Sunday, August 14, 2022

Klimaatslim veeboerdery (Deel 5):

Trek die angel uit ’n droogte

Estimated reading time: 7 minutes

Droogte is ’n herhalende verskynsel in die ariede en semi-ariede gebiede van Suider-Afrika. Trouens, daar is 100% sekerheid dat dit een of ander tyd gaan droog word – dit is net onseker wanneer. Dit is hierdie onsekerheid wat maak dat produsente reken dit is onmoontlik om vooruit te beplan vir droogte. Dit is egter juis belangrik dat produsente proaktief moet wees.

In die verlede, toe daar nog ’n goed-bestuurde, staatsondersteunde droogtehulpskema in plek was, kon produsente dit bekostig om nie vir die gevolge van droogtes te beplan nie. Noudat hulle egter op hul eie aangewese is en aardverwarming ’n bykomende werklikheid is, sal dié wat nie behoorlik beplan nie, moontlik nie die volgende droogte finansieel oorleef nie.

Klimaatslim veeboere het geleer om anders te dink, sodat hulle droogtes met die kleinste moontlike impak kan oorbrug. Dié wat dit doen, hou aan met boer en brei selfs uit.

Lees meer oor klimaatslim veeboerdery hier.

‘n Reaktiewe benadering

Prof Don H Wilhite, ’n voormalige hoogleraar aan die National Drought Mitigating Centre van die Universiteit van Nebraska, beskryf die mens se natuurlike ingesteldheid teenoor droogte as onlogiese optrede (sien Figuur 1). Hy verwys na die ‘hidro-onlogiese gedragsiklus’ na aanleiding van die hidrologiese of watersiklus in die natuur.

Figuur 1: Die hidro-onlogiese gedragsiklus. (Bron: Wilhite, 2012)

Figuur-1 – Klimaatslim 5

Hierdie ingesteldheid en optrede word soos volg verduidelik: Mense raak die een of ander tyd bewus van ’n ontwikkelende droogte. Indien dit tydens dié tydperk betyds reën, verdwyn die bewuswording en beweeg die persoon gewoonlik direk na daardie deel van die siklus wat as onverskillig beskryf word. Almal is verlig dat die droogte nie gerealiseer het nie en wag bloot vir die volgende skrikmaak-episode.

As die reën egter tydens die bewuswordingsfase wegbly en voertekorte vererger, tree die bekommernis-fase in. Die druk op finansies neem toe, ruvoer op die veld raak minder, die gebruik van lekke neem drasties toe, diere se kondisie en prestasie neem af, en waterbronne kom toenemend onder druk. Die media skrik wakker en berig al hoe meer oor die droogte.

Namate die droogte uitrek en meer intens raak, tree die paniek-fase in en is krisisbestuur aan die orde van die dag. Besluite word deur emosie eerder as goeie oordeel gedryf. Die simptome van droogtekrisisbestuur sluit in noodslagtings te midde van vleispryse wat reeds gedaal het, bo-normale veeverliese (veral jong vee), lae besetting van vroulike diere, ruvoertekorte en kontantvloeiprobleme.

In die verlede is die paniektydperk tot ’n groot mate deur droogtesubsidies verlig. Hierdie veiligheidsnet bestaan steeds by die meeste regerings in Suider-Afrika, maar word meestal só swak geadministreer, dat die hulp óf glad nie óf te laat by produsente uitkom.

Wanneer die reën uiteindelik die droogte breek, word daar só gekonsentreer om van die droogte se skade te herstel, dat die lesse wat geleer is, gou vergete raak en mense weer die onverskillige fase betree. Nou hoop en glo almal dat daar nooit weer ’n droogte sal wees nie.

‘n Proaktiewe benadering

Die oplossing vir hierdie reaktiewe aard van die hidro-onlogiese gedragsiklus, is om anders oor droogtes te dink, naamlik proaktief in plaas van reaktief, soos voorgestel in die hidro-logiese gedragsiklus in Figuur 2.

Figuur 2: Die hidro-logiese gedragsiklus. (Bron: Roux et al., 2011)

Figuur-2 – Klimaatslim 5

In die hidro-logiese siklus word daar tydens die goeie reënvaljare proaktief vir die volgende droogte beplan, pleks daarvan om onverskillig vir die volgende droogte te wag. ’n Reeks langtermyn strategieë, gebeurlikheidsplanne en buffers word in plek gesit, wat sal verseker dat die boerdery tydens die volgende droogte beter beskerm en minder kwesbaar vir droogte sal wees.

Sodra die volgende droogte sy kop uitsteek word daar, in plaas van krisisbestuur, stelselmatig na ’n reeks voorafbeplande gebeurlikheidsplanne (korttermyn strategieë) oorgegaan. Dit haal die emosie uit besluite en vervang krisisbestuur. Natuurlik maak dié soort beplanning boerderye nie volledig bestand teen die droogte nie, maar verminder wel die impak daarvan.

Die sukses van die hidro-logiese gedragsiklus lê in die proaktiewe beplanning wat in die goeie tye plaasvind. Dit wat nodig is om ’n droogte beter te oorbrug moet reeds vóór die droogte in plek wees. Dit verminder die geskarrel na oplossings wanneer die droogte reeds sy tande begin inslaan.

