Estimated reading time: 7 minutes
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Limpopo het op 22 April hulle jaarlikse kongres in Polokwane aangebied. Die tema vir die dag was ‘Volhoubare rooivleis: Gesondheid, veiligheid en vertroue’.
Sprekers op die dag het onder andere ingesluit dr Schabort Froneman, tegniese herkouerbestuurder by Zoetis, Frik van Rooyen, voorsitter van die Nasionale RPO, dr Peter Evans, hoofveearts van Rooivleisbedryfsdienste, en Gerhard Coetzer van die Departement van Landbou se veeartsenykundige dienste in Limpopo.
Respiratoriese en reproduksiefokus by RPO Limpopo-kongres
Dr Schabort Froneman se praatjie het klem geplaas op die inenting van teeldiere teen respiratoriese siektes wat mettertyd reproduksieprobleme veroorsaak. Die twee dieresiektes wat onder die vergrootglas geplaas is, was beesvirusdiarree (BVD) en aansteeklike beesrinotrageïtis (IBR).
Voor hy die by siektes self uitgekom het, het dr Froneman eers oor ‘n paar basiese inentingsbeginsels gepraat wat inenting. Hy het inenting met versekering of risikobestuur vergelyk en gesê dit is ’n stap wat geneem word om moontlike mortaliteite te voorkom wat produksie kan kniehalter. Hy het beklemtoon dat sekere inentings wetlik verpligtend is. Inenting is ook belangrik vir passiewe immuniteit – veral in die konteks van siektes soos BVD en IBR.
Hy het ook uitgebrei oor hoe inenting en immunisering werk en waarom dit soms faal.
Hoe werk dit?
Immunitieit word opgebreek in nie-spesifieke of spesifieke (aanpasbare) immuniteit. Nie-spesifieke immuniteit is die eerste linie van verdediging in ’n dier, en meganiese immuniteit verwys na die fisiese en chemiese keermuur (soos die vel). Aangebore immuniteit verwys na oordraagbare immunteit – wat dus van die ma af oorgedra word (passiewe immuniteit) of wat geneties in die dier voorkom.
Spesifieke (aanpasbare) immuniteit is waar inentings ‘n rol begin speel. Hierdie stelsel teiken sekere patogene en die liggaam kan voortaan die virus onthou. Hummorale immuniteit word verkry deur dooie entstof. Selbemiddelde immuniteit word verkry deur lewendige entstof.
Van die vernaamste redes vir inentings wat faal, is die onderbreking van die koueketting, nie-voldoening aan produkriglyne, inenting van siek diere, gelyktydige toediening van ander medisyne (veral antibiotika) en die nie-toediening van skraagdosisse.
Respiratoriese fokus
Dr Froneman het produsente gewaarsku dat die fisiologiese en anatomiese samestelling van ‘n bees se longe daartoe lei dat hulle baie vatbaar vir longonsteking is. Enige bees wat dus spanning ervaar, is meer vatbaar vir respiratoriese siektes soos IBV en BVD.
Die ekonomiese impak van hierdie siektes word grootliks bepaal deur die stadium van dragtigheid waartydens vroulike diere besmet word:
- Sou die koei tussen 0 en 40 dae van dragtigheid besmet word, sal sy meestal aborteer.
- Koeie wat die siektes tussen 40 en 120 dae van dragtigheid opdoen, gee geboorte aan kalwers met blywende infeksie – die grootste probleem. Dit beteken dat die kalwers permanente draers van die virus is en ander diere in die kudde aanhoudend sal aansteek.
- Tussen 120 en 282 dae van dragtigheid sal die koei geboorte gee aan ‘n kalf van swak is of die kalf se groei en ontwikkeling sal belemmer word.
Reproduksiefokus
IBR word beskryf as ‘n herpesvirus wat respiratoriese siektes veroorsaak. Dit lei tot absorsies wanneer naïewe diere (wat nog nie vantevore aan die siekte blootgestel was nie) besmet word. Hierdie virus versprei deur die bloedstroom van die respiratoriese stelsel na die fetus . Die fetus word besmet en sterf, en die koei aborteer.
Voorkoming kan slegs deur inenting geskied. Hy waarsku egter: Inenting met ‘n lewende IBR-entstof in dragtige, naïewe koeie kan tot aborsie lei. Die beste tyd om verse en nie-dragtige koeie in te ent, is vóór die teelseisoen met ‘n lewende of dooie entstof. In hierdie geval kan ‘n lewende entstof beide bene van immuniteit stimuleer. Dragtige vroulike diere wat nog nooit besmet was nie, moet met ‘n dooie entstof ingeënt word. Raadpleeg jou veearts vir meer inligting hieroor.
