Die gevolge van onwettige uitsetting

Estimated reading time: 5 minutes

  • Die Suid-Afrikaanse Grondwet beskerm eiendomsreg, maar beperk terselfdertyd grondhuurders teen onwettige uitsetting deur grondeienaars.
  • Die sleutel tot die beskerming van hierdie persone en die meegaande beperking op eiendomsreg is woonregte.
  • Die ESTA-wet het betrekking op persone wat met toestemming of ’n ander regsgeldige reg op landbougrond van iemand anders woon. Volgens die wet het ‘uitsit’ of ‘uitsetting’ ’n wye definisie en sluit dit nie net die verwydering van ’n persoon van grond af in nie.
  • Die PIE-wet is van toepassing op persone wat grond beset en bewoon sonder toestemming van die eienaar. Dié wet omskryf ‘uitsit’ as om ’n persoon teen sy of haar wil te ontneem van die besetting van ’n gebou of struktuur, of die grond waarop so ‘n gebou of struktuur opgerig is.
  • In beide die ESTA- en die PIE-wette is ’n onwettige uitsetting strafbaar met ’n boete of gevangenisstraf van hoogstens twee jaar, of beide gevangenisstraf en ‘n boete.

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) (die Grondwet) beskerm eiendomsreg, maar beperk terselfdertyd grondeienaars se regte om persone wat op hulle grond (met of sonder toestemming) woon, uit te sit.

Die sleutel tot die beskerming van hierdie persone en die meegaande beperking op eiendomsreg is woonregte – die reg om ’n dak oor jou kop te hê. Woonreg of verblyfreg is nie ’n onbeperkte reg nie, maar met die Grondwet was die doel om, waar eiendomsreg met hierdie reg sou bots, geskille op ’n menswaardige wyse onder die beheer van die howe te bestuur en bereg.

Twee bepalings van die Grondwet het betrekking op die opgradering regulering van verblyf- of woonregte, naamlik Artikels 25(6) en 26 (3).

Artikel 26(6) bepaal soos volg: “ ’n Persoon of gemeenskap wie se besitreg van grond regsonseker is as gevolg van wette of praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, is geregtig, in die mate wat deur ’n Parlementswet bepaal word, op óf besitreg wat regseker is óf gelykwaardige vergoeding.”

Artikel 26(3) bepaal soos volg: “Sonder ’n hofbevel wat na oorweging van al die tersaaklike omstandighede toegestaan is, mag niemand uit hul woning gesit word en mag niemand se woning gesloop word nie. Geen wetgewing mag arbitrêre uitsettings veroorloof nie.”

Leer meer oor die beëindig van verblyfreg hier.

Die ESTA- en PIE-wette

Ooreenkomstig hierdie bepalings het die parlement wetgewing gevolglik aanvaar om, enersyds, meer eksplisiete en praktiese beskerming van regte ter sprake te gee en, andersyds, proses- en merietevereistes voor te skryf vir die hantering van geskille, veral by die oorweging en toestaan van uitsettingsbevele. Hierdie wetgewing staan bekend as die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997) (die ESTA) en die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond, 1998 (Wet 19 van 1998) (die PIE-wet).

Ten einde te verseker dat hierdie wetgewing nagekom word bevat beide die ESTA en die PIE-wette bepalings wat dit ’n strafbare misdryf maak om iemand op enige ander wyse as voorgeskryf in die betrokke wetgewing en sonder ’n hofbevel uit te sit van grond.

Uitsetting

Die ESTA-wet het betrekking op persone wat met toestemming of ’n ander regsgeldige reg op landbougrond van iemand anders woon. Volgens die wet het ‘uitsit’ of ‘uitsetting’ ’n wye definisie en sluit dit nie net die verwydering van ’n persoon van grond af in nie. Die bepaling omskryf ‘uitsit’ as om ’n persoon van die bewoning of gebruik van grond of toegang tot water wat ingevolge die wet met ’n verblyfreg verband hou, teen sy of haar wil te ontneem. ‘Uitsetting’ het ’n ooreenstemmende betekenis.

Die PIE-wet is van toepassing op persone wat grond beset en bewoon sonder toestemming van die eienaar. Dié wet omskryf ‘uitsit’ as om ’n persoon teen sy of haar wil te ontneem van die besetting van ’n gebou of struktuur, of die grond waarop so ‘n gebou of struktuur opgerig is. ‘Uitsetting’ het volgens die PIE-wet dan ook ‘n ooreenstemmende betekenis.

Indien ’n grondeienaar of persoon in beheer van grond iemand sou uitsit en die uitsetting kan binne die strekking van bogenoemde definisies tuisgebring word, sal die enigste wettige verweer teen ’n kriminele klag van ’n onwettige uitsetting, die aanbied wees van ’n hofbevel wat ooreenkomstig die tersaaklike wette aangevra en toegestaan was.

Gevolge van onwettige uitsetting

In beide die ESTA- en die PIE-wette is ’n onwettige uitsetting strafbaar met ’n boete of gevangenisstraf van hoogstens twee jaar, of beide gevangenisstraf en ‘n boete. In die geval van beide wette sou ’n persoon wat onwettig uitgesit is, privaatvervolgings kan instel.

’n Persoon wat beskerming onder die ESTA geniet en onwettig uitgesit sou word, sou daarop geregtig wees om die hof te nader vir ’n bevel waarin die eienaar beveel word om die persoon se regte te herstel. Dit sou byvoorbeeld kon inhou dat, waar ’n huis van die persoon tydens ’n onwettige uitsetting afgebreek word, die hof kan las dat die huis herbou moet word om gevolg te gee aan die bevel om regte te herstel.

Uit hoofde van die wye definisies van uitsetting en die meegaande moontlike negatiewe gevolge van ’n onwettige uitsetting, is dit wys om ’n verblyfkwessie omsigtig te benader. Waar daar enige twyfel bestaan oor die regte optrede onder bepaalde konflik-omstandighede, moet behoorlike regsadvies ingewin word voor stappe geneem word.

Binne die raamwerk van die Grondwet is dit belangrik om te onthou dat fundamentele regte ter sprake is. Howe sal onwettige optrede by uitsettings deur die spreekwoordelike ‘bril’ van die oogmerke van die Grondwet oorweeg. Versigtige optrede deur grondeienaars is dus van kardinale belang. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak die outeur by 018 297 8799 of hj@mmlaw.co.za.

Onbetaalde skorsing as ‘n alternatief tot ontslag

Estimated reading time: 4 minutes Die Wet op Arbeidsverhoudinge,1995 (Wet 66 van 1995) (die...

’n Beplanningskalender vir herkouerprodusente

Estimated reading time: 8 minutes Veeplaas het by finansiële kenners gaan aanklop om uit...

Regverdige en billike vergoeding vir grond

Estimated reading time: 5 minutes Artikel 25(2) van die Grondwet van die Republiek van...

Predators and problem animals on South African livestock farms

Estimated reading time: 6 minutes Livestock producers face many challenges, such as predator-related losses....