HomeMagazinesRegverdige en billike vergoeding vir grond

Regverdige en billike vergoeding vir grond

Estimated reading time: 5 minutes

  • Artikel 25(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) (die Grondwet) bepaal dat eiendom slegs ingevolge ’n algemeen-geldende regsvoorskrif, vir ’n openbare doel of belang, onteien mag word. Dit is onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word aanvaar is, óf deur ’n hof bepaal of goedgekeur is.
  • Groot openbare debatte word tans gevoer oor die nuwe Onteieningswetsontwerp (B 23 – 2020) wat nou vir oorweging by die nasionale wetgewer dien. Hoewel baie politiek rondom hierdie saak bedryf word, is dit ongetwyfeld so dat die bepalings rondom regverdige en billike vergoeding by onteiening sy oorsprong in die verlede het.
  • Die Wet op die Herstel van Grondregte, 1994 (Wet 22 van 1994) (die Restitusiewet) gee gevolg aan artikel 25(7) van die Grondwet wat behels dat ’n persoon of gemeenskap wat na 19 Junie 1913 van die besit van eiendom op grond van rassediskriminasie ontneem is, geregtig is op teruggawe van die eiendom óf billike vergoeding.
  • Artikel 2 van die Restitusiewet bepaal dat eisers nie geregtig is op enige van bogenoemde vergoedings indien die betrokke eiser wel regverdige en billike vergoeding ten tye van die ontneming ontvang het nie. Dieselfde artikel vermeld artikel 25(3) van die Grondwet eksplisiet as die voorgeskrewe maatstaf vir wat as regverdig en billik beskou moet word.

Artikel 25(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) (die Grondwet) bepaal dat eiendom slegs ingevolge ’n algemeen-geldende regsvoorskrif, vir ’n openbare doel of belang, onteien mag word. Dit is onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word aanvaar is, óf deur ’n hof bepaal of goedgekeur is.

Groot openbare debatte word tans gevoer oor die nuwe Onteieningswetsontwerp (B 23 – 2020) wat nou vir oorweging by die nasionale wetgewer dien. Die omstredenheid handel eerstens oor onteiening as ’n internasionaal-erkende wyse waarop die staat by magte is om privaateiendom te bekom en dit vir ’n openbare doel aan te wend. Tweedens en gelyklopend daarmee, én meer prominent, is die pogings om onteiening sonder vergoeding onder sekere omstandighede by wyse van die nuwe voorgestelde wetgewing te veroorloof.

Hoewel baie politiek rondom hierdie saak bedryf word, is dit ongetwyfeld so dat die bepalings rondom regverdige en billike vergoeding by onteiening sy oorsprong in die verlede het. Persone is nie alleen op grond van ras van eiendomsregte ontneem nie; hulle is ook van hul reg op regverdige en billike vergoeding ontneem.

Lees meer oor eiendom as belegging hier.

Vergoeding na 1994

Wetgewing is na 1994 daargestel wat aan persone wat sonder vergoeding of met onvoldoende vergoeding van hul eiendomsregte ontneem is, die reg gegee het om voor 31 Desember 1998 eise in te stel ten opsigte van hul historiese verliese en gevolglike verpligte skikking van die staat deur:

  • Die grond by die huidige eienaars te bekom en aan die eisers terug te gee.
  • Die eisers geldelik te vergoed.
  • Alternatiewe staatsgrond beskikbaar te stel.

Die wetgewing staan as die Wet op die Herstel van Grondregte, 1994 (Wet 22 van 1994) (die Restitusiewet) bekend en gee gevolg aan artikel 25(7) van die Grondwet wat behels dat ’n persoon of gemeenskap wat na 19 Junie 1913 van die besit van eiendom op grond van rassediskriminasie ontneem is, geregtig is op teruggawe van die eiendom óf billike vergoeding.

Artikel 2 van die Restitusiewet bepaal dat eisers nie geregtig is op enige van bogenoemde vergoedings indien die betrokke eiser wel regverdige en billike vergoeding ten tye van die ontneming ontvang het nie. Dieselfde artikel vermeld artikel 25(3) van die Grondwet eksplisiet as die voorgeskrewe maatstaf vir wat as regverdig en billik beskou moet word.

Lees meer oor die gevolge van onwettige uitsetting hier.

Regverdig en billik

In praktyk sal die artikel 25(3)-maatstaf gebruik word om vergoeding te bereken waar die teruggee van grond nie moontlik is nie of waar eisers wel vergoeding ontvang het, maar nie na behore vergoed is nie.

In die grondwetlike hofsaak van Florence versus Die Republiek van Suid-Afrika 2014(6) SA 456 (CC) is die berekeningswyse van hierdie vergoeding breedvoerig bespreek. In die saak kon die aansoeker nie ’n eiendom bekom waarvoor daar oor ’n tydperk van 14 jaar in paaiemente betaal is nie. Hulle was op grond van die destydse Wet op Groepsgebiede, 1950 (Wet 41 van 1950) verhoed om eienaarskap van die eiendom te kry, en het dienooreenkomstig ’n eis ingedien.

In die saak het die hof onder andere bevind dat die eisers geregtig is op vergoeding wat bereken word op die verlies ten tye van die ontneming. Die hof het dan ook bevind dat die eiser geregtig is op vergoeding, wat bereken word op die verskil tussen vergoeding wat ten tye van die ontneming betaal is en die markwaarde van die eiendom.

Dit het tot gevolg dat markwaarde in die uitspraak en in die Grondeisehof, gelykgestel is aan regverdige en billike vergoeding ingevolge artikel 25(3) van die Grondwet.

Met bogenoemde in gedagte en teen die agtergrond van huidige politieke debatte oor die onderwerp, behoort dit interessant te wees om te sien of regverdige en billike vergoeding konsekwent toegepas sal word by die bepaling van die geldwaarde en vergoeding van die onregte van die verlede, en die wyse waarop daar deur die staat te werk gegaan sal word om privaatgrond in die hede te bekom ten einde die grondhervormingsprogram te laat slaag.

Dit sal veral betekenisvol wees om te sien of regverdige en billike vergoeding soos in die Grondwet bedoel, twee verskillende toepassings sal hê wat deur konteks of verskillende faktore bepaal sal word. Indien wel, watter faktore sal gebruik word om hierdie verskillende toepassings grondwetlik en regtens te regverdig?

Dit sal natuurlik opgeweeg moet word teen die feit dat die Grondwet, en veral artikel 25(3), vir bykans 30 jaar al toegepas en deur die howe geïnterpreteer is, en dat ongeveer 70 000 uit sowat 76 000 restitusie-eise in daardie tydperk op daardie basis afgehandel is. – Hans-Jurie Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Must Read

Ekonomiese oorsig vir April: Landboumarkte wissel

Estimated reading time: 3 minutes Die rand het tydens April redelik sywaarts beweeg en gedurende die middel van April verswak, maar het weer goed versterk,...