100 jaar van wolproduksie (Deel 5): Die boublokke van ’n welvarende land

Estimated reading time: 7 minutes

Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) betree binnekort die volgende 100 jaar van sy bestaan. Die organisasie is in 1926 in die lewe geroep met die oog op die verbetering van die land se wolgehalte, die bemarking van wol en as ondersteuningstruktuur vir wolprodusente. ‘n Eeu na sy stigting bevind die NWKV hom in ’n wêreld waar volhoubaarheid, klimaatsveerkragtigheid, naspeurbaarheid, biosekuriteit en digitale kommunikasie marktoegang en langtermyn mededingendheid bepaal.

‘n Stel belangrike besluite wat tydens die vereniging se 95ste jaarkongres en eeufeesvieringe in Junie vanjaar in Jeffreysbaai geneem is, bied ’n duidelike padkaart vir die volgende eeu. Dit omskryf nie net die doelwitte van ’n organisasie wat wolprodusente wil bedien nie, maar een wat daadwerklik tot Suid-Afrika se vooruitgang wil bydra.

Lees die vorige artikel in hierdie reeks: Deel 4.

Uitdagings skep veerkrag

Die Covid-19-inperking in 2020 was ’n deurslaggewende oomblik in die toekomspad van die organisasie. Te midde van bewegingsbeperkings wat boerderybedrywighede, wolveilings en -uitvoere bedreig het, het die NWKV intensief saam met die regering en bedryfsvennote gewerk om te verseker dat wolproduksie en -bemarking onder die buitengewone omstandighede kon voortgaan.

Net so beduidend was die voortsetting van die ontwikkelingsprogram vir kommunale produsente. Teen 2023 het die NWKV, in samewerking met die regering, 48 830 geneties-voortreflike ramme in kommunale kuddes gevestig sedert die program se ontstaan in 2002. Dit is meer as net ’n indrukwekkende statistiek en weerspieël duisende huishoudings wie se produktiwiteit, wolgehalte en inkomste verbeter het danksy ‘n belegging in genetika, opleiding en uitgebreide ondersteuning.

Die post-Covid tydperk is verder gekenmerk deur nuwe leierskap. Dan Kriek se aanstelling as algemene bestuurder in 2024 het kontinuïteit én hernuwing bevestig. Die institusionele kennis wat oor dekades opgebou is, is behou en die tafel is gedek vir ’n digitale, internasionaal-georiënteerde landbou-omgewing.

Die NWKV het aanvaar dat moderne produsente inligting via slimfone en digitale platforms wil inneem. Die vereniging gebruik daarom ’n reeks digitale platforms om met lede te kommunikeer, sy openbare sigbaarheid te verhoog en die waarde van sy dienste te demonstreer. Strategiese vennootskappe het in hierdie opsig noodsaaklik geword.

Vandat Plaas Media die NWKV se mediavennoot geword het, het die vereniging se kommunikasievoetspoor en openbare profiel aansienlik uitgebrei. Dit het hulle in staat gestel om wolprodusente en ’n breër gehoor baie doeltreffender te bereik as wat tradisionele kommunikasiemetodes alleen sou kon doen.

Meer as net wol

Die eerste besluit wat tydens die eeufeeskongres aanvaar is, posisioneer die NWKV stewig in ’n nasionale leierskaprol. Benewens sy posisie as ’n verteenwoordiger van wolprodusente, verbind die vereniging hom daartoe om ’n meer inklusiewe, mededingende en volhoubare wolskaapekonomie te bou.

Die vertrekpunt is dat geen enkele instelling hierdie doelwitte op sy eie kan bereik nie. Groter koördinering regoor die wolwaardeketting – van genetiese verbetering en produksie tot verwerking, bemarking en uitvoer – is nodig om Suid-Afrikaanse wol internasionaal mededingend te hou. Vennootskappe met die regering is daarom eerder ’n strategiese noodsaaklikheid as om stemme te werf.

Hierdie verhoudings is reeds aan die uitbrei en memorandums van verstandhouding is die afgelope twee jaar met die provinsiale regerings van die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat onderteken. Soortgelyke ooreenkomste met die Oos-Kaap en Noord-Kaap is in die pyplyn en sal sterker samewerking tussen die regering, georganiseerde landbou en bedryfsbelanghebbendes in al die belangrike wolproduksiestreke skep.

