Die oudste Boerbokskou ter wêreld en vele meer by vanjaar se 197ste Somerset-Oos-skou

Estimated reading time: 3 minutes

Somerset-Oos se bykans 200-jaar-oue landbouskou het onlangs groot indruk gemaak danksy ’n massiewe spanpoging van die skoukomitee, borge, uitstallers en vertoners.

Die skou het met ‘n sterk landboukomponent gespog. Dit het ‘n wolvagkompetisie, Samic se Slaglamkompetisie, ‘n jeugskou en ’n OVK-baaldrakompetisie vir die sterk manne en dames ingesluit. Besoekers kon ook ‘n hondeskou, gimnastiekvertoning en 4×4-pret vir oud en jonk meemaak.

Volgens die skou se organiseerder, Ezelle Marais, het die jeugskou se afdeling vir kulinêre kuns ook goed afgeloop, en natuurlik sal geen landbouskou volwaardig wees sonder ’n lekker saamkuier-en-dans-aand nie. Sy sê dit is te danke aan al die borge asook die besoekers waarsonder ’n landbouskou soos dié nie moontlik sou wees nie. “Ons moet ons plattelandse skoue oppas en sorg dat dit nie uitsterf nie,” het sy gesê.

Lees meer oor Maart se skou hier.

Boerbokke, perde en slaglammers van formaat

Die Somerset-Oos-skou se Boerbokskou word as die oudste ter wêreld gereken. Dié dorp se landbouvereniging bestaan al sedert 1826. Met die oog op die Oos-Kaapse Boerbokveiling wat binnekort op Somerset-Oos gehou word, was dit vanuit die staanspoor duidelik dat die kompetisie in die arena by die Boerbokke, Kalahari Reds en Savannas straf sou wees.

In die perde-arena was die atmosfeer eweneens gelaai. Ruiters en hul perde het sake uitgespook in die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir Kaapse Boerperde, die Saalperd-streekskou, en miniatuurperd- en ope-klasse. Die oudste deelnemer was Gert Lötter van Tarkastad wat sy lewe lank al met perde teel. Vanjaar het dié kranige 85-jarige ruiter ‘n eerste plek in die plesierperd vyfgang-klas losgeslaan met sy perd Beau’s New Star. Die jongste deelnemer was die een-jaar-en-sewe-maande-oue Freddie Lombard op die miniatuurperd, Goliat.

  • Die eienaar van die juniorkampioen- en reserwe-juniorkampioen-Kalahari Red-ooie was Pieter Jordaan.
    Die eienaar van die juniorkampioen- en reserwe-juniorkampioen-Kalahari Red-ooie was Pieter Jordaan.

Samic se Slaglamkompetisie het vanjaar ’n rekord aantal inskrywings van verskillende skaaprasse uit alle oorde ontvang. Die wenner van die 120-dae oue lammers was Pieter Jordaan. Volgens Wessel Jansen, ’n Samic-beoordelaar, word ‘n slaglamkarkas volgens gewig, bouvorm, en vetverspreiding oor die karkas beoordeel.

  • Gert Lötter op sy perd Beau’s New Star, die grootkampioen-vyfgang-plesierperd.
    Gert Lötter op sy perd Beau’s New Star, die grootkampioen-vyfgang-plesierperd.

Perde-kampioenskap:

  • Suid-Afrikaanse junior kampioenmerrie: Replica Rosie Ann met Clyde Pringle van Fort Beaufort.
  • Suid-Afrikaanse senior kampioenmerrie: Indiana Roxy van die Marais-familie van Cookhouse.
  • Suid-Afrikaanse senior kampioenhings: Indiana Hiersek van die Marais-familie van Cookhouse.
  • Suid-Afrikaanse kampioen driegang-kinderryperd: Colchester Statesman vertoon deur Mikael Daniell van Kirkwood.
  • Suid-Afrikaanse kampioen vyfgang-kinderryperd, Waterkrans Astris met Bianca Schenk van Cradock.
  • Suid-Afrikaanse groot kampioensiertuig: Indiana Hiersek vertoon deur Ezelle Marais van Cookhouse.
  • Suid-Afrikaanse groot kampioen-enkeltuig: Colchester Bold Knight vertoon deur Carlos Tutton vir HF en Colette Botha van Colchester.
  • Suid-Afrikaanse groot kampioen-driegang: Indiana Hiersek vertoon deur Reagan Makwena vir die Marais-familie van Cookhouse.
  • Suid-Afrikaanse groot kampioen-vyfgang: Indiana Pampoen vertoon deur Steven Ferreira vir die Ferreira-familie van Port Elizabeth. – Deur Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Ezelle Marais by of 082 552 2309 of ezelle@r63.co.za.