Tuesday, October 22, 2024
HomeMagazinesBekamp ensoötiese aborsie op jou plaas

Bekamp ensoötiese aborsie op jou plaas

-

Estimated reading time: 5 minutes

In ons geveg teen die verskeidenheid dieresiektes wat produktiwiteit op plase bedreig, is kennis van die werking, kliniese tekens en bekamping van siektes van kritiese belang. Ensoötiese aborsie, wat deur die Chlamydia abortus-bakterie veroorsaak word, kan ’n baie negatiewe uitwerking op die produksiestelsel op jou plaas hê. Dit is dus belangrik om kennis oor dié siekte in te win.

Volgens Jannie Fourie, Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) produksie-adviseur in die Wes-Kaap, is die grootste uitdaging dat die Chlamydia abortus-bakterie binne die selle van diere lewe en in baie gevalle vir lank geen kliniese tekens veroorsaak nie. Verder kruip die bakterium binne liggaamselle weg en kan antibiotika en teenliggame dus nie met bakterieë in aanraking kom nie.

Dit is eers wanneer die gasheerdier onder stres verkeer, wat die bakterieë vinnig kan vermeerder. “Tydens vermenigvuldiging bars die besmette sel oop en dan het antibiotika en entstof wel ’n effek.”

Fourie skryf die volgende oor die siekte:

 Kliniese tekens

 Jaar 1

Die skoon kudde raak besmet deur besmette draerdiere wat ingekoop word. Hierdie diere kan aborteer of normaal lam. In beide gevalle word kieme in die omgewing uitgeskei deur uitloopsels tydens estrus of deur besmette nageboortes. Vatbare ooie en jong lammers neem deur weiding besmette materiaal in.

Die gevolge van besmetting in vatbare diere:

  • Dragtige diere: Ooie wat tydens vroeë en middel-dragtigheid besmet raak, sal die huidige dragtigheid aborteer. Ooie wat in laat-dragtigheid besmet raak, sal in die volgende lamtyd aborteer. Ooie wat geaborteer het, is gewoonlik immuun teen die siekte, maar 20% van hierdie ooie kan wel weer met die volgende dragtigheid aborteer.
  • Pasgebore lammers: Indien ’n ooilam besmet is, sal sy latente infeksie kry en later in haar lewe, as sy dragtig raak, aborteer.

Jaar 2

Dekkingsperiode: Na aborsies het ooie permanente besmetting in die voortplantingskanaal. Die besmetting word tydens die teelseisoen geaktiveer. Die besmetlike bakterieë word tydens estrus uitgeskei. Verder kan die meganiese oordraging van kieme tydens dekking plaasvind.

 Dragtigheid

  • Hoë aborsiesyfer in tweede jaar. Aborsiestorms van 30 tot 60% kan voorkom.
  • Reaktivering van die bakterieë vind gewoonlik rondom dag 90 van dragtigheid plaas en ooie sal ’n paar weke voor lamtyd aborteer.
  • Ooie wat in die eerste jaar geaborteer het, sal nie weer aborteer nie, maar skei kieme uit tydens lamtyd en besmet die omgewing.
  • Meer vatbare ooie en lammers raak besmet in jaar 2.

Jaar 3 en vorentoe

  • Chlamydia abortus-kieme vestig nou permanent in die kudde.
  • Aborsiesyfer daal vanaf ’n hoë 30 tot 60% na sowat 5 tot 15%.
  • Aborsie kom nou hoofsaaklik in vervangingsooitjies voor.
  • Enkele aborsies kom in ouer ooie, wat nie voorheen aan kieme blootgestel was nie, voor.

Diagnose

Sodra die kliniese tekens, aborsies, manifesteer, moet monsters van nageboortes so gou as moontlik na geboorte geneem word en na ’n laboratorium gestuur word. Die geaborteerde fetus kan ook na ’n veearts geneem word vir verdere ondersoek. Die veearts kan ook monsters van vaginale uitloopsel wegstuur vir ontleding en/of ’n bloedmonster kan geneem word.

