Die produksie van hoë-waarde sportperde

Estimated reading time: 6 minutes

  • Die teel van wêreldgehalte sportperde is ’n gespesialiseerde en hoogs tegniese bedryf. Een van die beste voorbeelde van so ’n onderneming in Suid-Afrika is die Callaho Warmbloedstoet in die Christiana-omgewing.
  • Callaho spits hom toenemend op die teel van veral springperde toe, omdat die grootste vraag na perde in daardie dissipline lê.
  • Die fondasie van die stoet, sê Tani Gerber, wat vir die teling en afrigting van die jong perde verantwoordelik is, was ’n groep ingevoerde merries uit die beste bloedlyne in Europa.
  • Die tipe perd waarvoor hulle selekteer is volgens Gerber ’n moderne, atletiese perd wat in staat is om die uitdagings van die moderne Olimpiese dissiplines te kan hanteer. Die moderne Warmbloed is vandag ver verwyder van die oorspronklike swaar koetsperde waaruit dit oorspronklik ontwikkel het.
  • Dit is vir die Callaho-span belangrik om die perde se loopbane te volg soos wat hulle in die verskillende dissiplines ontwikkel. Hul kliënte keer graag terug om nog van die atlete te koop.

Die teel van wêreldgehalte sportperde is ’n gespesialiseerde en hoogs tegniese bedryf. Een van die beste voorbeelde van so ’n onderneming in Suid-Afrika is die Callaho Warmbloedstoet in die Christiana-omgewing.

Ian Callender-Easby, ’n perde-entoesias en aartappelprodusent op die plaas, Vaallaagte, het saam met sy vrou, Vanessa, in 1999 besluit om Warmbloedperde te begin teel. Hulle eerste vullens het in 2003 aangekom en so is die Callaho Warmbloedstoet gebore.

Kenmerke van die stoet

Die fondasie van die stoet, sê Tani Gerber, wat vir die teling en afrigting van die jong perde verantwoordelik is, was ’n groep ingevoerde merries uit die beste bloedlyne in Europa. Die huidige merrietrop bestaan hoofsaaklik uit dogters van daardie oorpronklike ingevoerde merries. Die hingste wat gebruik word, is ook almal óf bewese vaars wat onder die beste in die wêreld tel, óf jong hingste wat wêreldklaspotensiaal toon.

“Ons het tans 95 teelmerries en ons teel ongeveer 70 vullens per jaar, waarvan sowat 50 jaarliks op ons twee produksieveilings onder die hamer kom. Hierdie vullens word almal hier op die plaas groot, op die soetveldweidings in die somer en aangeplante weidings in die winter. Ons vind dat vullens wat so vrylopend in die veld groot word, net soveel beter ontwikkel as perde wat nie toegang tot groot ruimtes het nie.”

Leer hoe om saalsere te vermy hier.

Die tipe perd waarvoor hulle selekteer is volgens Gerber ’n moderne, atletiese perd wat in staat is om die uitdagings van die moderne Olimpiese dissiplines te kan hanteer. Die moderne Warmbloed is vandag ver verwyder van die oorspronklike swaar koetsperde waaruit dit oorspronklik ontwikkel het.

“Die perde wat ons teel moet ’n natuurlike vermoë hê om vorentoe te gaan,” verduidelik sy, “maar terselfdertyd sensitief en gebalanseerd genoeg wees om op die boodskappe van die ruiter te reageer. Verder moet die perd mooi op die oog wees, want dit bly een van die grootste aantrekkingskragte vir enige koper.”

Die regte hings

Dit bly ’n uitdaging om die regte hings by die regte merrie te sit. “Ons probeer om van ’n groot verskeidenheid hingste gebruik te maak om te voldoen aan die verskeidenheid eise vanaf ons kliënte. Ons het tans ’n span hingste op die plaas wat almal ’n indrukwekkende stamboom van die beste bloedlyne in die wêreld het. Ons maak uitsluitlik van kunsmatige inseminasie gebruik om hierdie telingskombinasies te bewerkstellig. Die meeste hingste is nog aktiewe kompetisieperde, maar gedurende die teelseisoen kom hulle terug plaas toe.”

Callaho spits hom toenemend op die teel van veral springperde toe, omdat die grootste vraag na perde in daardie dissipline lê.

