Die jong bul in die perdetrop: Oor leiers met voete van klei, die bakkiebrigade en volgelingsversaking

Share This Post

Estimated reading time: 11 minutes

Dié van julle wat my ken sal weet dat ek nie ‘n oggendmens is nie. Ek verkies om laataand te werk en my oggende rustig af te skop met ‘n koppie koffie en dinktyd. Van die waardevolste gewaarwordinge in my lewe het saam met die eerste oggendlig op die horison verskyn – en nie in die kantoor nie, maar op die plaas.

Een so ‘n helder oomblik was terwyl ons met ‘n roetine-taak besig was – om die perde teen sonop in die veld te gaan haal. Op ‘n perdeplaas is dit meer as net ‘n werkie; dis ‘n daaglikse ritueel. Die perde bly snags in die veld en word soggens werf toe gebring waar hulle gevoer en versorg word, voordat die afrigting en oefensessies begin. Dit is werklik ‘n voorreg om te sien hoe hierdie diere vroegoggend speel en dan te aanskou hoe rou potensiaal in krag, dissipline en prestasie omskep word.

Die dwarstrekker

Op hierdie spesifieke oggend het iets besonders gebeur. ‘n Jong bul het iewers sy lyne gekruis en tussen die jong perde in die ‘tienergroep’ beland. Hy het homself goed tuisgemaak en toe heel gemaklik saam met hulle begin stap. Alles was op die oog af rustig en dit het behoorlik gelyk asof hy daar hoort. Terwyl ons egter die perde na die opstal begin lei, het bulletjie besluit hy is nie lus vir die nuwe rigting wat nou ingeslaan word nie. Hy het kop omgeswaai en sy eie rigting ingeslaan – heeltemal uit koers.

Ons toe speel ‘n nog vreemder scenario hom af. Die tieners besluit om hom te volg. Pleks daarvan om die by die trop te bly en oor ‘n klein rukkie die luukse van kos, versorging en afrigting te geniet, kies hulle koers agter die dwarstrekker aan. Hy het natuurlik geen benul gehad van waarheen hy op pad was nie, maar hulle het hom nietemin gevolg, al het hy die stelsel verontagsaam.

Dit was omtrent ‘n gespook om die spul jong perde weg van die verwaande bul en weer op koers te kry. En so midde in die gesukkel tref dit my – ons praat so maklik en gereeld oor leierskap wat faal, maar ons praat bitter min, indien nooit, oor volgelingsversaking.

Gesprekke oor bestuur en leierskap fokus gewoonlik op hoe leiers faal – hoe daar ‘n tekort aan sterk leiers is, hoe waagmoed ontbreek, en hoe besluitnemingsvermoë ‘n rare verskynsel word. Ons praat egter min oor die ander kant van die munt – wanneer volgelinge faal.

Daardie jong perde was geensins gedwing om die bulletjie te volg nie. Dit was hulle keuse om agter ‘n ‘leier’ aan te galop wat waarskynlik nie omgegee het wat hulle doel en eindbestemming is nie. Hy kon hulle nie lei na waar hulle moes wees nie. Uiteindelik het hy hulle bloot weggesleur van wat potensieel hulle beste opsie was.

Hierdie verhaal het dus nie met swak leierskap te doen nie. Dis eerder ‘n storie oor misplaaste vertroue.

Die bakkiebrigade: Ons eie valse profete

Elke sektor waarin ek al gewerk het – landbou, opvoeding, versekering en ondersteuningsdienste – het sy eie weergawe van die sogenaamde bakkiebrigade gehad. Dis nou die drywers (ek wil hulle nie bestuurders noem nie) wat:

  • Met ‘n bakkie en selfoon opdaag.
  • Gevestigde spelers ondermyn.
  • Vinnige oplossings beloof.
  • Teenstrydige resultate lewer.
  • En soos mis voor die son verdwyn wanneer verantwoording gedoen moet word.

Hulle maak geraas, maar ontsluit geen waarde nie. Hulle is sigbaar, maar het niks om die lyf nie.

