Estimated reading time: 6 minutes
- Die bemesting van aangeplante weidings met die regte voedingstowwe vir spesifieke plante in ‘n bepaalde omgewing, sal die volume sowel as die gehalte van die weidings verbeter.
- Wanneer meerjarige voergewasse soos lusern geplant word, is dit noodsaaklik dat die grond se pH, kalsium- en fosfaatvlakke voor planttyd reggestel word.
- Dit is noodsaaklik dat die pH van die grond gereeld getoets word, aangesien stikstofbemesting die grond suurder kan maak.
- Bemesting is ‘n duur maar nodige inset wanneer weidings aangeplant word.
- Kunsmis moet dus oordeelkundig gebruik word vir maksimale, bekostigbare voerproduksie.
Die bemesting van aangeplante weidings met die regte voedingstowwe vir spesifieke plante in ‘n bepaalde omgewing, sal die volume sowel as die gehalte van die weidings verbeter. Bemestingstowwe is egter duur en moet dus optimaal aangewend word, sodat die weiding uiteindelik optimaal deur die vee benut sal word.
Renier Bothma, ‘n grondkundige by Kynoch Kunsmis, sê reën speel ‘n belangrike rol in die produksie van aangeplante weidings onder droëlandtoestande. Hoe meer dit reën, hoe hoër is die produksie en hoe meer voedingstowwe is nodig vir optimale weidingsopbrengs en -gehalte.
Beplan voor jy plant
‘n Paar belangrike besluite moet geneem word voordat die weidingsgewas geplant word: Watter tipe weiding wanneer nodig is, die chemiese toestand van die grond, of regstellings nodig is, wat die geskikste kultivars vir jou omgewing is, of dit een- of meerjarig moet wees, en so meer.


Van die belangrikste besluite wat geneem word voordat die weidingsgewas geplant word, is watter kultivars vir jou omgewing geskik is, of dit een- of meerjarig moet wees, ‘n dekgewas moet wees, en in ‘n mengsel moet wees of nie.
Wanneer meerjarige voergewasse soos lusern geplant word, is dit noodsaaklik dat die grond se pH, kalsium- en fosfaatvlakke voor planttyd reggestel word, aangesien dit ná vestiging baie moeilik en soms onmoontlik is om te doen. Peulgewasse soos lusern, medics en klawers produseer hul eie stikstof deur stikstofbinding in die grond. Met dié gewasse word meer gefokus op elemente soos fosfaat, kalsium, kalium, swael en mikro-elemente.
Eenjarige weidings soos voersorghum en winterweidings soos hawer, is baie meer suurverdraagsaam en word meer soos gewone graangewasse hanteer. Fosfaat beweeg moeilik in die grond en latere fosfaatbemesting is gewoonlik ondoeltreffend. Kalsiumvlakke word tydens bekalking reggestel, en kalium en swael kan maklik later voorsien word.
By grasgewasse soos raaigras is die voorsiening van elemente soos stikstof, kalium en swael belangrik, terwyl fosfaat teen laer vlakke nodig is. Fosfaat word net met vestiging toegedien terwyl stikstof, swael en soms kalium, deurlopend na elke snysel of beweiding aangevul moet word. Grasgewasse reageer ook uitstekend op blaarvoeding.
Dit is uiters belangrik om die grond waarop weidings gevestig gaan word, te laat ontleed om die regte bemesting aan te beveel.
Grondsuurheid
Die meeste weidingsgewasse produseer goed by ‘n grond-pH van >4,5 (KCI). Daar is wel verskille in die mate van grondsuurheid wat verskillende grasspesies kan verdra. Oulandsgras kan byvoorbeeld baie suur grond met ‘n suurversadiging van tot 50% verdra, terwyl Smutsvingergras ‘n suurheidsversadiging van hoogstens 20% kan hanteer.
Dit is noodsaaklik dat die pH van die grond gereeld getoets word, aangesien stikstofbemesting die grond suurder kan maak. Suur grond kan die opbrengs van aangeplante weidings strem, omdat ‘n te lae of te hoë pH die doeltreffendheid van bemestingstowwe negatief kan beïnvloed. Kalk kan oor weidings gestrooi word om die pH reg te stel, maar kalk beweeg stadig in die grond en dit kan lank neem om welslae te behaal.