Wat doen die Nasionale RPO vir jou?
Frik van Rooyen, voorsitter van die Nasionale RPO, was volgende aan die woord en het die RPO se rol in die groter rooivleisbedryf uitgelig. Hy het klem geplaas op die verskillende rolspelers in die waardeketting en hoe die struktuur werk:
- Die RPO is een van vier stigterslede van die rooivleis primêre kluster (RMPC). Die RMPC het aansoek gedoen vir die statutêre heffing, die 2030-strategie ontwikkel en gee leiding oor hoe die heffing aangewend moet word.
- Die ander lede sluit die SA Voerkraalvereniging, die Abattoirvereniging en Nerpo in.
- Hierdie kluster het saam Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) gestig. RMIS, as onafhanklike liggaam, is die adminstrateur van die statutêre heffing.
- RMIS rapporteer aan die RMPC. RMIS is verantwoordelik vir dag-tot-dag bestuur en implementering van die 2030-strategie. Alle aksies word aan die RMPC gerapporteer .
- Die RMIS se raad bestaan uit drie onafhanklike direkteure, hoof uitvoerende beampte en ‘n verteenwoordiger van elk van die vier stigtigterslede.
Van Rooyen het verder verduidelik dat die RPO dieselfde organisasie as altyd is en dieselfde doelwitte as voorheen het. Hy het ’n beroep op produsente gedoen om deel te raak van die RPO, veral waar hulle meen hulle kan ‘n verskil maak – dit is immers ‘n organisasie vir produsente, deur produsente. Hy moedig produsente aan om nie net stil te bly of vinger te wys nie, maar om deel te raak van die oplossing.
Wantroue het nie plek in suksesvolle landbou nie
Die kern van dr Peter Evans se boodskap was dat landbou ’n komplekse, lewende stelsel is wat met uitdagings soos veesiektes gekonfronteer word. Volgens hom is die grootste probleem wat die stelsel tans ervaar, wantroue – nie net tussen produsente en die regering nie, maar ook onder rolspelers op elke vlak.
Dr Evans het erken dat regeringstelsels baie kompleks is en nie noodwendig ideaal is om ingewikkelde stelsels soos landbou te bestuur nie. Hy het verder beklemtoon dat aanpasbare staatsbestuur ’n noodsaaklikheid is.
Hy het ook die ministeriële taakspan (MTT) se fokuspunte uiteengesit:
- ’n Vinniger en verbeterde reaksiesisteem.
- ’n Veerkragtige, risikogebaseerde inentingstrategie.
- Vinniger diagnoses.
- Regstreekse paneelborde.
- Plaaslike of gebiedspesifieke outoriteit.
- Beter vennootskappe tussen die openbare en privaatsektore.
Rakende die Artikel 10-skema het hy gesê meer as 400 reaksies is op die konsepskema ontvang. Voordat enige veranderinge egter aan die voorgestelde skema aangebring kan word, moet die staats se prokureurs dit eers hersien en goedkeur.
Die stand van BEK in Limpopo
Gerhard Coetzer, adjunkdirekteur van dieresiektes en epidemiologie by die Departement van Landbou se veeartsenydienste in Limpopo, het met kongersgangers gesels oor die stand van bek-en-klouseer (BEK) in Limpopo.
Read more: SAT1 FMD serotype detected in China.
Hy sê die virus sirkuleer nog redelik baie in die provinsie en dat nuwe gevalle daagliks aangemeld word. Ten spyte daarvan verloop die inentingsveldtog goed en het hulle sedert Desember meer as 150 000 diere in Limpopo ingeënt. Hy is nie bekommerd oor entstofverskaffing nie en sê hulle behoort genoeg entstof in die provinsie te hê.
‘n Produsent in die gehoor het kommer uitgespreek oor wild wat in die provinsie geskuif word en hoe dit veeprodusente kan affekteer. Coetzer het bevestig dat baie wild tans geskuif word met die jagseisoen wat begin. Dit hou egter ’n klein risiko vir veeprodusente in, aangesien gewone wild nie permanente draers van die virus is nie.
Coetzer het gesê die onwettige skuif van vee is ‘n groter probleem en dat die wildbedryf ‘n baie groot risiko loop dat die virus sy pad tot buffelkuddes kan vind. Buffels word permanente draers van die siekte as hulle dit eers opgedoen het. Produsente word aangemoedig om om enige verdagte aktiwiteite en vermoedelike onwettige verskuiwing van diere, hetsy wild of vee, by die polisie aan te meld en om dadelik enige vermoedelike gevalle van BEK by die staat aan te meld. – Deidré Louw, Plaas Media