In die georganiseerde landbou of ondersteuningsomgewing neem hierdie brigade dieselfde gevaarlike vorm aan as in ander bedrywe. Dit kry net ‘n ander gestalte. Die bakkiebrigade-weergawe van ‘n verteenwoordigende produsente-organisasie of georganiseerde liggaam vereis net ‘n paar stukkies gereedskap:

  • ‘n Facebook-blad.
  • ‘n Twitter (nou X)-profiel.
  • ‘n YouTube-opname of twee.
  • ‘n Webblad.
  • ‘n Persoonlikheid met ‘n mikrofoon en ‘n grief of drie.

Hulle is eintlik maar die moderne ekwivalent van die valse profete wat in die Bybel beskryf word. Daar is weliswaar ‘n baie groot verskil tussen ‘n produsente-verteenwoordiger en om produsente te verteenwoordig. Een van die duidelikste tekens dat ‘n organisasie boere bloot verteenwoordig teenoor ‘n verteenwoordiger met ‘n mandaat, is die alewige beskuldiging dat georganiseerde landbou nie sy lede behoorlik verteenwoordig nie.

Valse-profeet kategorieë

Die akademikus in my is alewig besig om boksies te bou sodat ek dinge beter kan verstaan, en hierdie is een daarvan. Die Bybel beskryf verskillende tipes valse profete, elkeen uniek maar almal in staat om mense van koers af te kry.

1. Doelbewuste swendelaars – Hulle is willens en wetens daarop uit om die waarheid te verdraai vir eie gewin, of dit nou geld, mag of invloed is.

2. Stemme van selfbedrog – Hierdie profete het dalk goeie bedoelings, maar dis nie noodwendig in die waarheid gegrond nie.

3. Konsensusbouers – Dis mense wat vir ander vertel presies wat hulle wil hoor en sodoende vals eenstemmigheid skep.

4. Stokers van alternatiewe waarhede – Hulle verskuif die fondasie en vervang waarheid met emosie, ideologie of die veinsing van identiteit.

5. Verhoogleiers – Hulle maak staat op sigbaarheid, drama en skouspel eerder as waarde.

6. Subtiele verdraaiers – Hulle orkestreer stelselmatig klein afwykings wat mettertyd ‘n berg word.

Hierdie persoonlikhede was in die Bybelse tye al aktief en is vandag nog net so besig. Hulle is springlewendig en gevaarlik, want vandag het hulle boonop moderne kommunikasiemiddels om hulle missie te ondersteun.

Maar waarom word boere volgelinge?

Ja, dit is uiteindelik die olifant op die solder; die gorilla in die vertrek; die ongemaklike vraag – veral onder ons wat leierskapposisies in die landbou aanvaar het. Is dit ons leierskap wat faal? (Dis belangrik om nederig te bly en onsself hierdie vraag af te vra.)

Waarom het die jong perde besluit om die bulletjie te volg? Waarom volg mense stemme wat hulle van waarde beroof? Daar is ‘n paar tipiese, deurlopende tendense wat hierdie verskynsel bevestig.

  • Sekerheid in ‘n ingewikkelde wêreld: Die werklikheid is kompleks, maar valse profete bied eenvoudige antwoorde.
  • Gerief klop waarheid: Hulle sê die dinge wat mense graag wil hoor:

“Daar’s ‘n maklike oplossing” – as die regering maar net sy werk doen. Dis waar ja, maar dis nie so eenvoudig en maklik nie.

“Ons sal vir jou veg” – ons sal die regering dagvaar, maar is opsigtelik afwesig in die strukture wat agter die skerms swoeg en nie die glanswerkies verrig nie.

“Jy is reg; dis iemand anders se skuld” – dis so maklik om te vergeet van die balans tussen individuele verteenwoordiging en kollektiewe verantwoordelikheid.

  • Identiteit en samehorigheid – Hulle skep ‘n sterk gevoel van “dis ons teen hulle”.
  • Selfvertroue wat lyk soos bekwaamheid – Waagmoed word dikwels met geloofwaardigheid verwar. Een van my gunstelinge is om die regering op die regte tydstip te dagvaar vir iets waaraan die georganiseerde landbou al ‘n geruime tyd werk – want dan kan die valse profeet kleim lê op die resultate.
  • Spoed en sigbaarheid – Hulle reageer vinnig, luid en sigbaar terwyl die harde werk eintlik tyd vat en nie oornag kan gebeur nie.
  • Swak verantwoordbaarheid – Daar is nie juis gevolge as die profeet die dag verkeerd bewys is nie.