Belangrikheid van stikstof
Stikstof verhoog die produksie van droëmateriaal (DM) en die proteïeninhoud van aangeplante weidings. Meer proteïene in die blare verhoog die gehalte van die voer en lei tot beter diereprestasie. Die algemene reël is dat tussen 200 en 250g stikstof toegedien behoort te word vir elke millimeter reën wat val. Dit sal naastenby neerkom op 100kg stikstof/ha op lande in ‘n gebied met ‘n gemiddelde reënval van 500mm deur die seisoen.
Stikstof word gewoonlik breedwerpig oor weidings uitgestrooi. Hierdie praktyk vereis dat die regte stikstofbron gebruik word. Plante kan byvoorbeeld nie ureum regstreeks uit die grond opneem nie. Dit moet eers deur ‘n ensiem, urease, omgeskakel word na stikstof wat vir die plant opneembaar is. Dit kan van een tot vyf weke duur, afhangend van die klimaatstoestande.
Stikstofbronne soos kalsium-ammoniumnitraat (KAN) en ANO 21, ‘n vloeibare bemesting, is reeds in ammonium- en nitraatvorm en kan dadelik deur die plant opgeneem word. KAN en ureum wat met ‘n urease-inhibeerder behandel is, is veilig vir bogrondse toediening. So word verseker dat minimale stikstofverliese weens vervlugtiging voorkom.
Hoër stikstofvlakke in die grond lei tot meer proteïen/ha wat weer lei tot beter verteerbaarheid van die voer. Dit sorg ook vir ’n groter volume blare wat smaakliker is vir die diere en dit lei weer tot beter vleisproduksie/ha.
Fosfaattekorte
In Suid-Afrika toon landbougrond oor die algemeen ‘n fosfaattekort. Die ideale fosfaatinhoud van die grond behoort sowat 25mg/kg te wees. Lae fosfaatvlakke kan met ‘n eenmalige toediening reggestel word of vloeibare fosfaat kan deur die seisoen saam met stikstof toegedien word.
Die onttrekking van fosfaat uit die grond kan wissel van 1kg/ton DM geproduseer, met grasweidings tot 3kg/ton met lusern. As die gewasse gesny word, behoort fosfaat teen dié peile bemes te word.
Kalium se rol
Hierdie mineraal bevorder die opname van voedingstowwe deur die plant, en speel ‘n belangrike rol in fotosintese, groeitempo en die voedingswaarde van die weigewasse. Dit versterk die plante se stamme, verhoog hul weerstandbiedendheid teen droogte en koue, en sorg oor die algemeen vir ‘n hoër opbrengs.
Vir die meeste gewasse is die ideale kalium-inhoud meer as 120mg/kg grond. Dit kan voor, met plant, of tydens die groeiseisoen toegedien word, aangesien kalium maklik in die grond versprei. Korrekte toediening voor of met plant werk egter baie goed. Sowat 20kg kalium/ton DM word tydens die seisoen deur die gewasse uit die grond onttrek. Indien al die plantmateriaal verwyder word, is dit noodsaaklik om al die kalium wat onttrek is, weer toe te dien.
Rol van swael
Daar word dikwels na swael as die vierde makro-element verwys. Dit speel ‘n belangrike rol in die vorming van proteïene in die weigewasse se blare en is daarom belangrik vir diere se groei en ontwikkeling.
Verskeie kommersieel beskikbare stikstofkunsmismengsels bevat ook voldoende swael. Die ideale swaelinhoud van grond is 20mg/kg grond.

Bemesting is ‘n duur maar nodige inset wanneer weidings aangeplant word. Kunsmis moet dus oordeelkundig gebruik word vir maksimale, bekostigbare voerproduksie. Hierdie weidings moet dan gebruik word vir diere wat beter weidings nodig het, soos melkkoeie, jong groeiende diere en stoetdiere. Diere wat nie in produksie is nie, se kondisie kan met ʼn baie goedkoper voerbron in stand gehou word. – Andries Gouws, Plaas Media
Navrae kan gerig word aan Renier Bothma by e-pos renier.bothma@kynoch.co.za

