Brusellose is al beskryf as ’n “emosionele siekte”. Geen produsent is ooit bly om die nuus van ’n positiewe Brucella-toets te ontvang nie. Die siekte gaan gepaard met beelde van kwarantyn, aborsiestorms, verlore produksie (verlies aan melkproduksie, swak kalwers, laer vrugbaarheid in koeie én bulle), uitskot van besmette diere en soönose. Eenvoudig gestel: Brusellose is sinoniem met verlore inkomste en dit is ’n gesondheidsrisiko vir die boerderygemeenskap!

Lees Deel 2.

Wat is brusellose?

Brusellose (aansteeklike misgeboorte) is ’n bakteriële siekte in beeste wat deur die bakterieë Brucella abortus veroorsaak word. Skape word met Brucella ovis en bokke met Brucella melitensis besmet, maar spesie-oorkruising bestaan wel. Die bakterieë leef binne-in die liggaamselle, wat beteken dat die immuunstelsel nie die bakterieë kan raaksien om dit te beveg nie. Die organisme is baie lief vir koue toestande, maar kan glad nie in uiters warm toestande oorleef nie. Die bakterieë kan tot agt maande in klam, modderige grond oorleef.

Besmetting van beeste

Die hoofroete van besmetting of oordraging is per mond. Koeie is nuuskierige diere en sal aan ’n pasgebore kalf of geaborteerde fetus ruik en lek. So word die bakterieë in die mond opgeneem, dring deur die slymvliese en versprei deur die bloedstroom na die limfknope en reproduktiewe organe.

Die bakterieë kan ook deur die slymvliese van die oog en spene opgeneem word en dus speel vlieë ’n belangrike rol in die verspreiding van die siekte. Daar is ’n hoë risiko vir besmetting as kunsmatige inseminasie met besmette semen gedoen word. ’n Dragtige koei kan ook die besmetting na haar ongebore fetus oordra. Melk van ’n besmette koei bevat die bakterieë en kan diere én mense besmet.

Die organisme groei buitengewoon maklik in die besmette baarmoeder, soveel so dat daar sowat 100 miljoen besmette dosisse per nageboorte is. Dit beteken dat een siek koei die omgewing besmet met genoeg bakterieë om 100 miljoen ander koeie te besmet. Om sake nog ingewikkelder te maak, neem dit nie ewe lank vir koeie om tekens van die besmetting te wys nie. Die inkubasietydperk wissel en kan enigiets van 30 dae tot twee jaar neem. In daardie tydperk toets verse en koeie negatief, maar hulle is reeds besmet.

Invloed op produsente

Brusellose is ’n staatsbeheerde siekte. Dit behels dat alle besmette diere by die Departement van Landbou aangemeld moet word. Die staat het die siekte as gevolg van die volgende redes tot beheerde siekte verklaar: Dit hou ’n gevaar in vir mense, dit lei tot direkte ekonomiese verliese en dit het ’n impak op die uitvoer van lewendehawe. Brusellose is ’n soönose – dit beteken die bakterieë kan mense besmet.

Menslike brusellose, wat deur Brucella abortus veroorsaak word, staan bekend as wisselkoors en Maltakoors indien dit deur Brucella melitensis veroorsaak word. Die algemeenste simptome lyk soos griepsimptome – koors, spierpyn, nagsweet, moegheid en in kroniese gevalle kan hartklepontsteking en aborsies by vroue voorkom. Mans kan testikulêre ontsteking en ’n verlies aan vrugbaarheid ervaar met kroniese infeksies. Indien die siekte vroegtydig gediagnoseer word, kan dit behandel word.

Die hantering van besmette kalwings- en aborsiemateriaal, asook die inname van ongepasteuriseerde besmette melk, is die hoofbronne van besmetting by mense. Dus ervaar boere, plaaswerkers, veeartse en abattoirpersoneel die grootste risiko vir besmetting. Beide entstowwe op die mark is lewendig en blootstelling aan die entstof, byvoorbeeld deur ’n naaldprik, kan tot besmetting lei.

In deel 2 van hierdie artikel, kyk ons na die voorkoming en beheer van dié gevaarlike siekte, asook ’n geskikte inentingsprogram en verantwoordelike optrede indien die siekte in ’n kudde opgemerk word. – Dr Chriche du Plessis, MSD Dieregesondheid

Vir meer inligting, skakel MSD Animal Health by 011 923 9300 of besoek www.msd-animal-health.co.za.

***

Die Nasionale Dieregesondheidsforum het einde 2016 hulle splinternuwe webwerf bekendgestel, wat as platform vir die deel van noodsaaklike inligting en skakeling met kundiges kan dien. ‘n Baie belangrike fokus van die webtuiste is om kennis oor Brusellose te deel. Besoek www.nahf.co.za vir meer inligting.
Lees hier nog oor Brusellose op AgriOrbit.

***

Luister hier na ‘n potgooi oor Brusellose: