Estimated reading time: 4 minutes
“Speenkalf tot spekvet” was die tema van ’n boeredag wat onlangs deur Platberg Dieregesondheid en Veemedisyne op Harrismith aangebied is. Die fokus het geval op die rol van voeding en gesondheidsbestuur om speenkalwers so goed as moontlik vir die voerkraal voor te berei.
Bestuur van spanning by speenkalwers
Die eerste spreker was Ashley Grimsell van Voermol Voere. Sy het beklemtoon dat stres ’n uiters belangrike faktor is wat bestuur moet word wanneer nuwe kalwers in die voerkraal aankom.
“As ’n kalf gespeen word, is dit ’n baie traumatiese en stresvolle ervaring. Hierdie speenskok het ’n reuse-impak op hoe kalwers later in die voerkraal presteer. Daarmee saam moet die kalf se spysverteringstelsel ook aangepas word vir ’n volvoerrantsoen,” het sy verduidelik.
Volgens Grimsell lei stres tot die vrystelling van kortisol, wat veroorsaak dat energie wat andersins in produksie sou ingaan, gebruik word om die stresrespons te hanteer.
Voeding en fase-ondersteuning
Om kalwers deeglik vir die voerkraal voor te berei, word hulle dikwels eers in ’n veldvoorbereidingsfase (backgrounding) geplaas wat ongeveer 60 dae duur. Gedurende hierdie fase is die fokus op raamgroei en rumenontwikkeling.
“In hierdie stadium is goeie deurvloeiproteïen in die rantsoen noodsaaklik om voldoende raamgroei te ondersteun,” het Grimsell gesê. Ná die veldvoorbereidingsfase skakel die kalwers oor na ’n aanvangsrantsoen in die voerkraal wat hoër in vesel en laer in energie is. Dan volg die groeirantsoen en uiteindelik die afrondingsrantsoen.
Bestuur is volgens haar die sleutel tot sukses. ’n Rantsoen kan uitstekend wees, maar sonder akkurate bestuur sal prestasie wisselvallig wees.
“Voerbakbestuur is krities. Beeste hou van roetine en wil elke dag op ongeveer dieselfde tyd gevoer word,” het sy gesê. Dit is uiters nadelig as daar vir lang tye geen voer beskikbaar is nie. ’n Gladgelekte voerbak is ’n teken dat diere honger is, wat kan lei tot oorvreet wanneer daar weer gevoer word. Dit verhoog die risiko vir metaboliese steurnisse soos suurpens.
Gesondheidsbestuur en voorkoming
Dr Schabort Froneman, tegniese bestuurder herkouers by Zoetis, het gesondheidsbestuur in die voerkraal bespreek. Hy het gesê longontsteking is na sy mening die grootste vyand in ’n voerkraal.
“Wanneer ‘n mens oor longontsteking praat, moet jy by stres begin. Dit is waar die probleme ontstaan,” het hy gesê. Stres kan deur ’n enkele insident of ’n kombinasie van faktore veroorsaak word. Die eerste stap in gesondheidsbestuur is daarom doeltreffende stresbestuur, veral van nuwe aankomelinge.
Hy het verder verwys na die drie R’e wat bestuur moet word: rehidrasie, rumen en rus. Lae-stres hantering is volgens hom net so belangrik soos farmaseutiese ingrypings.
Hoewel die farmaseutiese bedryf verskeie oplossings bied, kan die aantal middels wat aan ’n dier toegedien word soms oorweldigend wees. In ’n kudde-scenario is dit nie ideaal om te veel middels gelyktydig toe te dien nie, en kompromieë moet dikwels gemaak word weens tydsdruk in die voerkraal.
Prosessering by aankoms
’n Tipiese prosesseringsprogram vir kalwers wat by ‘n voerkraal aankom, sluit voorkomende entstowwe teen verskeie siektes – insluitend longontsteking – in. Dit word gevolg deur eksterne en interne parasietbeheer, asook groei-inplantate.
“Groei-inplantate is ’n uiters voordelige en veilige hulpmiddel om ’n dier se volle potensiaal te ontsluit,” het Froneman benadruk.
Aanvullende middels soos vitamiene en minerale kan ook ’n groot invloed op prestasie hê. Metafelakse, of antibiotiese middels, word hoofsaaklik in die somer gebruik vir bosluisoorgedraagde siektes en in die winter vir longontsteking. Hierdie middels moet egter onder streng toesig van ’n veearts toegedien word, aangesien dit van die kalf se risikoprofiel afhang.
“Produsente sal daarby baat om hul veearts aktief by die totale prosesseringsprogram te betrek om toesig te hou,” het hy afgesluit. – Izak Hofmeyr, Plaas Media