VPN 59-verwarring skep nuwe uitdagings vir plaaslike rooivleisuitvoere

Estimated reading time: 4 minutes

Asof die voortslepende uitbrekings van bek-en-klouseer (BEK) in die land nie genoeg is nie, word die Suid-Afrikaanse rooivleisuitvoere nou onder verdere druk geplaas deur die onlangse bekendmaking van strenger voorgestelde regulatoriese vereistes ingevolge die Veterinêre Prosedurele Kennisgewing 59 of VPN 59, soos dit algemeen bekendstaan.

Die VPN 59 dien as ’n raamwerk wat daarop gemik is om internasionale marktoegang te beskerm deur verbeterde naspeurbaarheid, verhoogde biosekuriteit en doeltreffender bestuur van siekterisiko’s. Die nuwe voorgestelde vereistes bepaal dat diere wat vir uitvoermarkte bestem is, uitsluitlik afkomstig moet wees van geregistreerde produksie-eenhede wat aan streng biosekuriteitsprotokolle voldoen, onder toepaslike veeartsenykundige toesig staan en volledig naspeurbaar is.

Gevestigde uitvoermark vra steeds vir SA-vleis

Een van die grootste markte vir Suid-Afrikaanse rooivleis is die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), wat jaarliks meer as 30 000 ton beesvleis en beduidende hoeveelhede skaapvleis uit Suid-Afrika invoer. Alhoewel BEK-uitbrekings uitvoere ’n knou gegee het, is daar reeds tussen die twee lande ooreengekom dat ingeënte en herstelde diere weer vir uitvoer daarheen aanvaar sal word. Die diere moet klinies gesond wees en onder toesig van ’n staatsveearts staan.

Hierdie vereistes is aansienlik minder streng as dié wat in die VPN 59 vervat is. Hoewel Suid-Afrika oor ’n ooreengekome dieregesondheidsertifikaat met die VAE beskik, verseg die Nasionale Departement van Landbou na wat verneem word nou om die nodige aanpassings aan die VPN 59 te maak, om voortgesette uitvoere moontlik te maak.

Onbuigsame vereistes plaas mark in gedrang

Volgens verskeie rolspelers word daar die afgelope vier maande al met die departement geskakel om die nodige aanpassings aan te bring wat spesifiek op die uitvoer van rooivleis na die VAE betrekking het. Dit blyk egter asof die departement nie die behoefte insien waarom die vereistes aangepas of verlig moet word nie.

Die VAE vereis slegs dat diere vir ’n tydperk van 30 dae onder toesig moet wees en dat hulle geen kliniese tekens van BEK mag toon nie. Die departement stel egter veel strenger vereistes, wat dit vir produsente byna onmoontlik maak om aan uitvoere deel te neem. Volgens rolspelers lei hierdie benadering tot uitvoerverliese van honderde duisende rande, ten spyte daarvan dat politici herhaaldelik die noodsaaklikheid van ekonomiese groei beklemtoon.

Dewald Olivier, hoof uitvoerende beampte van Rooivleisbedryfsdienste (RMIS), sê RMIS en ander rolspelers is in dringende gesprekke met die departement hieroor. Hy is van mening dat ’n skikking bereik kan word om hierdie belangrike mark te red, voordat Suid-Afrika dit moontlik verloor. Indien daar nie binne die volgende twee weke ’n oplossing gevind word nie, kan die rooivleisbedryf ’n ernstige krisis in die gesig staar, sê hy.

Departement beloof ’n oplossing

By navraag aan die Nasionale Departement van Landbou het die adjunk-direkteur-generaal, Dipepeneneng Serage, verduidelik dat die kern van die probleem spruit uit kommunikasiegapings tussen nasionale en provinsiale staatsveeartse. Provinsiale veeartse, sê hy, is daarvoor verantwoordelik om die nodige dokumentasie te onderteken wat bevestig dat diere gesond is en aan alle vereistes voldoen. ’n Misverstand oor die interpretasie van die VPN 59 het egter volgens hom tot die huidige knelpunt gelei.

Serage het wel die versekering gegee dat hy aan Maluta Mudzunga, direkteur vir inspeksie- en kwarantyndienste, opdrag gegee het om die aangeleentheid dringend reg te stel. Dit sluit in dat alle staatsveeartse volledig ingelig word oor die huidige stand van sake, sodat uitvoere na die VAE sonder onnodige vertragings kan voortgaan. Hy is oortuig daarvan dat die probleem voor die einde van April uitgesorteer sal wees en dat uitvoere na die VAE weer vlot sal verloop.

Volgens Serage kan Suid-Afrika nie bekostig om hierdie waardevolle uitvoermark te verloor nie. Hy het verwys na John Steenhuisen, minister van landbou, wat herhaaldelik beklemtoon het dat die uitbreiding van landbou-uitvoere ’n belangrike dryfveer vir ekonomiese groei en landelike ontwikkeling is.

Rolspelers meen die huidige situasie vergroot eerder die kloof tussen beleidsambisie en die praktyk op grondvlak, en waarsku dat Suid-Afrika die risiko loop om markaandeel te verloor indien die probleem nie dringend opgelos word nie. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Heinings en hokke: Instandhouding voor die lamseisoen

Met lae winsmarges, siektes en roofdiere wat tot 30% van ’n lammeroes kan kos,...

Weidingsgehalte in die berugte doodmaakmaande

Estimated reading time: 7 minutesSuurveld kom hoofsaaklik in die hoëreënvalgebiede van die oostelike dele...

Boost young animals’ immunity before the lambing and calving season

Estimated reading time: 4 minutesVaccinating ewes and cows four to six weeks before lambing...

Klimaatslimboerdery bied kos vir die siel én die veld

Estimated reading time: 8 minutesDit het Veronica Rorich se passie geword om herwinningsboerdery aan...