Bestuur jou teeldiere en onverkoopte speenkalwers te midde van BEK-bewegingsbeperkings

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

Die voortslepende bek-en-klouseer (BEK)-uitbrekings het ’n ernstige impak op die Suid-Afrikaanse beesbedryf. Bewegingsbeperkings het meegebring dat ’n groter aantal onverkoopte speenkalwers langer op die plaas moes bly.

Dit het weer tot gevolg dat veeladings waarskynlik sal toeneem soos die winterseisoen naderkom – ‘n tydperk waarin goeie weiding ’n uiters waardevolle hulpbron is. Hoër veeladings in die winter plaas ook groot druk op teeldiere om optimale liggaamskondisie te handhaaf, sodat hulle in die somer herbeset kan raak.

Wisselvallige weerpatrone

BEK is egter nie die enigste faktor wat die vleisbeesbedryf se produksieboot geskud het nie. La Niña-weerpatrone het hierdie somer bogemiddelde neerslae beteken en dit het geleenthede maar ook uitdagings geskep.

Van die voordele is beter grondbedekking, verhoogde biomassaproduksie en ’n verlengde groeiseisoen. Net so is daar egter uitdagings, waaronder verhoogde parasietladings, grondvoedingstowwe wat uitloog en die voedingswaarde van veld wat gou afneem soos gras vinniger volwassenheid bereik.

Vind die balans

Die veeprodusent se bestuursdilemma is om ‘n balans te vind tussen verhoogde veeladings en volop laer-gehalte veldweiding. Een manier is om jou benadering tot speenkalwers te heroorweeg en sekere sleutelaspekte ten opsigte van die teelkudde te prioritiseer. Pleks daarvan om speenkalwers as hoë-groei somerkommoditeite te beskou, kan hulle as lae-onderhoud winterbates gesien word. Die teelkudde behoort ’n topprioriteit te bly.

Teelkoeie se liggaamskondisietellings (LKT’s) moet ten alle koste beskerm en gehandhaaf word, sodat hulle in die volgende kalfseisoen gesonde kalwers kan produseer en in die daaropvolgende teelseisoen herbeset kan raak.

Die bestuurstrategieë vir speenkalwers (Tabel 1) en die teelkudde (Tabel 2) kan gesien word as die oorgang van ’n verkoopsfokus na ’n voorbereidings-, vasbyt- en veldbewaringsfokus. – Charné van Zyl, Simbra SA

Tabel 1: Speenkalwers (gedwonge voorbereiding).

StrategieAksieMotivering
VroegspeenKalwers word vroeër as normaal gespeen, byvoorbeeld op ouderdom vyf tot ses maande.Verlig druk op die koei sodat sy ‘n beperkte hoeveelheid proteïen/energie uit melkproduksie kan gebruik om haar LKT voor die wintermaande te herwin en dus die kans op herbesetting verhoog. Onthou dat vroegspeen met vroeër inenting gepaardgaan.
Intensiewe voeding (fase 1)Vermy nat veld en hou speenkalwers vir die eerste twee tot vier weke ná speen in ’n klein, beskermde, droë kamp. Voer in hierdie tyd ’n hoë-gehalte, hoë-proteïen kruipvoer of speenkalfrantsoen.Verminder speenskok, handhaaf groeimomentum, bevorder droëvoerverbruik en berei kalwers vir die winter voor. Gebruik hierdie tyd om die nodige inentings, ontwurming en dies meer te doen.
Gradeer voedingswaarde af (fase 2)Skakel die speenkalwers na die eerste fase oor na ’n goedkoper voerprogram, soos ’n hoëproteïenlek. So kan volop, maar swak-gehalte veld gemaksimeer word.Kostebesparing. Die voerdoelwit verskuif van ‘n hoë winsmarge na die handhawing van kondisie deur die winter, of totdat bewegingsbeperkings opgehef word of die mark verbeter (verkoop as jaar-oue diere).
ParasietbeheerDie hoër somerreënval kan swaarder parasietladings op die veld meebring. Behandel speenkalwers soos nodig vir interne en eksterne parasiete.Parasiete kan diere se lekinname en vermoë om veld optimaal te benut kniehalter as gevolg van die risiko’s wat hulle vir dieregesondheid inhou.

Tabel 2: Teeldiere (bestuur van oorbelading en instandhouding van LKT).

StrategieAksieMotivering
WeidingsdrukUltrahoëdigtheid (UHD)-beweiding in klein kampe vir baie kort tydperke, gevolg deur lang rus in die kampe. Gebruik lekke en waterpunte strategies om die verbruik van swakker-gehalte voer aan te moedig.Veldbewaring. As koeie genoeg ruimte het, sal hulle smaakliker grasse benut terwyl die volwasse gras verder sal verhout. UHD-beweiding voorkom selektiewe beweiding. Die hoë veelading moet met behulp van ’n hoë rotasietempo gebalanseer word. Swakker-gehalte weiding moet optimaal gebruik (vertrap en bewei) word, eerder as wat dit die winter binnegaan as swak-gehalte hooi.
Geteikende proteïenaanvullingOorgang van ’n onderhouds-/fosfaatlek na ’n hoë-proteïen produksielek of voeg ‘n poliëtileenglikol (PEG) by.Koeie benodig proteïen om lae-gehalte weiding te verteer, aangesien die proteïen die rumenmikrobioom funksioneel hou. ‘n Goed-funksionerende rumen behoort uitermatige LKT-verliese tydens laktasie of na speen te voorkom. Alternatiewelik sal ‘n PEG tanniene bind, wat proteïenverbruik en nutriëntabsorpsie verbeter deurdat dit die verteerbaarheid en smaaklikheid van tannien-belaaide weiding verhoog.
Strategiese skeiding (LKT)Groepeer die teelkudde op grond van LKT. Byvoorbeeld, laat graad 1-koeie (maer) die beste oorblywende veld met die hoogste proteïenlekvlakke bewei, terwyl graad 2-koeie (goed/ideaal) gewone veld met ’n standaard-proteïenlek bewei.Prioritiseer beperkte hulpbronne. Voorsien hoë-gehalte, natuurlike proteïenaanvullings aan diere wat dit die nodigste het (maer koeie en vervangingsverse) om die kanse op ’n goeie herbesettingsyfer te vergroot.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na charne@simbra.org

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutesPlaashekpryse/Farm gate pricesDie jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minuteJohan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 33 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutesPathisani Ncube has a wholly...

Ontwikkel ’n skerp oog vir rasstandaarde en die metodiek van kleinveebeoordeling

Estimated reading time: 7 minutesDie vertoning en beoordeling van...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutesRabbit meat is not as...