Estimated reading time: 4 minutes
Johan van den Berg ken sy storie as dit by die weer kom. Hy het die afgelope week met Lise Roberts oor die nuutste weersake op RSG Landbou gesels.
Luister nou na hierdie week se weerverslag soos op 21 September 2023.
Luister saam deur op die klankgreep te klik:
Luister na ander RSG Landbou-uitsendings.
Boer klimaatslim
Laat elke druppel tel
Daar is voldoende wetenskaplike bewyse dat die wisselvalligheid van die klimaat oor die afgelope twee dekades die produksie-omgewing en -basis van veeboerdery in Suider-Afrika dramaties verander het. Oor die lang termyn sal dit ’n potensieel ontwrigtende uitwerking op veeproduksie en voedselsekerheid hê.
Na verwagting sal daar ’n toename van 1°C in die gemiddelde temperatuur per jaar oor Suidelike Afrika (teenoor 0,65°C wêreldwyd) wees, asook meer wisselvallige en uiterste reënval, met nat tydperke wat natter word en droë tydperke droër, en ’n ongekende toename in die CO2-konsentrasie in die atmosfeer.
Vir veeboere beteken dit vee wat verhoogde hittespanning moet verduur, toenemende afloop en verliese aan reënwater, versnelde gronderosie, asook langer en meer intense droogtes, maar gelukkig nie méér droogtes nie.
Veld wat ’n wisselvallige klimaat kan deurstaan
In die eerste aflewering van ons reeks oor klimaatslim veeboerdery, het ons gesien dat slegs die reënval wat in die grond insypel en dan deur die gewenste weidingsplante getranspireer word, tot doeltreffende voerproduksie en dus effektiewe reënval bydra. Die res gaan verlore deur afloop, diepdreinering of verdamping direk vanaf die grondoppervlak.
Die reën in die reënmeter is dus nie al wat tel nie – daar is die belangrike water wat uiteindelik in die grond beland en deur goeie plante benut word om voer te produseer. Dít is die effektiewe reënval en die fokus van klimaatslim veeboere wat elke druppel laat tel.
In hierdie artikel kyk ons na die invloed van die veld se toestand op die volhoubaarheid van voerproduksie, veral in die droër dele van ons land.
Radikale veldverbetering en -herstel
Die eerste artikel in hierdie reeks het die belangrikheid van ’n gesonde watersiklus om soveel as moontlik reënwater binne-in die grond te kry, verduidelik. In die tweede artikel is die rol van veldtoestand in die watersiklus en die belangrikheid daarvan vir maksimum veldproduksie en voergehalte, uitgelig.
Baie veeplase in Suid-Afrika ondervind historiese hulpbronskade, wat veroorsaak dat ’n groot persentasie van die reënwater wegloop. Dit sluit ontblote grondgebiede of kaal kolle met min of geen plantegroeibedekking, gebiede met ernstige watererosieskade, en indringer- en verdigterbosse wat weidings van water beroof, in.
Hierdie skade kan nie deur normale beweidingspraktyke gerehabiliteer word nie en vereis spesiale maatreëls, wat as radikale veldverbetering bekend staan.
Vee wat veld in geld omsit
In die eerste drie artikels in hierdie reeks is gefokus op die optimale aanwending van beskikbare reënval om voer te produseer. Maar wat baat dit ’n veeboer as hy groot hoeveelhede voer kan produseer, maar nie ’n kudde het wat die voer doeltreffend in geld omsit nie?
Klimaatslim veeboere benodig ’n kudde wat die veld doeltreffend in diereproduksie en wins kan omskep. Reproduksieproduktiwiteit is een van die maatstawwe waarteen ’n kudde se vermoë om voer in wins te omskep, gemeet word. Dit is die resultaat van die hoeveelheid lewende massa wat deur die kudde geproduseer word, as ’n faktor van die totale massa van die teelkudde. Dit word in kilogram vleis geproduseer per kilogram teeldier gemeet.
Hierdie maatstaf neem al die veranderlikes van reproduksie in ag, insluitend besetting, speenpersentasie, speenmassa, bemarkingspersentasie en bemarkingsmassa. Optimale produktiwiteit word bereik wanneer die maksimum teeldiere beset raak, dragtigheid voltooi, gemaklik geboorte gee aan lewenskragtige en gesonde nageslag, die nageslag goed grootmaak en ’n maksimale getal speen.
Trek die angel uit ’n droogte
Droogte is ’n herhalende verskynsel in die ariede en semi-ariede gebiede van Suider-Afrika. Trouens, daar is 100% sekerheid dat dit een of ander tyd gaan droog word – dit is net onseker wanneer. Dit is hierdie onsekerheid wat maak dat produsente reken dit is onmoontlik om vooruit te beplan vir droogte. Dit is egter juis belangrik dat produsente proaktief moet wees.
In die verlede, toe daar nog ’n goed-bestuurde, staatsondersteunde droogtehulpskema in plek was, kon produsente dit bekostig om nie vir die gevolge van droogtes te beplan nie. Noudat hulle egter op hul eie aangewese is en aardverwarming ’n bykomende werklikheid is, sal dié wat nie behoorlik beplan nie, moontlik nie die volgende droogte finansieel oorleef nie.
Klimaatslim veeboere het geleer om anders te dink, sodat hulle droogtes met die kleinste moontlike impak kan oorbrug. Dié wat dit doen, hou aan met boer en brei selfs uit.