Afrika se grootste suiwelkampioenskap: 2026 Toekenningseremonie by Nederburg Wynlandgoed

Estimated reading time: 6 minutes

Die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf hou aan om te presteer. 

Die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap, die grootste en oudste kompetisie van sy soort in Afrika, het vanjaar 1 227 inskrywings van 81 produsente ontvang. ’n Paneel van 130 beoordelaars het die produkte oor ‘n tydperk van drie dae beoordeel. 

Chris Fourie, die president van Agri-Expo, het die gaste verwelkom, in die besonder diegene wat hul produkte ingeskryf het, en al die ander rolspelers wat die geleentheid moontlik gemaak het.

Die beoordeling het op 25-27 Maart by Eensgezind buite Durbanville plaasgevind, waar Agri-Expo die voorste rolspelers in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf verwelkom het. 

Die toekenningseremonie is op Donderdagaand, 23 April, by Nederburg Wynlandgoed gehou. Altesaam 122 produkte is as SA-kampioene in hul onderskeie klasse aangewys, terwyl 36 produkte met die gesogte Qualité-merk bekroon is – die enigste amptelike erkenning vir uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf (sien volledige lys hieronder). 

’n Handgemaakte burrata van Puglia Cheese in Somerset-Wes is as die 2026 Suid-Afrikaanse suiwelproduk van die jaar aangewys. Burrata is ’n vars mozzarella-tipe kaas wat met room en stracciatella gevul is, met ’n sagte buitekant en ’n ryk, romerige kern, en word tipies by kamertemperatuur bedien. 

Volgens die hoofbeoordelaar, Graham Sutherland, getuig die wenproduk van tegniese vaardigheid en outentiekheid. “Ná my onlangse werkservaring in Italië is dit besonder bevredigend om ‘n produk soos Puglia se burrata op hierdie vlak te sien erken word. Dit is ‘n ware viering van Italiaanse kaasmaaktradisie – ‘n vars pasta filata-kaas met ‘n delikate buitenste laag en ‘n ryk, romerige binnekant wat balans en weelde bied. Dit vergestalt die essensie van la bella vita.” 

Die 2026 Suid-Afrikaanse suiwelproduk van die jaar is ‘n burrata, vervaardig deur Puglia Cheese. Foto: Hennie van Loggerenberg/OCTA 5.

Die stigters van Puglia Cheese, Davide en Ursula Ostuni, beskryf die toekenning as ’n trotse oomblik vir die span. “Hierdie erkenning weerspieël jare se toewyding aan gehalte en ‘n diep respek vir tradisionele kaasmaaktegnieke, aangepas vir plaaslike omstandighede. Puglia Cheese is in 2010 gestig nadat ons uit Italië verhuis het, met die doel om outentieke, hoëgehalte Italiaanse kaas plaaslik te vervaardig. Ons was pioniers in die produksie van burrata in Suid-Afrika en is trots om ‘n produk te lewer wat met die beste kan meeding.” 

Volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, weerspieël die uitslae sowel innovasie as veerkragtigheid in die suiwelbedryf. “Die rekordgetal inskrywings en die deurgaans hoë gehalte van produkte dui op ‘n mededingende en vooruitstrewende bedryf, waar gevestigde vervaardigers én kleiner rolspelers die standaard bly verhoog.” 

Graham Sutherland, hoofbeoordelaar van die SA Suiwelkampioenskap, en Breyton Milford, Agri-Expo algemene bestuurder.

Milford het voorste presteerders in vanjaar se Qualité-toekennings gelukgewens, waaronder Lactalis South Africa, Clover, Fairfield Dairy, Fair Cape Dairies, Ladismith Cheese Company, Lancewood en Polar Ice Cream Company. 

‘n Wye reeks ander vervaardigers is ook vir uitstaande gehalte erken.  Dalewood Fromage het ’n eervolle vermelding vir derde plek algeheel ontvang vir sy Full cream jersey milk, terwyl tweede plek algeheel toegeken is aan Lactalis South Africa vir sy Woolworths mature gouda – 10 maande. 

Jong talent stap weg met ‘game changer’-toekenning 

Agri-Expo het ook die 32-jarige Courtenay van der Merwe, bestuurder van nuwe produkontwikkeling by Fair Cape Dairies, met die derde jaarlikse Hollard Game Changer-toekenning vereer. Die toekenning erken jong professionele persone wat reeds ‘n meetbare bydrae tot die suiwelbedryf lewer en sluit ‘n kontantprys van R50 000 in, geborg deur Hollard. 