Só maak landbou se bakkiebrigade

Hierdie akteurs raak toenemend sigbaar in die georganiseerde landbou. Die bakkiebrigade is die groep wat verteenwoordigingsgesag wil hê sonder die dissipline wat met die opbou van ‘n instelling gepaard gaan. Die landbou moet toenemend ook nog die aktivis-weergawes van hierdie brigade in die gesig staar: ‘n sosiale media-profiel, ‘n vereenvoudigde storie en reputasie-aanvalle wat min agting het vir die werklikhede wat met landbouproduksie gepaard gaan. Albei groeperinge reageer vinnig, sigbaar en ontwrigtend. Nie een bied egter ‘n alternatief wat ernstige, geloofwaardige, langtermyn verteenwoordiging verseker nie.

Hoewel hulle geen mandaat het nie, maak hulle aanspraak daarop dat hulle namens produsente praat. Daar is geen gestruktureerde vergaderings, beleidstandpunte, verkiesingskongresse of beleidsvergaderings nie. En daar is beslis geen deursigtigheid en finansiële state nie.

Hulle aanvalsretoriek beskryf gevestigde organisasies as te stadig, te polities, onder verdenking. Hulle maak komplekse beleidsaangeleenthede af as emosionele retoriek. Hulle is uiters aktief in krisistye, maar skitter in hul afwesigheid wanneer lang en moeilike besluitnemingsprosesse deurgevoer moet word.

Hulle prioritiseer sigbaarheid oor invloed, reaksie oor strategie, emosie oor bewyse. Hulle gebruik dikwels sosiale media om stellings uit te basuin, selektiewe inligting te deel en ‘n persoonlikheid as handelsmerk te bevorder eerder as om institusionele geloofwaardigheid voor te staan.

En seker die heel belangrikste kenmerk: Hulle sing uit volle bors in die sonlig, maar is nêrens in die loopgrawe te vinde nie. Jy sal hulle nie vind in beleidsessies of tegniese gesprekvoering met regulatoriese owerhede en regeringsdepartemente nie. Jy sal hulle nog minder vind in laatnag onderhandelingsessies of sien moue oprol om te help met die langsame prosesse wat konsensus help bou. Daar waar die kameras is – daar sal jy hulle vind. Voor in die koor op sosiale media waar hulle die eer vat vir oorwinnings wat op ander se werk geskoei is.

Die ware risiko: Vertrouensverbrokkeling

Die grootste gevaar lê nie in die feit dat hierdie akteurs bestaan nie, maar eerder in wat hulle aan legitieme (georganiseerde en verkose) instellings doen. Hulle ondermyn vertroue in wettige instellings deur hierdie instellings te kritiseer. Jy sal hulle egter nie by ‘n verkiesingskongres vind nie, juis omdat hulle portuurgroep voorheen iemand anders verkies het toe hulle voor ‘n keuse gestel is. Hulle saai verwarring onder boere deur te beweer dat hulle namens hulle veg. Hulle vat krediet vir die maklike lopies, maar sit nie om die sensitiewe onderhandelingstafel waar jy ander instellings tot jou lede se voordeel  moet beïnvloed nie. Hulle fragmenteer verteenwoordiging en verswak kollektiewe invloed.

Die bakkiebrigade se wapen is reaksie. ‘n Ware organisasie se wapen is verteenwoordiging.

Die bakkiebrigade huur sy gehoor. ‘n Ware organisasie bou invloed.

Die bakkiebrigade wen oomblikke. ‘n Ware organisasie wen grond.

Vra jouself af:

Waarom raak die verkose leiers van gevestigde organisasies wat direk by die aanspreek van produsente se probleme betrokke is, nie by dramatiese hofsake of aggressiewe mediaverklarings betrokke nie? Baklei hierdie organisasies dan nie daadwerklik ‘vir die saak’ nie?

By Graan SA kies ons byvoorbeeld om ‘n kultuur van respek en stille diplomasie te handhaaf. President Roosevelt het destyds gesê ‘n sagte woord gaan ver, maar ‘n stewige slaanstok moet altyd byderhand wees. Wees dus gemanierd en respekvol, maar tree met krag en daad op wanneer dit vereis word.

