidstatus betref. Verkopers behoort diere 28 dae voor verkoop in kwarantyn te plaas en kopers moet streng biosekuriteit toepas en nuwe diere eers afsonderlik hou, totdat hulle siektevry bevestig is.

Streng entstofvereistes

Een van die grootste frustrasies vir die meeste rolspelers is dat dit so lank geneem het om entstowwe in Suid-Afrika te kry, en dat daar steeds ’n tekort is. Hy het egter verduidelik dat streng prosesse gevolg moet word om te verseker dat entstof doeltreffend en veilig is.

Die taakspan se entstofgroep moet sowat 20 faktore en eienskappe in ag geneem. Dit sluit onder meer in dat die entstof die korrekte virusstam moet bevat om doeltreffend te wees, en dat die virus geïnaktiveer moet wees om verdere verspreiding te voorkom. ‘n Teikenprodukprofiel (TPP) is ontwikkel om te bepaal watter entstowwe wêreldwyd vir Suid-Afrika geskik is. Daar is sewe stamme van die BEK-virus: vier behoort tot die Asië-groep, terwyl drie (SAT-1, -2 en -3) in Suid-Afrika voorkom.

Talle vervaardigers maak entstowwe vir die Asië-stamme; daarom moes Suid-Afrika vennote identifiseer wat entstowwe vir die plaaslike SAT-stamme kan ontwikkel. Dit moet ook geskik wees vir plaaslike toestande en ’n sterk immuunrespons ontlok. Die tegniese proses het redelik vinnig gevorder, maar stadige regeringsprosesse soos permitte en streng risikobestuur het tyd geneem. Die oliegebaseerde entstowwe wat uit Argentinië en Turkye ingevoer word, sal waarskynlik goed in Suid-Afrika presteer, aangesien dit aan die TPP-vereistes voldoen.

Watergebaseerde entstof uit Botswana word ook dringend hersien nadat die fabriek weer operasioneel geword het. Uiteindelik is entstof egter net een aspek van die ‘gereedskapkis’, het hy gesê. Produsente moet ook biosekuriteit toepas om die gesondheidstatus van hul kuddes te beskerm, of hul diere ingeënt is of nie.

Immuniteit neem tyd

Entstof beskerm diere hoofsaaklik teen ernstige kliniese siektetekens. Nes griepentstowwe by mense, wat nie altyd perfek ooreenstem met nuwe stamme nie, kan ingeënte diere steeds besmet raak. Hulle sal minder ernstige siektetekens toon, maar kan steeds die virus versprei.

’n Dier se volle immuunreaksie ná ’n eerste dosis ontwikkel gewoonlik binne 14 tot 21 dae en vereis ’n skraagdosis. Dit beteken dat ’n dier wat vandag ingeënt word, vir minstens drie weke nog nie ten volle beskerm is nie. Produsente moet hierdie realiteite verstaan en hul benadering aanpas. Hoewel die situasie uitdagend is, beteken dit nie dat handel gestaak moet word nie. Dit vereis egter nuwe praktyke en groter waaksaamheid. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Nico Kilian by nmkilian@lantic.net

Related

Glaring lack of industry contributions in gazetted FMD vaccination scheme

Estimated reading time: 7 minutes The final Section 10 Routine Vaccination Scheme for Foot and Mouth Disease (FMD) was published in the Government Gazette on...

Wysiging van wingerdstokke se DNS kan weerstand teen siektes, droogte verhoog...

Wingerdstok geenredigering skakel ’n enkele geen ‘af’: ’n Plantbiotegnologie mylpaal in Afrika Estimated reading time: 8 minutes Die DNS van ’n stokkerige gewas is vir die...

Die jong bul in die perdetrop: Oor leiers met voete van...

Estimated reading time: 11 minutes Dié van julle wat my ken sal weet dat ek nie ‘n oggendmens is nie. Ek verkies om laataand te...