Die NWKV weet ook dat samewerking nie net die regering insluit nie. Strategiese vennootskappe met die privaatsektor, ontwikkelingsagentskappe, universiteite, navorsingsinstellings en produsente-organisasies is belangrik om moderne landbou-uitdagings aan te spreek.

Inklusiewe groei

Die eerste kongresbesluit bevestig ook die NWKV se langtermyn verbintenis tot die uitbreiding van sy ondersteuning aan swart en kommunale produsente. Die kommunale wolsektor is een van Suid-Afrika se suksesvolste landbou-ontwikkelingsverhale danksy twee dekades waarin die NWKV in genetika, skeerskure, opleiding, klasstandaarde en ondersteuning in kommunale boerderygebiede belê het. Dit is gedoen in samewerking met die regering en met befondsing deur Cape Wools SA.

Die volgende fase verg ’n fokusverskuiwing – van produksieverbetering na volledige deelname aan internasionale waardekettings. Kleinskaalse produsente moet toegang kry tot infrastruktuur, markinligting, finansiële dienste, sertifiseringsprogramme en tegniese ondersteuning. Hierdie toegang moet vergelykbaar wees met dit wat vir gevestigde kommersiële produsente beskikbaar is. ‘n Geïntegreerde waardeketting is daarom noodsaaklik om transformasie in blywende kommersiële sukses om te sit.

’n Wisselende klimaat

Vroeëre geslagte het op die verbetering van genetika en produksie gefokus; die moderne produsent moet egter ander uitdagings trotseer, waaronder ’n voortdurend-veranderende klimaat. Die tweede kongresbesluit plaas klimaatsveerkragtigheid sentraal tot toekomstige wolproduksie. Die besluit fokus nie op ideologie of modekonsepte nie, maar op wetenskaplik-gebaseerde herlewingsboerderypraktyke wat geskik is vir kommersiële en kommunale produksiestelsels.

Gesonde veld, verbeterde weidingsbestuur, sterker ekologiese kapitaal, waterbestuur en verbeterde grondgesondheid dra alles by tot veerkragtige boerderystelsels wat ‘n wisselvallige klimaat kan weerstaan. Vir die wolprodusent gaan klimaatsveerkragtigheid nie meer slegs oor goeie boerderypraktyke nie, maar oor marktoegang.

Internasionale kopers, veral in die Europese Unie, dring aan op bewyse dat natuurlike vesel volhoubaar en verantwoordelik geproduseer is. Sertifiseringskemas en onafhanklik-geverifieerde volhoubaarheidstandaarde het voorvereistes vir marktoegang geword en is nie meer net opsionele bemarkingshulpmiddels nie. Die NWKV se doel is om produsente op hierdie verwagtinge voor te berei by wyse van voorspraak, opleiding en strategiese vennootskappe.

Wol se omgewingsvoordele

’n Belangrike komponent van die klimaatbesluit is ‘n sterker Suid-Afrikaanse teenwoordigheid in die internasionale arena. ‘n Natuurlike vesel soos wol kompeteer met sintetiese vesels waarvan die omgewingsimpak nie altyd aan verbruikers bekend is nie. Die NWKV se doel is om sy samewerking met ander Suid-Afrikaanse diereveselbedrywe uit te brei en sy skakeling met internasionale organisasies, soos die Internasionale Wol- en Tekstielorganisasie (IWTO), via Cape Wools SA te versterk.

Hierdie vennootskappe skep geleenthede vir gesamentlike wetenskaplike navorsing, soos die meting van die koolstofvoetspoor, lewensiklusassesserings en vergelykings tussen die omgewingsprestasie van natuurlike en kunsmatige vesels. Uiteindelik sal verbruikersvertroue en aankoopbesluite deur wetenskaplike bewyse, eerder as persepsies, bepaal word.

Biosekuriteit en naspeurbaarheid

Die derde kongresbesluit weerspieël ’n realiteit van die moderne landbou: Verbruikers wil nie net weet wat hulle koop nie, maar ook waar dit vandaan kom en hoe dit geproduseer is. Dieregesondheid, volhoubaarheid en naspeurbaarheid is ’n geïntegreerde stelsel wat markvertroue ondersteun.

Die NWKV herbevestig daarom sy verbintenis tot die beskerming van dieregesondheid en -welsyn, en die bevordering van volhoubare produksiestelsels. ‘n Belangrik aspek is die uitbreiding van naspeurbaarheid deur middel van GS1-stelsels, wat dit moontlik maak om wol in die waardeketting na te speur. Naspeurbaarheid bied verskeie voordele: Dit versterk siektebeheer, ondersteun voedsel- en veselveiligheid, fasiliteer sertifisering en skep by internasionale kopers groter vertroue in Suid-Afrikaanse wol.