Voorbereidings en veilings

Alhoewel teling en genetika die een faset van die produksie van wêreldklas sportperde is, is die grootmaak en basiese afrigting van die vullens net so belangrik.

“Ons probeer die grootwordproses van ons vullens so natuurlik as moontlik hou. Vanaf die ouderdom van ongeveer drie weke bly die vullens en hul moeders uitsluitlik in die veld. ’n Gebalanseerde mineralelek vul die tekorte in natuurlike weiding aan. Tydens speentyd word die vullens in hings- en merriegroepe opgedeel en so leer die jong perde van vroeg af om binne die natuurlike tropverband te sosialiseer. Die jong perde word daagliks aan hantering deur die veldspan blootgestel. Die perde is dus van vroeg af reeds haltermak, wat latere opleiding vergemaklik. Gereelde besoeke deur die hoefsmid vergemaklik latere interaksie met mense.”

Dit is uiters belangrik dat perde so ver as moontlik van traumatiese ervarings gevrywaar word. By Callaho word jong perde stelselmatig en met verdrag aan enige nuwe ervarings blootgestel.

Lees meer oor die kwessie van perde te stal of nie hier.

“Hierdie reël geld veral wanneer die jong perde in hul derde jaar ingebring word om met hulle basiese afrigting te begin. Ons gebruik natural horsemanship-beginsels waar die perde vrywillig die afrigters se leiding aanvaar. Hierdie grondslagfase, waar hulle aan die saal en toom bekendgestel word, is die beslissende fase in die perd se afrigting en in sy of haar loopbaan vorentoe. Dit is waar die grondslag gelê word in die perd se bereidwilligheid om vrywillig en entoesiasties met sy ruiter saam te werk.”

Callaho-perde word slegs die basiese geleer – tekens vir links en regs, stap, draf en galop en natuurlik om te stop. Die jong perde word verder aan basiese hindernisse blootgestel sodat hulle vol selfvertroue, kalm en rustig spronge van ongeveer ’n meter hoog suksesvol kan kruis.

“Omtrent 80% van die basiese afrigting vind buite die arena plaas. Dit wissel van spring oor natuurlike hindernisse, tot galop om die aartappellande of net ’n rustige stap in die veld. Die mikpunt bly dat die perde wat op die veiling aangebied word hulle deur niks sal laat ontsenu nie. Hulle moet aan alles gewoond wees.”

Callaho bied jaarliks twee veilings aan – een in die herfs, en dan weer in November. Die intreebod is R80 000, maar volgens Gerber wissel die pryse van ongeveer R350 000 tot meer as ’n miljoen rand.

Dit is vir die Callaho-span belangrik om die perde se loopbane te volg soos wat hulle in die verskillende dissiplines ontwikkel. Hul kliënte keer graag terug om nog van die atlete te koop.

“Waar teling en basiese afrigting die eerste twee stappe tot die perd se sukses in die kompetisie-arena is, is die derde faset voortgesette afrigting deur sy nuwe ruiter. Ons stel ’n topgeteelde perd met ’n stewige, basiese afrigtingsfondasie aan die mark beskikbaar. Hierna is dit die nuwe eienaar se verantwoordelikheid om daardie perd se potensiaal ten volle te ontwikkel.

“Nie alle ruiters het die ambisie of vermoë om op die hoogste vlak mee te ding nie. Dit is heeltemal aanvaarbaar. Op die ou einde gaan dit oor die plesier wat die perd aan sy ruiter verskaf. Maar ons is trots daarop dat die perde wat ons produseer die potensiaal het om wel die hoogste sport te kan bereik.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Tani Gerber by 072 508 1967 of Ivana Hendriks by 082 578 0029.

Onbetaalde skorsing as ‘n alternatief tot ontslag

Estimated reading time: 4 minutes Die Wet op Arbeidsverhoudinge,1995 (Wet 66 van 1995) (die...

’n Beplanningskalender vir herkouerprodusente

Estimated reading time: 8 minutes Veeplaas het by finansiële kenners gaan aanklop om uit...

Regverdige en billike vergoeding vir grond

Estimated reading time: 5 minutes Artikel 25(2) van die Grondwet van die Republiek van...

Predators and problem animals on South African livestock farms

Estimated reading time: 6 minutes Livestock producers face many challenges, such as predator-related losses....