Vermy saalsere op jou veeperde

Estimated reading time: 5 minutes

  • Een van die grootste probleme is met veeperde is dat hulle met saals gery word wat óf nie pas nie, óf totaal verwaarloos en stukkend is. Veeboere is ook oor die algemeen traag om geld op goeie saals te spandeer.
  • As ’n perd egter eers ’n saalseer ontwikkel het, bly dit dikwels ’n lewenslange probleem. Voorkomende optrede is beslis die beter opsie. 
  • Die eerste beginsel is dat die saal, as jy dit sonder ’n kleedjie op die perd plaas, oor ’n groot area op die rug moet lê.
  • Die beste manier om seker te maak dat ’n saal op ’n perd pas, is om op te saal en die perd te ry totdat hy liggies sweet. As jy dan die saal afhaal, moet die sweet ’n eweredige drukpatroon op die rug wys.
  • Veewagters is geneig om die buikgord te styf vas te trek, wat uiters ongemaklik vir die perd is.

Die beskeie veeperd is seker een van die mees onderskatte en verwaarloosde hulpbronne op ’n veeplaas. Hulle kry op baie min veeplase die aandag en versorging wat hulle verdien. Een van die grootste probleme is dat hulle met saals gery word wat óf nie pas nie, óf totaal verwaarloos en stukkend is. Veeboere is ook oor die algemeen traag om geld op goeie saals te spandeer.

As ’n perd egter eers ’n saalseer ontwikkel het, bly dit dikwels ’n lewenslange probleem. Voorkomende optrede is beslis die beter opsie. 

’n Saal wat ordentlik pas

Volgens Kylon Liversage van Trailrider Saddles op Belfast in Mpumalanga is daar ’n paar basiese beginsels wat geld om te verseker dat ’n saal ordentlik op die perd pas.

Die eerste beginsel is dat die saal, as jy dit sonder ’n kleedjie op die perd plaas, oor ’n groot area op die rug moet lê. Dit gaan oor gewigsverspreiding: Hoe groter die area wat met die rug in kontak is, hoe kleiner die kans vir drukpunte wat tot saalsere kan lei. Dit is dus belangrik dat die saal eweredig met die hele rug-area kontak maak.

Die tweede beginsel is dat die saal nêrens direk met die perd se werwelkolom in aanraking moet kom nie. ’n Mens moet van voor na agter langs die werwelkolom onder die saal kan deurkyk. Die saal moet ook nie aan weerskante te na aan die werwelkolom druk nie. Dit is hier waar die senuwees in die werwels ingaan; dit moet vry van druk wees.

Die derde beginsel gaan oor die saalkleedjie. ’n Dikker saalkleedjie sal nie probleme met ‘n te nou saal oplos nie. Hoe dikker die kleedjie, hoe nouer maak dit die saal. As die saal egter te wyd is en op die werwelkolom druk, sou ’n dik saalkleedjie wel help om die saal van die rug af te lig.

Lees oor die kwessie van perde te stal of nie.

Toets die passing

Die beste manier om seker te maak dat ’n saal op ’n perd pas, is om op te saal en die perd te ry totdat hy liggies sweet. As jy dan die saal afhaal, moet die sweet ’n eweredige drukpatroon op die rug wys. As daar areas is waar die hare deurmekaar gevryf is en klosserig lyk, dui dit op drukpunte wat oor die langtermyn saalsere kan veroorsaak.

Droë kolle op die rug kan op een van twee dinge dui. Die eerste is dat die saal op daardie kol minder kontak maak, wat beteken dat daar meer druk op ander dele is. In so ’n geval lê die hare gewoonlik mooi plat in daardie area.

Die tweede moontlikheid is te veel druk, wat gewoonlik gepaardgaan met hare wat ooglopend deurmekaar geskuur is. Oor die langtermyn ontstaan daar kolle waar die hare heeltemal wit verkleur. Hierdie kolle kom veral algemeen reg agter die kambeen voor, omdat die saal te nou is.

Vrye skouerbeweging is ’n belangrike punt, sê Liversage. Die bopunt van die bladbeen beweeg vorentoe en agtertoe as die perd beweeg, en die saal moet so geplaas word dat dit nooit drukking op die bladbeen veroorsaak as dit beweeg nie. Tekens dat die bladbeen waarskynlik deur die saal geknyp word, is as die perd met kort, rukkerige treë stap, nie wil draf nie en ’n kortgalop verkies. So ’n perd sal ook tipies sy kop hoog dra. Die enigste oplossing is om ’n ander, beter-passende saal te kry.

Regte buikgordposisie

“As die saal in die regte posisie op die rug geplaas is,” verduidelik Liversage, “moet daar ’n handbreedte tussen die buikgord en die perd se elmboog wees. Sere word gewoonlik veroorsaak deur ’n buikgord wat te na aan die voorbeen geposisioneer is.”

Veewagters is geneig om die buikgord te styf vas te trek, wat uiters ongemaklik vir die perd is. ’n Mens moet jou plat hand gemaklik tussen die perd se sy, in lyn met die elmboog, en die buikgord kan indruk. Dit spreek vanself dat ’n buikgord skoon en sag gehou moet word om skaafplekke te voorkom.

Daar is ongelukkig talle goedkoop, swak saals in die mark wat nie ordentlik ontwerp is om goed op perde te pas nie, sluit hy af. Vermy hierdie saals en belê in ’n saal wat behoorlik pas en die perd sal toelaat om optimaal te funksioneer. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Kylon Liversage by 083 775 9827.

Must read

South African Sugar Value Chain Master Plan 2030

Plaas TV ry van kongres tot kongres

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: During the 2019 State of the Nation Address, President Cyril...

Eienaarskap van lewendehawe: Die regte en verpligtinge van plaasbewoners

Estimated reading time: 4 minutes Vir enigeen wat met lewendehawe boer is dit, bo en behalwe ’n besigheid, ook ’n hartsaak. As dit gaan oor plaasbewoners wat die reg geniet om lewendehawe aan te hou...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met Lise Roberts op RSG Landbou. Luister nou na hierdie week se weerverslag soos op 25...

WCCA congress driving sustainable agricultural practices

Estimated reading time: 7 minutes The ninth World Congress on Conservation Agriculture (WCCA) recently took place at the Cape Town International Convention Centre in the Western Cape. The theme of the congress was “Enhancing agricultural...
Koring

RSG Landbou: 25 Julie 2024 – geborg deur AECI Plant Health

Die nuwe koringtarief is verlede week uiteindelik aangekondig en Tobias Doyer van Graan SA verduidelik waarom ‘n tarief noodsaaklik is om internasionaal te kan meeding. Daar is slegs ‘n handjievol papaja-produsente in Suid-Afrika oor. Ons...