Nog ’n sleutelfaktor is die voortgesette ondersteuning van die Cape Wools Volhoubaarheidstandaard en soortgelyke sertifiseringsprogramme. Hierdie standaarde bied die onafhanklik-geverifieerde versekering dat Suid-Afrikaanse wol aan internasionaal-erkende omgewings-, etiese en dierewelsynsvereistes voldoen. Die uitdaging is egter om te verseker dat sertifisering gevestigde kommersiële ondernemings, sowel as kommunale en ontwikkelende produsente, insluit.

Landbou as nasionale vennoot

Die besluite wat tydens die eeufeeskongres geneem is, gaan oor meer as wolprodusente se belange. Suid-Afrika stoei met hoë werkloosheidsyfers, wydverspreide armoede en toenemende druk op landelike ekonomieë. Landbou is een van die min sektore wat werksgeleenthede oor ’n breë spektrum van vaardighede kan skep, terwyl dit ook uitvoerinkomste genereer.

Die wolbedryf lewer reeds ’n groot bydrae tot die nasionale ekonomie – Suid-Afrika produseer jaarliks sowat 40 tot 45 miljoen kg wol en verdien miljarde aan uitvoerinkomste. Die land ondersteun ook miljoene werksgeleenthede regoor die waardeketting, insluitend boerdery, skeer, vervoer, klassering, pakhuisbestuur, verwerking en logistiek.

Kommersiële wolprodusente is dikwels die ekonomiese ankers van afgeleë landelike gebiede; hulle ondersteun plaaslike ondernemings, kontrakteurs, veeartsenykundige dienste, skole, vervoermaatskappye en werksgeleenthede. Net so bied kommunale wolproduksie huishoudelike inkomste in van die armste landelike gebiede, veral in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat. ‘n Sterk wolsektor dra direk by tot landelike stabiliteit, werksverskaffing, gemeenskapsontwikkeling en samehorigheid. Wanneer die landbou floreer, oorleef ons landelike dorpies.

Die volgende eeu

Die NWKV het in sy eerste bestaanseeu hoofsaaklik gefokus op die opbou van instellings, verbeterde genetika, die ontwikkeling van bemarkingstelsels en produsente-ondersteuning. Die tweede eeu vereis ‘n breër benadering wat kernaspekte soos die bestuur van klimaatsverandering, veeleisende volhoubaarheidstandaarde, beter naspeurbaarheidstelsels, die aanvaarding van digitale kommunikasie, uitgebreide transformasie en strategiese vennootskappe insluit. Daarmee saam moet Suid-Afrikaanse wol wêreldwyd mededingend bly.

Geen van hierdie uitdagings kan alleen aangepak word nie. Die antwoord lê in gesamentlike optrede wat deur wetenskap, doeltreffende vennootskappe en sterk leierskap gerugsteun word. Die NWKV se kongresbesluite is ‘n toonbeeld van ‘n organisasie wat hierdie realiteite verstaan. Dit verteenwoordig die visie van ’n organisasie wat nie net ’n verteenwoordigende liggaam vir wolkwekers is nie, maar hom as ’n nasionale ontwikkelingsvennoot vestig.

“Ons eerste bestaanseeu was gewy aan die bou van ’n wêreldklas wolbedryf,” sê Kriek. “Die tweede eeu sal gemeet word aan hoe ons vooruitstrewende boerderyondernemings, veerkragtige landelike gemeenskappe en ’n meer voorspoedige Suid-Afrika help bou het.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting oor die NWKV, skakel 041 365 5030 of besoek www.nwga.co.za

Related

Vaaltyn van die Noordweste

Estimated reading time: 6 minutesDie donkie is ’n dier wat gehelp het om die Boesmanland, Namakwaland en die Karoo te tem, en wat vandag...

Stockfarm September 2026 hits the shelves

In the September 2026 edition of Stockfarm, we unpack the challenges that South Africa’s pork industry is facing, meet Veronica Rorich, winner of the...

Oilseeds Focus September 2026

The September 2026 issue of Oilseeds Focus delivers essential insights into identifying tricky stem and root diseases, the rules and trade-offs of saving soya...