Klimaatslim veeboerdery (Deel 4): Vee wat veld in geld omsit

262
Skape-skaapkoppe, klimaatslim
Klimaatslim veeboere benodig ’n kudde wat die veld doeltreffend in diereproduksie, reproduksieproduktiwiteit & wins kan omskep.

Estimated reading time: 7 minutes

In die eerste drie artikels in hierdie reeks is gefokus op die optimale aanwending van beskikbare reënval om voer te produseer. Maar wat baat dit ’n veeboer as hy groot hoeveelhede voer kan produseer, maar nie ’n kudde het wat die voer doeltreffend in geld omsit nie?

Klimaatslim veeboere benodig ’n kudde wat die veld doeltreffend in diereproduksie en wins kan omskep. Reproduksieproduktiwiteit is een van die maatstawwe waarteen ’n kudde se vermoë om voer in wins te omskep, gemeet word. Dit is die resultaat van die hoeveelheid lewende massa wat deur die kudde geproduseer word, as ’n faktor van die totale massa van die teelkudde. Dit word in kilogram vleis geproduseer per kilogram teeldier gemeet.

Klik hier vir die weeklikse weerverslag.

Hierdie maatstaf neem al die veranderlikes van reproduksie in ag, insluitend besetting, speenpersentasie, speenmassa, bemarkingspersentasie en bemarkingsmassa. Optimale produktiwiteit word bereik wanneer die maksimum teeldiere beset raak, dragtigheid voltooi, gemaklik geboorte gee aan lewenskragtige en gesonde nageslag, die nageslag goed grootmaak en ’n maksimale getal speen.

Kleinvee

Daar is verskeie faktore waarop kleinveeboere moet let sodat soveel as moontlik van die teeldiere hierdie proses voltooi. Twee belangrike faktore word egter dikwels buite rekening gelaat – prosedure by die seleksie van vervangingsooie en ouderdomstruktuur van die teelkudde.

In elke kudde is daar ooie wat swak, gemiddeld of uitstekend presteer. Die geheim is om die passasiers vroegtydig te identifiseer en uit te skot.

Vervangingsooie

Vervangingsooie wys reeds op ’n jong ouderdom hul toekomstige vermoë as teelooie. In ’n studie oor die lewensreproduksie van 1 603 vervangingsooie in die Grootfontein-, Carnarvon- en Elsenburg-Merinokuddes, is die verwantskap tussen die ooitjies se speenpersentasie op twee-tand ouderdom en oor die res van hul leeftyd ondersoek.

klimaatslim
Figuur 1: Verwantskap tussen Merino-vervangingsooie se prestasie met hul eerste lamkans en die res van hul produksieleeftyd. (Bron: Dr Buks Olivier, 1980)

Uit hierdie navorsing is bevind dat Merino’s op ’n vroeë ouderdom demonstreer of hulle ’n goeie lewensproduksie gaan hê. Verskeie projekte daarna, met verskillende kleinveerasse, het dieselfde uitgewys, wat beteken dat die eienskap hoogs herhaalbaar is oor verskeie kleinveetipes en -rasse.

Kortom, in elke kleinveekudde is daar teeldiere wat maklik dragtig raak, dragtigheid voltooi, sonder probleme geboorte gee, en lammers goed versorg en suksesvol speen. Netso is daar in elke kudde teelooie wat min tot weinig nageslag produseer.

Die geheim van die opbou van ’n reproduksie-doeltreffende teelkudde, is om die swak presteerders op so ‘n jong ouderdom as moontlik te identifiseer en te elimineer. Om ’n hoogs suksesvolle kudde te ontwikkel, moet daarvoor geselekteer word. Dit begin by die konstante uitskot van jong ooie wat nie tydens hul eerste lamkans ’n lam speen nie.

Lees deel 3 van die Klimaatslim veeboerdery-artikelreeks hier.

Skot by speen net die ooilammers uit wat baie klein en verboep is, asook dié wat nie aan die rasstandaarde voldoen nie. Die res word gehou. Voor paring kan die 5 tot 10% swakste ooitjies en dié wat intussen prulfoute ontwikkel het, ook uitgeskot word. Die res word almal gepaar.

Die finale seleksie word gemaak uit die ooitjies wat dragtig is, met voorkeur aan dié wat meerlinge dra (mits normale reproduksietegnieke gebruik is – geen dragtige merrieserum nie). Die jong ooitjies wat dan nie ’n lam grootmaak nie, word uitgeskot, tensy die oorsaak aan bestuursfoute toegeskryf kon word.

Hoewel jong ooie met goeie reproduksie tydens hul eerste lamkans ’n bogemiddelde kans het om dit oor hul leeftyd vol te hou, is daar tog ’n persentasie wat dit nie doen nie. Daarom is dit nodig om voortdurend te diskrimineer teen ooie wat uitsak.

Skot alle ooie uit wat nie beset raak nie. As die besetting van volwasse ooie 90% en beter is, moet dié wat droog is uitgeskot word. Indien slegs 50% van die ooie beset raak, is die fout iewers anders en moet die droë ooie nie uitgeskot word nie. By jong ooitjies geld 70% besetting en hoër.