Beheermaatreëls

Korttermyn beheer tydens aborsiestorm:

  • Enting help nie tydens ’n aborsiestorm nie.
  • Identifiseer ooie en isoleer hulle dadelik van die kudde. Onthou, vaginale uitskeiding besmet weiding nog vir dae na aborsies.
  • Kontak u veearts wanneer aborsievlakke bo 3% is sodat hy vir die siekte kan toets.
  • Ontsmet kampies en verbrand beddegoed.
  • Verwyder en raak ontslae van geaborteerde materiaal op ’n geskikte plek en manier (verbrand) aangesien katte toksoplasmose kan oordra.
  • Sodra die diagnose bevestig, is, kan skape met oksitetrasiklien behandel word.
  • Ooie wat geaborteer het, moet nie as plaasvervanger-moeders gebruik word nie aangesien hulle hanslammers ook sal besmet.
  • Dus, wanneer die siekte vermoed word, moet swanger vroue nie in lamtyd met skape in aanraking kom nie, aangesien mense kan besmet raak en swanger vroue kan aborteer. Dra handskoene en skrop na hantering van besmette ooie.

Langtermyn-beheer

  • Ensoötiese aborsie vestig kronies in ’n kudde en reproduksieverliese sal tydens elke lamseisoen voorkom.
  • Volg ’n goeie entingsprogram en ent vervangingsooie. Entstof moet te alle tye tussen 2°C tot 8°C grade geberg en teen direkte sonlig beskerm word.
  • Koop slegs ooie van kuddes wat siektevry van ensoötiese aborsie verklaar is.
  • Entstof bied beskerming teen aborsies en uitskeidings van bakterieë verminder drasties.
  • Lammers moet na die ouderdom van vyf maande geënt word.
  • Ooie moet binne vier maande voor paring geënt word, maar nie minder as vier weke voor paring nie.
  • Dit word aanbeveel dat dragtige diere nie geënt word nie.
  • Ooie wat hul lammers verloor, moet uitgeskot word.

Oordrag

  • Die siekte word deur draer-ramme of -ooie in die kudde ingebring.
  • Die siekte kan deur nageboortes wat deur roofdiere of voëls rondgesleep word, ingebring word.
  • Springbokke kan ook die Chlamydia-reservoir wees.
  • Vaginale uitskeidings, uriene en mis word vanaf besmette diere oorgedra. Uitskeidings kan tot twee jaar ’n deurlopende bron van besmetting wees.
  • Wanneer diere hoes, kan die besmette vogdruppels deur ander diere ingeasem word.
  • Vlieë wat op besmette oë van een skaap na ’n ander gesonde oog gaan, kan die siekte versprei.
  • Meganiese oordraging van kieme kan tydens dekking plaasvind.
  • Dit is uitsonderlik, maar dit is moontlik om diere te besmet deur klere wat besmet is nadat ’n ooi met die geboorteproses gehelp is en weer met gesonde diere se mond of neus kontak het.
  • Onthou: Geïnaktiveerde entstof verhoed nie infeksie of verspreiding van dier tot dier nie, maar slegs ernstige gevolge van besmetting.
  • Omdat Chlamydia in die meeste liggaamselle kan lewe, kan weiding deur alle liggaamsuitskeidings besmet word.

Oorlewing van Chlamydia

Die Chlamydia abortus-bakterie is baie gevoelig vir ontsmettingsmiddels. Verder kan sonlig en hitte die bakterie binne ure dood. Die bakterie kan egter vir ’n paar dae in water oorleef.

Siektes veroorsaak deur Chlamydia

  • Lammers versmoor in baarmoeder.
  • Resorpsie van embrio en fetusse.
  • Longontsteking word deur noue kontak oorgedra.
  • Blindheid by jong lammers (blou oë).
  • Swak lammers met geboorte.

Samevatting

Indien u besmetting vermoed, kontak u veearts en beplan kort- en langtermyn strategieë. Inenting moet geskied by nie-dragtige diere, en dan is ooie beskerm vir hul volgende dragtigheid. Onthou dat die entstowwe nie diere teen infeksie beskerm nie. Onthou, ent in die eerste jaar alle ooie en ooilammers. Ent alle nuwe ooilammers en aangekoopte diere in die daaropvolgende jare.

Kontak Jannie Fourie by 083 564 1105 of  jannie@overbergwireless.co.za. Lees hier oor beesbrusellose wat ook aborsies kan veroorsaak.

Must Read

RSG Landbou: 22 Oktober 2024 – geborg deur Plaas Media

‘n Boer van Bela-Bela in Limpopo is vanjaar aangewys as TLU SA se Jongboer van die Jaar. Wian Süllwald van RK Boerdery, vertel van...