Jagters: Verwag ’n fees, maar ook ‘n paar uitdagings

Estimated reading time: 6 minutes

Die lang en uitmergelende droogte, tesame met die Covid-19-pandemie, het die jagbedryf groot skade berokken. Tydens die droogte het wild gevrek, wildboere hul wildgetalle minder gemaak en tydens die pandemie, toe jag tot stilstand gekners het, moes wildboere diere vir die vleismark aanbied om te kon oorleef.

Verskeie wildboere sê hulle gaan jagpryse vanjaar baie na aan verlede jaar se pryse hou om die bedryf weer behoorlik aan die gang te kry. Kenners voorspel egter dat jagpryse vir die meeste wildspesies in die volgende jaar of drie gaan styg, bloot as gevolg van die kleiner aanbod.

Wiaan van der Linde, ‘n bekende wildboer van die Noord-Kaap, sê hy het onlangs Amerika, Mexico en ’n paar lande in Europa besoek, en jagters daar is baie entoesiasties oor die vooruitsig om weer in Suider-Afrika te kom jag. Dit maak hom opgewonde oor die komende jagseisoen en hy glo die wildbedryf kan weer stadig maar seker begin kop optel.

Die mark vir teeldiere en jag

Dié positiewe sentiment behoort na die mark vir lewende teeldiere deur te trek. Die droogte en die pandemie het dit vir wildtelers moeilik gemaak. Hulle moes groot koste aangaan om hul teeldiere deur die droogte te voer en kon weens inperkings en veilings wat verbied is, nie hul diere bevredigend bemark nie.

Die plaaslike jagmark is baie gesond en Suid-Afrikaanse trofee- en verbruikersjagters het die wildbedryf die afgelope twee jaar grootliks aan die gang gehou. Vooruitsigte vir dié jagters lyk goed. Die wild behoort oral vet te wees, hoewel getalle ’n bekommernis is.

Die droogte het ’n groot uitwerking op die wildbedryf gehad. Talle wildboere moes hul intensiewe teelkampe se heinings afbreek en die wild op die oop plase laat loop. Daarby het die droogte nie selektief geoes nie en teel- sowel as trofeediere het in die slag gebly.

Baie wildboere het in die droogtetyd getalle verminder deur diere vir die vleismark uit te skiet. Dié tendens het gedurende die inperkingstyd voortgeduur, toe plaaslike jagters ook nie kon jag nie. Die droogte het ook van die wildboere gedwing om weer terug te val op beesboerdery, wat wildgetalle verder negatief beïnvloed het.

Wiaan glo jagpryse behoort dié seisoen nie baie van die vorige seisoen se pryse te verskil nie, maar weens die skaarste van wild en wildboere wat weer hul troppe se getalle moet opbou, kan jagpryse in die volgende twee tot drie jaar styg. Syns insiens sal daar steeds ’n goeie vraag na kleurvariasies binne die gewilde jagspesies wees en kry wildboere in sy omgewing nog sowat twee en ’n half keer meer vir sulke trofeediere as vir die gewone diere.

Hoewel die jagpryse vir die meeste vlaktewildspesies betreklik onveranderd behoort te bly, verwag kenners dat pryse in die volgende twee tot drie jaar kan styg.

Min wild en jagters beskikbaar

Fred Camphor, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV), stem saam dat die droogte sy tol in die wildbedryf geëis het. Daarby het die gebeure rondom en Covid-19 veroorsaak dat die ekonomie in die algemeen in die knyp is, en jagters minder geld beskikbaar gaan hê om te jag. Dit kan meebring dat daar minder jagters in die jagveld gaan wees en/of dat dié wat wel gaan jag, minder wild sal skiet.

Wildvangspanne berig dat wild skaars en duur is, wat bevestig dat daar waarskynlik nie soveel diere vir jag beskikbaar gaan wees as wat wildboere graag sou wil hê nie.

