gronderosie
Gronderosie

Estimated reading time: 7 minutes

Die eerste artikel in hierdie reeks het die belangrikheid van ’n gesonde watersiklus om soveel as moontlik reënwater binne-in die grond te kry, verduidelik. In die tweede artikel is die rol van veldtoestand in die watersiklus en die belangrikheid daarvan vir maksimum veldproduksie en voergehalte, uitgelig.

Baie veeplase in Suid-Afrika ondervind historiese hulpbronskade, wat veroorsaak dat ’n groot persentasie van die reënwater wegloop. Dit sluit ontblote grondgebiede of kaal kolle met min of geen plantegroeibedekking, gebiede met ernstige watererosieskade, en indringer- en verdigterbosse wat weidings van water beroof, in.

Hierdie skade kan nie deur normale beweidingspraktyke gerehabiliteer word nie en vereis spesiale maatreëls, wat as radikale veldverbetering bekend staan.

Lees die eerste klimaatslimartikel hier.

Herstel van ontblote grond

Die bogrond van kaal stukke grond word deur wind- en watererosie verwyder, wat die klipharde ondergrond met sy lae waterinsypeling blootlê. Dit laat die grond droog en met min plek waar saailinge kan vestig om die grondbedekking te verbeter.

Die eerste stap in die rehabilitasieproses is om die grond se hidrologie te herstel. Dit word gedoen deur die ondeurdringbare boonste grondlaag op te breek, sodat waterdeurdringing bevorder word. Dit kan op verskeie maniere gedoen word, afhangend van sekere faktore, waarvan die toestand van die blootgestelde grond (hardheid en diepte) en die grootte van die kaal kolle die belangrikste is.

Waar die kaal kolle relatief klein is, en waar die bogrond deur die hoefaksie van diere gebreek kan word, kan die losmaakproses bewerkstellig word deur ’n groot aantal vee vir kort tydperke daarop te konsentreer.

Nog ’n metode wat goeie resultate in die genoemde toestande gee, is om die kaal kolle met organiese materiaal te bedek, byvoorbeeld tuinafval, hooi, goed-verrotte kraalmis ensovoorts. Ronde hooibale werk besonder goed. Hierdie bale kan soos rolletjies watte uitgerol word om ’n goeie organiese materiaalbedekking te bied, dikwels met lewensvatbare saad in die hooi wat saailingvestiging terselfdertyd teweegbring.

Waar kaal kolle groot is en/of die grond té hard vir doeltreffende hoefaksie is, moet meganiese metodes ingespan word, met implemente wat ontwerp is om die grond op te breek. Twee bekende werktuie is die hap- en die vlekploeg.

Die vlekploeg werk goed in alle grondtipes en word bo die happloeg aanbeveel vir gronde met ’n hoë slikinhoud. Dit bestaan uit ’n skeurploeg wat met twee ploegskare aan weerskante toegerus is. Die toon aan die onderkant breek die harde grond oop, terwyl die twee ploegskare vore skep waarin reënwater kan ophoop en in die grond insypel.

Nadat die hidrologie van die kaal areas herstel is, is dit soms nodig om weidingsplante in te saai. Saad van die meer bekende grassoorte is wyd beskikbaar, maar saad van Karoostruike is skaars en slegs by enkele bronne beskikbaar, waaronder die Worcester-veldreservaat en Renu-Karoo in Prins Albert.

Aangesien saad duur is, behoort dit net gebruik te word indien dit blyk dat daar nie genoeg saad natuurlik in die stelsel voorkom nie.

 ’n Reeks goed beplande en geplaaste skanskorwe. (Foto: Gully Erosion Control Practices in Northeast China: A Review)

Rehabilitasie van watererosieskade

Daar is verskeie tegnologieë beskikbaar om grond met watererosieskade te rehabiliteer. Nie een hiervan is egter doeltreffend solank die oorsaak van watererosie nie eers aangespreek word en aktiewe erosie steeds plaasvind nie. Soms verg dit groot en duur erosiewerke, byvoorbeeld omgekeerde kontoere en groot stuwalle, wat eintlik net deur staatsfondse opgerig kan word.

In hierdie artikel word slegs op lae-koste metodes wat deur die produsent self opgerig en bekostig kan word, gefokus. Dié metodes werk almal op dieselfde beginsel – om die tempo van die watervloei te vertraag, sonder om die vloei van die water te keer of dit te laat opdam. Wanneer die watervloei vertraag word, word die slik in die stormwater binne die geërodeerde area neergelê, waar dit die area dan geleidelik met grond opvul totdat dit ten volle gerehabiliteer is.

Erosieslote kan met skanskorwe (of gabions in Engels) herstel word. Hulle dien nie as damwalle soos baie mense dink nie. Die water moet nog deur die rotsagtige struktuur van die skanskorf kan vloei. Dit vertraag bloot die tempo van watervloei, sodat die slik neergelê kan word.

Die plasing en afmetings van die skanskorwe moet deur ’n spesialis beplan en uitgevoer word. Swak beplande en geplaaste skanskorwe kan watererosie vererger, in plaas daarvan om dit te rehabiliteer.

Ander metodes behels die pak van ou bande, boomtakke of plat klippe in die pad van die water om dit te vertraag – nié om die vloei geheel en al te keer nie. Die geheim is om die hoogte van hierdie hindernisse geleidelik te verhoog namate die area agter die bande, takke of klippe ná elke reënbui met slik opvul.

Lees die tweede klimaatslimartikel hier.

Rehabilitasie deur bosbeheer

Houtagtige plante, met hul uitgebreide wortelstelsels, het die vermoë om weidingsplante van die beskikbare reënwater in die grond te beroof. In die Karoo word probleme met veral prosopis, driedoring, kriedoring, kapokbos, harpuisbos, Scholtzbos en katbos ervaar.

’n Reeks uitheemse indringers veroorsaak probleme in die kusgebiede van Suid-Afrika, insluitend rooikrans en verskeie wattelspesies. Die mees algemene indringers in die savanne-gebiede is soetdoring, withaak, swarthaak, driedoring, vaalbos, sekelbos en mopanie. Bankrotbos en katbos is ’n groeiende probleem in die natter grasveldgebiede, terwyl soetdoring ’n ernstige bosverdigter in die Oos-Kaap is.

Bosbeheermetodes sluit in beheerde veldbrande, handskoonmaak, meganiese verwydering met rollers en grondverskuiwingstoerusting, chemiese beheer met onkruiddoders, en biologiese beheer. ’n Paar dekades gelede, toe grond nog relatief goedkoop was, was die koste van bosbeheer hoër as die waarde van die grond. Produsente het eerder grond bygekoop as om die bosse te beheer. Vandag is die koste van beheer in die meeste gevalle laer as die koste van grond en maak bosbeheer ekonomies sin.

Sommige mense glo dat chemiese beheer die algehele uitwissing van al die houtagtige plante tot gevolg het. Die korrekte toediening van die korrekte aktiewe bestanddele en konsentrasies, verseker egter dat bosse baie selektief beheer kan word. Raadpleeg dus ’n kenner in dié verband.

Suid-Afrikaanse veeboere word met baie uitdagings gekonfronteer, wat onder andere droogtes, klimaatsverandering en aardverwarming insluit. ’n Goeie beginpunt om hierdie uitdagings te oorkom, is om elke druppel reënwater te laat tel. Radikale veldverbetering en die herstel van historiese skade aan die omgewing, sal verseker dat reënval doeltreffend deur weidings benut word.

Vir meer inligting en bronverwysings, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.