Estimated reading time: 3 minutes
’n Besigheid moet winsgewend wees om volhoubaar te funksioneer.
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Vrystaat het op 17 Julie sy jaarlikse kongres in Bloemfontein gehou. Die tema van was “Winsgewendheid en volhoubaarheid in die rooivleisbedryf.” Die oggend het afgeskop met ’n verwelkoming deur Pieter Meyer, die nuutverkose voorsitter van RPO Vrystaat, en ’n opening deur ds Charles James. Dit is gevolg deur verslagdoening oor die Nasionale RPO se werksaamhede.
Dr Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte van die organisasie, het tydens sy aanbieding verduidelik hoe die nasionale struktuur werk, asook waar die organisasie in die waardeketting pas en die rol wat dit in die rooivleisbedryf speel. Hy het gesê die RPO fokus die afgelope ruk toenemend op dieresiektes, veral bek-en-klouseer (BEK), sowel as veediefstal. Die RPO se kernbeleid, het hy beklemtoon, is steeds om die spreekbuis van die kommersiële veeprodusent te wees.
Nico Buys, voormalige RPO Vrystaat-voorsitter, het die organisasie se voorsittersverslag gelewer en produsente tydens sy aanbieding aangemoedig om deel van die RPO te word. Buys is tydens die kongres tot vise-voorsitter verkies.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het gesels oor die verhouding van die produsent met die omgewing en verbruiker. Hy het klem gelê op die integrasie en interafhanklikheid van hierdie drie komponente. Sy kernboodskap was dat ’n besigheid winsgewend moet wees om volhoubaar te funksioneer.
Nuwe leierskap en samewerking
Die onderskeie spreekbeurte is gevolg deur die verkiesing van die RPO Vrystaat se leierskap, met Meyer was as die nuwe voorsitter aangewys is, en Buys as vise-voorsitter. Drie nuwe streekverteenwoordigers is ook verkies: Callie van der Merwe vir die Boshoff/Hertzogville-streek, Niel van Schalkwyk vir Bultfontein/Hoopstad en Dami Stemmet vir Senekal. Die res van die streekverteenwoordigers het onveranderd gebly.
Die hoofborg van die geleentheid was VKB en is deur Andreas Snyman verteenwoordig. Snyman is die hoof van neute, bone en internasionale handel. Tydens sy boodskap het hy produsente bemoedig en klem gelê op die krag van samewerking.
Goeie bestuurspraktyke
Kobus Bester, rasdirekteur van Simbra SA, het gesels oor die impak van fetale programmering op volhoubare en winsgewende beesboerdery. Hy het klem gelê op volhoubare winsgewendheid en gesê dit is belangrik om die tydwaarde van geld in ag te neem. Hy het verduidelik hoe ’n kudde se reproduksie kan verbeter deur noukeurige bestuurspraktyke tydens elke fase van dragtigheid toe te pas, vanaf dag nul tot en met kalwing.
Dr Danie Odendaal van Veearts Netwerk het gefokus op die belangrikheid van opvolginentings om immuniteit teen BEK te verseker. Hy het beklemtoon dat produsente en streekbestuurders georganiseer moet wees om BEK suksesvol te bekamp.
Een BEK-inenting sal nie noodwendig 100% immuniteit bied nie, het hy verduidelik en gesê dit is waarom opvolginentings noodsaaklik is. ’n Studie in Nederland het getoon dat immuniteit tot bykans 100% verhoog kan word deur opvolginentings. Hy is tans besig met ’n BEK-studie en -proef waarin baanbrekerwerk oor inenting en skraaginenting gedoen word.
Dewald Olivier, hoof uitvoerende beampte van Rooivleisbedryfsdienste (RMIS), het gesels oor die organisasie en hoe heffings aangewend word. Die dag is afgesluit met ’n paneelbespreking waartydens produsente vrae kon vra. Die meeste vrae en gesprekke het oor BEK gehandel en die boodskap was duidelik: Moenie vir die staat wag om te reageer nie. Dr Odendaal het onder meer gesê een van die belangrike lesse uit die BEK-situasie is dat die bedryf nie voorbereid was nie en dat dit ’n geleentheid geskep het om meer georganiseer te raak. – Timon Dedekind, Universiteit van die Vrystaat
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan die outeur by dedekindtc@ufs.ac.za