Ondanks die positiewe gevoel oor die jagseisoen, meen hy dat daar nog onsekerheid ook is. Die volgende Covid-19-vlaag word in Mei verwag en niemand weet hoe erg dit kan wees en watter vreemde besluite regerings weer kan neem nie. Verlede jaar in November is alle vlugte ná en van Suid-Afrika binne net twee dae gekanselleer. Plaaslike jagters sal aanhou om die bedryf te ondersteun, maar buitelandse jagters kan in so ’n geval op ander plekke in Afrika, waar minder onsekerheid is, gaan jag.

Lukas Holtzhausen wat Afrika Jagsafari’s in Namibië bestuur, sê buitelandse jagters is opgewonde, maar nog versigtig om jagte in Suid-Afrika te bevestig. Jagters is nie bereid om lank voor die tyd ’n deposito te betaal nie. Daarom het hy besluit dat deposito’s eers twee weke voor die aanvang van die jagtog betaal hoef te word.

Hy ontvang hoofsaaklik buitelandse trofeejagters. Die meeste vlaktewildspesies is beskikbaar en hy is veral bekend dat hy Damara dik-dik-trofeediere aanbied, iets wat eie aan Namibië en betreklik skaars is.

Lees meer oor vuurwapenlisensies vir die jagbedryf hier.

In Namibië is daar ná twee jaar se goeie reën weer tekens dat die wildtroppe begin groei. Daar is baie kalwers en lammers in die troppe.

Uitdagings ná die baie reën

Lukas sê ná twee jaar van goeie reën in dié land, begin die wildstapel herstel en loop daar baie kalwers en lammers in die wildtroppe. Die trofeediere het met die hulp van voer die droogte betreklik goed oorleef, maar die vroulike diere het baie swaar gekry.

Boskos, wat hy op die sowat 11 000ha wildplaas gemaak het, het bygedra om die voerkoste laag te hou. Een ding wat hy egter geleer het, is dat hy nooit weer teen ’n droogte sal baklei nie. ’n Mens kom op ’n punt waar jy nie meer kan voer nie, sê hy, maar ook nie kan bekostig om op te hou voer nie.

Veldbrande is veral ’n kwelling vir hom. Verlede jaar het ’n groot gedeelte van hul jaggrond afgebrand. Met die goeie reën is daar baie materiaal wat kan brand, en met ’n sterk wind wat dit aandryf, is dit feitlik onmoontlik om sulke brande te keer.

Gert Janse van Rensburg van Kameeldoring Safari’s by McCarthy Rest in die Kalahari, sê hy moes ook deur die droogte voer, en hul wildgetalle is nou voldoende. Hulle ontvang hoofsaaklik plaaslike verbruikersjagters. Hy verwag dat ná die goeie reën, dit vanaf Mei tot Junie ’n uitdaging gaan wees om in die ruie veld te jag. Om die Kalahari so getooi te sien, is egter ’n unieke ervaring.

Volgens ’n onlangse markverslag deur African Wildlife Auctions het die wildbedryf, ná ’n bloeitydperk tot 2017, in die laaste vier jaar groot uitdagings ervaar. Veranderinge in die bedryf kan volgens dié verslag grootliks aan markkragte, die voortslepende droogte, beleidsonsekerheid en die wêreldwye inperkings weens Covid-19 toegeskryf word.

Dit het die inkomstevlakke van wildondernemings laat terugsak na vlakke wat in 2009 gegeld het. Wildgetalle het tot 2013-syfers gedaal en pryse wat nou behaal word, stem ooreen met dié van 2007. Intussen is aanpassings gemaak om uitdagings die hoof te bied, en die bedryf soepel en aanpasbaar te maak sodat dit volhoubaar kan bly. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Wiaan van der Linde by 082 454 5325 of wiaan@wintershoek.com, of Fred Camphor by 082 445 0498 of fcamphor@mweb.co.za.

Popular stories