Spanwerk laat die bedryf werk 

“ ‘n Projek van hierdie omvang is slegs moontlik danksy sterk samewerking in die bedryf,” sê Milford. “Ons bedank ons platinumvennote IMCD South Africa en DSM-Firmenich; ons diamantvennote Novonesis, SIG en Synercore; ons goue vennote Woolworths, Condio, Hollard, Checkers, International Flavours and Fragrances, Orchem en die Wes-Kaapse Departement van Landbou; asook ons silwervennote Mane, Spar en Fruitique, en ons bronsvennote Agrana Fruit, Polyoak Packaging, Tetra Pak en Ecowize.” 

Natasha de Lange, besturende direkteur van IMCD South Africa, sê hul betrokkenheid weerspieël ‘n langtermynverbintenis tot die bedryf. “Om suiweluitnemendheid doelgerig te ondersteun, is vir ons meer as net ‘n slagspreuk; dit is hoe ons elke dag werk. Ons is trots daarop om as platinumvennoot van die 2026 SA Suiwelkampioenskappe saam met die bedryf te staan en die mense en produkte te vier wat die sektor vorentoe neem.” 

Die 2026 Qualité-wenners 

Die Qualité-merk, die suiwelbedryf se enigste merk van uitnemendheid, word slegs toegeken aan uitgesoekte produkte van uitsonderlike gehalte wat ‘n voorafbepaalde minimumtelling op die internasionale telkaart behaal het. Die produk met die hoogste telling word as produk van die jaar bekroon. 

Lactalis South Africa (8) 

  • Parmalat salted butter. 
  • Woolworths unsalted butter. 
  • Parmalat garlic and parsley butter sausage. 
  • Woolworths mature gouda – 10 maande (eervolle vermelding vir die algehele tweede plek). 
  • Président mature gouda – 6 maande. 
  • Galbani full fat mozzarella. 
  • Melrose spread cheddar – tub. 
  • Aylesbury Royalty tin roof dairy ice cream. 

Clover SA (3) 

  • Clover Mooi River salted butter. 
  • Clover Springbok unsalted butter. 
  • Checkers Housebrand sweetened full cream condensed milk. 

Fairfield Dairy (3) 

  • SPAR low fat smooth cottage cheese garlic & herb. 
  • Woolworths organic fresh full cream milk. 
  • SPAR double cream yoghurt granadilla cheesecake flavoured. 

Fair Cape Dairies (2) 

  • Woolworths fresh custard with vanilla bean seeds. 
  • Full cream smooth strawberry flavoured yoghurt. 

Ladismith Cheese Company (2) 

  • Salted butter. 
  • Round gouda. 

Lancewood (2) 

  • Lactose free yellow cheddar. 
  • Pick n Pay mature cheddar. 

Polar Ice Cream Company (2) 

  • Polar Premier cookies & cream dairy ice cream. 
  • Polar Premier Swiss chocolate dairy ice cream. 

  • Babylonstoren – Chocolate brownie gelato. 
  • Belnori Boutique Cheesery – Marula jelly with ginger yoghurt. 
  • Dairy Corporation – Usave Ubrand full cream milk. 
  • Dairy Group – Shoprite Ritebrand fat free milk – UHT. 
  • Dalewood Fromage – Full cream jersey milk (eervolle vermelding vir die algehele derde plek). 
  • Dutch Goat Farm – Sheep’s gouda. 
  • Fairview Cheese Company – Woolworths Paarl rock brie. 
  • Farm Hill Dairy – Low fat cottage cheese. 
  • Goat Peter – Plain kefir. 
  • Heidelswiss Creamery – Labneh marinated in thyme, chilli and garlic. 
  • Kleinkraal Suiwel – Cabrette marinated in oil with garlic and herbs. 
  • Mooivallei Suiwel – Mooivallei Rigg’s unsalted butter. 
  • Puglia Cheese – Burrata (SA Suiwelproduk van die Jaar). 
  • Woodlands Dairy – First Choice recovery high protein chocolate flavour. 

Carin Venter, Plaas Media 

Vir meer inligting, besoek https://dairychamps.co.za, skakel 021 863 1599 / 083 440 1628 of stuur ‘n e-pos na dairy@agriexpo.co.za

Heinings en hokke: Instandhouding voor die lamseisoen

Met lae winsmarges, siektes en roofdiere wat tot 30% van ’n lammeroes kan kos,...

Weidingsgehalte in die berugte doodmaakmaande

Estimated reading time: 7 minutesSuurveld kom hoofsaaklik in die hoëreënvalgebiede van die oostelike dele...

Boost young animals’ immunity before the lambing and calving season

Estimated reading time: 4 minutesVaccinating ewes and cows four to six weeks before lambing...

Klimaatslimboerdery bied kos vir die siel én die veld

Estimated reading time: 8 minutesDit het Veronica Rorich se passie geword om herwinningsboerdery aan...