Skot alle ooie uit wat beset raak maar nie lam nie, of wat lam maar nie ’n lam speen nie, of wat ligte lammers speen. Moenie ooie penaliseer wat swak produseer weens bestuursfoute nie!

Uitgroei van jong ooie

Ooilammers se reproduksiestelsels ontwikkel stelselmatig vanaf geboorte tot en met puberteit. Dit is ’n proses wat stelselmatig en progressief moet plaasvind om te verseker dat sy haar volle reproduksiepotensiaal bereik.

Speenlammers wat as vervangingsooie geoormerk is, word dikwels tussen speen en eerste paring verwaarloos. Nie net bereik hulle moeilik hul ideale paarmassa nie, maar hulle is fisiologies (hormone en reproduksie-organe) ook nie gereed vir teling nie. Hierdie agterstand word moeilik ná puberteit ingehaal, met die gevolg dat sy oor haar leeftyd ’n laer reproduksie het as ooie wat goed tussen speen en puberteit uitgegroei het.

Ouderdomstruktuur van ooikudde

Klimaatslim veeboerdery (Deel 5)

Ooie se vrugbaarheid neem met ouderdom toe (Figuur 2). Hoe ouer hulle raak, hoe hoër is hul besetting asook die persentasie meerlinge. Die aantal lammers wat hulle speen, neem egter af ná ses-jaar ouderdom.

Figuur 2: Verwantskap tussen ooie se ouderdom en reproduksie. (Bron: Dr Buks Olivier)

Die ouderdomstruktuur van die teelkudde is dus baie belangrik in die strewe na maksimum reproduksieproduktiwiteit. ’n Teelkudde moet uit ’n hiërargie van jong tot ouer teeldiere bestaan. ‘n Teelkudde met hoofsaaklik ouer ooie, is ’n aanduiding van swak reproduksie en ’n tekort aan speenooitjies om ouer ooie mee te vervang.

Ramme

Dit baat nie as die ooie in puik paringskondisie is, maar die ramme nie gereed is nie. Viriele, dekbehendige ramme met goeie libido, wat vrugbaar, gesond, fiks en goed gevoed is, is nodig vir maksimale besetting van ooie.

Ooie wat byvoorbeeld net een keer tydens hul hittesilkus gedek word, het ’n besetting van 50%, en net 17% het meerlinge, teenoor ooie wat drie keer gedek is en ’n 91% besetting en 54% meerlinge het.

Vleisbeeste

Vervangingsverse

Net soos by kleinvee, is vervangingsverse ’n sleutelelement in verbeterde reproduksie by beeskuddes. Gewig is ’n belangrike faktor wanneer verse puberteit bereik. Vir optimale reproduksie behoort verse hul teikengewig van 60 tot 65% van volwasse gewig teen 24- tot 27-maande ouderdom te bereik. Kruisgeteelde verse is geneig om puberteit teen ’n vroeër ouderdom en gewig te bereik as suiwer rasse.

Vanaf speen moet verse gereeld geweeg word om te verseker dat hulle die nodige gewig teen die teeldatum bereik (gewoonlik 24- tot 27-maande ouderdom). Omdat verse drie of vier weke vóór die koeikudde na die bul gaan, sal hulle meestal gemiddeld net 23 tot 26 maande oud wees aan die begin van die teelseisoen. Bereken dus die getal dae vanaf speen tot die begin van die teelseisoen om die gemiddelde daaglikse toename te bepaal wat nodig is om die teikengewig te bereik.

Verse wat in die eerste helfte van die kalfseisoen gebore word, is die beter verse om vir teling te selekteer. Hierdie verse sal ouer en swaarder wees as dié wat later gebore is, en sal ’n moeder hê wat hoogs vrugbaar en produktief is (derhalwe het sy vroeg gekalf). Hul nageslag behoort vroeër puberteit te bereik en vroeër in die seisoen dragtig te raak.

Selekteer meer verse om te paar as wat vir vervanging nodig is (gewoonlik sowat 50% meer) en doen die finale seleksie uit verse wat dragtig raak, met voorkeur aan dié wat vroeg beset geraak het.

Verse moenie vir langer as 65 dae gepaar word nie. ’n Dektyd van 65 dae is gelyk aan drie kanse om dragtig te raak, en voorsien genoeg seleksiedruk om die meer vrugbare verse te kan identifiseer. Verkoop alle oop verse en soek loopplek vir verse wat dragtig is, maar nie terug in die teelkudde gaan nie.

Tydens haar eerste reproduksiesiklus, is die belangrikste faktor dat die vers ’n lewensvatbare kalf produseer en in die tweede teelseisoen weer vinnig beset raak. Die tyd tussen die speen van haar eerste kalf en herkonsepsie is uiters belangrik vir hoë koeiproduktiwiteit binne die kudde.

Teelbulle

Paar verse met bulle wat bekend is vir klein kalwers by geboorte. Binne elke ras (sommige meer as ander) is daar bulle wat kalwers met ’n kleiner geboortemassa gee, maar wat gesond en lewenskragtig is. Alle bulle moet gesond, vrugbaar en vry van geslagsiektes wees, vóór hulle by die verse (of koeie) gesit word. – dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant

Vir meer inligting en bronverwysings, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.