Hoe swakker daar vir die volgende droogte beplan word, hoe groter sal die impak daarvan wees. Goeie beplanning bied aansienlik meer opsies vir beter oorbrugging.

Maak gereed

Tydens voorbereiding vir die volgende droogte, word boerderypraktyke toegepas wat sal help om die boerdery se droogtekwesbaarheid te verlaag, droogteverdraagsaamheid te verhoog, en die uitwerking van die droogte te versag – nie om die droogte te ontsnap nie. Praktyke wat winsgewend is, maar ook sal verseker dat die boerdery gerat is vir die volgende droogte en die nodige bufferkapasiteit in plek het om dit beter te kan oorleef, word konstant en oor die lang termyn toegepas.

As kwesbaarheid nie verlaag en verdraagsaamheid nie verhoog word tydens hierdie fase nie, het die produsent beperkte opsies tydens die droogte en sal die boerdery se uithouvermoë onder groot druk kom.

Die versagtingsmaatreëls (of buffers) sluit onder andere die volgende in:

  • Veld wat in ’n goeie toestand is.
  • Aangepaste vee, produksiestelsels en kuddesamestelling.
  • Die opbou van ’n droogtevoerbank of ’n noodfonds om droogtevoer mee aan te skaf.
  • ’n Gesonde finansiële posisie wanneer die droogte toeslaan.
  • ’n Betroubare vroeëwaarskuwingstelsel.

Lees elders in hierdie uitgawe van Veeplaas oor die verskillende buffers wat produsente in plek moet hê om hulle teen droogtes te verskans.

Veld wat droogtebestand is

Een van die beste versekeringpolisse om jou teen droogtes te verskans, is veld wat in ’n goeie toestand is. Hoe beter die veld, hoe hoër en meer stabiel die voerproduksie, hoe beter die gehalte daarvan, hoe beter die droogteverdraagsaamheid en droogte-uithouvermoë, en hoe meer winsgewend die boerdery.

Daar is verskeie redes hiervoor. Eerstens, hoe swakker die veld se toestand is, hoe meer reënwater loop weg en beland in strome en riviere. Gevolglik is die grondvog laer, selfs al kry goeie en swak veld ewe veel reën. Hoe beter die veld, hoe meer van die reënwater dring die grond binne en hoe hoër is die grondvoginhoud.

Hoe swakker die veld, hoe groter is die verlies aan bogrond en organiese materiaal weens water- en winderosie. Swak veld se bogrond is ook meer verdig as dié van goeie veld, wat tot swak waterindringing bydra. Daarby is swak veld se grondtemperature hoër as dié van goeie veld, met gepaardgaande hoër verdamping en dus ’n droër grondprofiel.

Goeie veld het ’n digter plantestand as swak veld. Die plante wat in goeie veld oorheers, skakel die grondwater ook baie meer doeltreffend in voerproduksie om as dié in swak veld. Dit is omdat die plante in swak veld dikwels hoofsaaklik eenjarig is. Hul belangrikste oorlewingsmeganisme is om saad te produseer. In droogtetye mors hulle dus nie energie om voer te produseer nie, maar eerder sade. Hoe droër dit raak, hoe groter is hierdie verskil in voerproduksie tussen goeie en swak veld. Plante wat in swak veld oorheers se proteïeninhoud is ook baie laer as dié van plante wat in goeie veld dominant is.

Laastens neem die voorkoms van skyndroogtes toe namate die veldtoestand verswak. ’n Skyndroogte is die gevolg van ’n tekort aan weiding weens die veld se swak toestand, nie weens ‘n gebrek aan reënval nie.

Veld in ’n swak toestand het hoofsaaklik drie agterstande: dit het minder water in die grondprofiel, die plante daarop produseer minder ruvoer, en die ruvoer is van swakker gehalte. In goeie en gemiddelde reënjare is die agterstand van swak veld nie so ooglopend nie. Dit is eers wanneer dit droog raak, dat die verskil meer waarneembaar word.

Om die beskerming van goeie veld in ’n droogte te geniet, moet die goeie jare benut word om die veld in ’n goeie toestand te kry. ’n Droogte is nie die tyd om die veld te probeer verbeter nie. Dit is dan te droog vir betekenisvolle veldverbetering en produsente het nie dan die finansies wat dit verg om die veld te verbeter nie.

Vir meer inligting en bronverwysings, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.

Versorging van ooie en lammers tydens lamtyd

Estimated reading time: 4 minutes Sorgsame bestuur van pasgebore lammers en hul moeders is...

Caring for ewes and lambs during lambing

Estimated reading time: 4 minutes A strong lamb crop is highly dependent on meticulous...

Streng seleksie sorg vir klipharde Bonsmaras

Estimated reading time: 6 minutes Sowat 100km vanaf Johannesburg, aan die voet van die...

RSG Landbou: 4 Augustus 2022 – geborg deur Hygrotech

Talle plaaseienaars maak dikwels van ‘n maatskappy gebruik om tydelike of seisoenale werkers in...