Graan SA, as die beliggaming van graanprodusente in Suid-Afrika, het onlangs ‘n aantal kompetisiekommissie-besluite en -boetes asook suksesvolle uitsprake teen die regering teweeg gebring. Die verskil is dat ons nie daaroor spog of dit publiseer nie, want ons respekteer deurgaans alle partye en poog deurlopend om sterker vennootskappe en invloed te vestig.

Wat moet ons dus doen?

Dis eenvoudig – die doel moet nie wees om ‘n geraas met nog meer lawaai te probeer platvee nie. Hoe lekker sal dit nie wees om in ‘n bekgeveg op sosiale media gewikkel te raak nie. (Ons het altyd na ‘n twar verwys voordat Elon Musk Twitter na X verander het. Nou is dit blykbaar ‘n X-spat.)

Hoe dit ook al sy, die krygsplan raak vinnig vergete wanneer ons herinner word aan die feit dat ‘n moddergeveg met ‘n vark eintlik net vir die vark lekker is. Die antwoord lê daarin om ware leierskap te versterk en ware organisasies te bou. Om ‘n ware en goeie leier te wees, moet jy ook ‘n uitstekende spanlid wees.

Kom ons bou aan die waarde wat verteenwoordiging bied. Verteenwoordigende produsente-organisasies moet hulself herinner dat werklike verteenwoordiging ‘n paar vereistes stel: ‘n mandaat, bewysstukke, verhoudings, konsekwentheid en uithouvermoë.

Ons moet ons oordeelsvermoë slyp en ontwikkel. Nie elke luide stem is noodwendig geloofwaardig nie. Derek Mathews herinner my gereeld dat dit nie help om op leë doppe te reageer nie. Boere in Noord-Afrika gebruik ‘n gesegde wat min of meer lui: die honde blaf, maar die karavaan bly beweeg. Toets die boodskap, die boodskapper se reputasie en wat hy of sy al bereik het – en hier praat ek nie van korttermyn veldslagte wat met dreigemente, geweld en verpletterde verhoudings gewen is nie. Ek verwys na die oorlog in geheel.

Gee erkenning aan waarde eerder as sigbaarheid. Ondersteun die mense in die loopgrawe – hulle wat die werk doen, altyd opdaag en oplossings bied, selfs al vat dit lank.

Bou en versterk institusionele vertroue aktief. ‘n Geloofwaardige organisasie moet beter kommunikeer, deursigtig wees en sy impak duidelik ten toon stel. Ek is self skuldig hieraan – daar is so baie om te doen en dis boonop nie in my aard om vir elke oorwinning partytjie te hou nie. Gewoonlik is die volgende krisis in elk geval alreeds op die voorstoep. Die bakkiebrigade is by uitstek meesters op hierdie gebied en die georganiseerde landbou sal beter moet doen.

Fokus op die tendens en nie die persoonlikheid nie. Verteenwoordiging moet nie gaan oor die individu nie, maar moet die herhalende dinamiek van stelsels kan raaksien. Dis ‘n geval van lae-koste lawaai versus hoë-gehalte waarde.

‘n Laaste opmerking

Daardie oggend op die plaas bly by my, nie as gevolg van die bulletjie of sy naïewe volgelinge nie. Dit is eerder ‘n blywende indruk oor hoe belangrik ‘n stelsel is – die heinings, die roetine, die hanteerders, die eindbestemming, en die vertrouensverhouding wat uiteindelik die trop werf toe bring. Landbou word toenemend met dieselfde keuses gekonfronteer.

Ons kan toelaat dat ‘n enkele harde stem, verbygaande grief of groot persoonlikheid met ‘n mikrofoon ons uitmekaar dryf. Of ons kan die moeiliker, belangriker werk doen om ons instellings te bou en die fondasies te versterk, sodat ons produsente kan bystaan om die kompleksiteite, krisisse en veranderinge van die tyd te navigeer. Sterk boere vereis sterk instellings. Sterk instellings bestaan uit aktiewe lede.

Enige sektor wat die argitek van sy eie toekoms wil wees, moet ‘n paar eenvoudige vrae stel. Hulle moet nie net wonder wie praat die hardste nie, maar eerder vasstel wie besit die mandaat, dissipline en uithouvermoë om die perde huis toe te bring. – Dr Tobias Doyer, Graan SA

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 17 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...