Estimated reading time: 4 minutes
Sleutelpunte soos die voortgesette produksie van hoë-gehalte aartappels, navorsing, monitering van bestaande projekte en die beskikbaarheid van volhoubare water, was onder die soeklig by die jaarvergadering van die Sandveld-aartappelkwekersorganisasie (Sako). Die geleentheid het op 22 April by Soverby Lapa in Dwarskersbos plaasgevind.
Sako is ’n streeksorganisasie in die Wes-Kaap wat na die belange van produsente en moerkwekers in die Sandveld-streek omsien. Aartappels word hier regdeur die jaar verbou.
Die verkiesing van die Sako-bestuur tydens die geleentheid het geen noemenswaardige veranderinge meegebring nie, behalwe vir Boetie van Zyl wat uittree en wat tydens die volgende vergadering deur ’n lid van Sako vervang sal word.
Fokus op die toekoms
In haar jaarverslag het Monique Coetzee, Sako-voorsitter, oor veerkragtigheid gesels en die alledaagse werklikhede waarmee aartappelprodusente in die Sandveld gekonfronteer word, beklemtoon. “Hoe verseker ons dat ons môre nog kan boer? Na talle uitdagings het die Sandveld-produsente begin om te optimaliseer en staan ons vir niks terug nie,” het sy gesê. “Ons pas aan en is vandag meer doeltreffend en datagedrewe as ooit tevore.”
Willie Jacobs, hoof uitvoerende beampte van Aartappels SA, het hul hooffunksies as bedryfsorganisasie opgesom. Dit sluit onder meer in om produsente op die regte plekke te verteenwoordig en teen eksterne faktore te beskerm.
Hy het ook verwys na die 2026 statutêre heffingshersiening van Aartappels SA en die noodsaaklikheid van kollektiewe dienste om Suid-Afrika se aartappels, wat as ’n produk ver bo die wêreldstandaard beskou word, winsgewend te maak. Volgens Jacobs is dit nodig om jonger generasies meer oor die waarde van die aartappel te leer en dat skoolvoedingskemas wat aartappelverbruik in die land stimuleer, ’n belangrike rol daarin kan speel.
Murray Thompson, voorsitter van Aartappels SA, het voorgestel dat medeprodusente die organisasie ondersteun en besin oor hoe hul betrokkenheid tot voordeel van hul boerderye en die bedryf as geheel kan wees.
Ekonomiese sake
Dr Johnny van der Merwe, besturende direkteur van Agricultural Market Trends (AMT) en ’n landbou-ekonoom, het oor geopolitieke konflik en die impak van die Verenigde State-/Iran-oorlog op Suid-Afrika gepraat. Hy het onder meer ’n brandstofstyging van tussen R7.50 en R8 vir Mei voorspel, wat ’n geweldige impak op insetkoste en voedselpryse sal hê.
“Vraag en aanbod verander voortdurend en teen volgende jaar hierdie tyd kan die prentjie dalk anders lyk,” het dr Van der Merwe gesê. “Ons sien nie ’n afname in voedselverbruik nie, maar eerder ’n verskuiwing in die vraag na voedsel. Verbruikers moet steeds eet en sal moontlik eerder begin om produkte by die varsproduktemark as by die kleinhandelmark te koop. Dit kan nuwe geleenthede vir nuwe produkte skep, wat winsmarges positief kan beïnvloed.”
Produsent van die jaar
SW van Zyl van Sandveld Aartappels is tydens die jaarvergadering as die Sako-aartappelprodusent van die jaar aangewys. Hy het ’n gemengde boerdery wat aartappels, skape en beeste insluit, asook ’n voerkraal vir hoofsaaklik speenlammers wat hulle uit die Oos-Kaap aankoop.
“Ons produseer aartappels in baie sanderige grond. Die wind is een van die grootste uitdagings in ons streek. Ons noem dit die ‘vaalwind’ wat uit die rigting van die see kom. Dit stel ons in staat om gedurende die warm somermaande aartappels te produseer,” het hy gesê. – Carin Venter, Plaas Media
Van Zyl sal as ’n finalis by die Aartappels SA-kongres in Julie in Johannesburg, om die titel van nasionale produsent van die jaar meeding. Die voorlopige kongresprogram is elders in hierdie uitgawe beskikbaar. Vir meer inligting, skakel Monique Coetzee by 083 610 7320.