Estimated reading time: 4 minutes
Omdat die akkuraatheid of waarheid van inligting selde gekontroleer of getoets word, hou die onoordeelkundige maak of deel van sosiale media-plasings ’n groot gevaar en regsrisiko in.
Die wyse waarop Suid-Afrikaners met mekaar omgaan of hul gedagtes aan die wêreld kommunikeer, het drasties verander. Sosiale media bied aan elke persoon ’n platform om hul gedagtes op skrif en deur middel van klank of video met die hele wêreld te deel. As gevolg van hierdie digitale spreekbuis, word ons dag na dag met inligting van ander persone of instansies van regoor die wêreld gebombardeer.
Die regsgevare van sosiale media
Aangesien hierdie inligting ’n groot invloed op mense se denke en houdings het, word sogenaamde mediafluisteraars betaal om standpunte of idees te propageer. Omdat die akkuraatheid of waarheid van hierdie inligting selde gekontroleer of getoets word, hou die onoordeelkundige maak of deel van sosiale media-plasings ’n groot gevaar en regsrisiko in.
Die Wet op Kubermisdaad, 2020 (Wet 19 van 2020) stipuleer onder meer dat dit as ’n misdaad beskou word wanneer boodskappe gestuur of sosiale media-plasings gemaak word waarin iemand met geweld of skade aan eiendom gedreig word, of waarin intieme beeldmateriaal sonder toestemming gedeel word. Gevangenisstraf of swaar boetes kan vir hierdie misdrywe opgelê word. Daarbenewens kan daar ook regsgevolge wees kragtens die Wet op Films en Publikasies, 1996 (Wet 65 van 1996), wat die besit of deel van sekere beeldmateriaal op of deur middel van sosiale media, ’n ernstige misdryf maak.
Die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting, 2013 (Wet 4 van 2013) (POPI-wet) beskerm persone se persoonlike inligting, foto’s en videomateriaal. Gevolglik is die publikasie daarvan op sosiale media ook ’n misdryf waarvoor daar strafregtelike gevolge kan wees.
Die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, 2000 (Wet 4 van 2000) skep regsgevolge vir haatspraak en onbillike diskriminasie in die openbaar. Die gelykheidshowe kan omvangryke regshulp toestaan teen enigeen wat hulle aan sodanige optrede skuldig maak.
Skadevergoedingseise vir laster kan ingestel word wanneer ’n persoon vals of ongegronde bewerings oor ’n ander persoon of instansie publiseer wat skade aan hul goeie naam berokken. So ‘n publikasie kan plaasvind deur ’n oorspronklike plasing, die deel van ’n ander party se plasing, of deur bloot ’n duimpie te gooi op ’n plasing wat jy ondersteun of waarvan jy hou. Selfs die versuim om ’n lasterlike plasing te verwyder van ’n platform waarvoor jy verantwoordelik is, sodra jy redelikerwys daarvan bewus word, kan ’n lastereis tot gevolg hê.
Binne die bestek van die werksplek en diensverhoudings, kan die maak of deel van plasings op sosiale media tot dissiplinêre optrede en selfs die ontslag van ’n werknemer lei. Voorts bestaan daar ’n gemeenregtelike misdryf genaamd crimen injuria. ’n Persoon kan vervolg word waar daar wederregtelik en opsetlik inbreuk gemaak word op ’n ander persoon se waardigheid, reputasie of reg op privaatheid.
Wenke om jouself te beskerm
Ons leef in uitdagende tye wanneer dit kom by toegang tot en deel van inligting op sosiale media, wat reeds ’n groot deel van ons lewens geword het. As gevolg van al die regsgevolge, waarvan die voorafgenoemde gevare geensins allesomvattend is nie, rus daar ’n plig op sosiale media-gebruikers om groot versigtigheid aan die dag te lê.
Om jouself op sosiale media te beskerm, moet jy ’n paar basiese voorsorgmaatreëls tref. Moenie iets skryf, deel of ondersteun indien jy onseker is oor die waarheid daarvan nie – veral wanneer die inhoud ongegrond is en jy jou nie regtens daarteen kan verweer nie. Maak daarom seker dat jy ’n plasing ten volle lees, luister of kyk voordat jy dit deel, sodat jy seker is dat jy met die hele boodskap saamstem. Doen ook verdere navorsing en maak seker dat die inligting deur meer as een geloofwaardige bron bevestig word.
Hou jou emosies in bedwang wanneer jy kommentaar lewer op sosiale media. Onderskei tussen persone of instansies wat korrekte, nagevorste inligting versprei en diegene met ’n twyfelagtige reputasie wat vals nuus verskaf of betaal word om ’n eensydige standpunt te bevorder.
Inligting sal altyd ’n abstraksie van die werklikheid of waarheid wees. Geloofwaardigheid hang uiteindelik af van die daadwerklike poging om jou as leser, luisteraar of kyker in staat te stel om jou eie standpunt oor ’n saak te vorm. Fopnuus vermeng die waarheid met vals inligting en gebruik die bestaande vooroordele van lesers, luisteraars of kykers om die inligting makliker te verteer. Daarom is dit belangrik om ’n onderskeid te tref.
Respekteer ander persone en instansies, selfs al verskil hul sienings van joune. Geniet die voordele van sosiale media, maar wees wys en veilig in hoe jy dit gebruik. – Hans-Jurie Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan die outeur by hj@mmlaw.co.za of skakel 018 297 8799 (Potchefstroom) of 033 032 0241 (Pietermaritzburg).
