Monday, December 15, 2025

Suksesvolle opleidingsdag vir veewagters in Swinburne

Estimated reading time: 3 minutes

Die Swinburne-boerevereniging het onlangs ’n opleidingsdag vir bees- en skaapwagters in Swinburne aangebied. Die klem het hoofsaaklik op vroegtydige siektewaarneming geval.

Volgens Albert Potgieter, voorsitter van die boerevereniging, het hy gesien dat ’n soortgelyke dag in die Vrede-omgewing aangebied is. Hy het toe vir dr Janine Cook, een van die plaaslike veeartse op Harrismith, genader om ’n soortgelyke kursus op Swinburne aan te bied. Afrivet is ook vir die kursus aan boord gebring.

“Veeboere kan nie noodwendig elke dag by hulle vee uitkom nie, maar ons veewagters spandeer wel elke dag by die diere,” verduidelik hy. “Hoe beter hulle dus opgelei is om so gou as moontlik raak te sien as iets met ’n dier verkeerd is, hoe beter is dit. Vroegtydige behandeling vergroot die kanse op herstel dramaties.”

Die opleiding bestaan uit teoretiese lesings in die oggend, en dan praktiese demonstrasies in die middag.

Groot behoefte aan opleiding

Die fasiliteite by die Swinburne-boerevereniging se veilingskraal kan 60 kursusgangers hanteer, maar, sê Albert, hulle het meer aansoeke gekry. Dis duidelik dat daar ’n groot behoefte aan dié soort opleiding in die distrik is.

Volgens Lee-Ann Terblanche van Afrivet op Bethlehem, bied Afrivet gereeld sulke kursusse aan. Die kursus fokus op die basiese identifikasie van siektes, en veral die vroeë waarneming as ’n dier ongesteld lyk. Voorkoming, sê sy, bly altyd beter as behandeling.

“In die basiese kursus leer ons die veewagters hoe en waarna om te kyk om vas te stel of ’n dier olik voel, byvoorbeeld sy gesig, die manier waarop hy loop, sy hongerlyn, moontlike uitloopsels uit die neus en mond, sowel as die mis. Die volgende kursus is meer gevorderd, en sluit onder meer post-mortems ook in. Verder fokus ons ook op goeie hanteringspraktyke, die neem van temperatuur en die gebruik van weegbande om die gewig van ’n dier meer akkuraat te bepaal. Dit voorkom onder- of oordosering.”

Afrivet bied kursusse oor die hele land aan, sê Terblanche. As daar genoeg belangstelling in ’n streek is, sal hulle moeite doen om ’n kursus daar aan te bied.

Die opleiding bestaan uit teoretiese lesings in die oggend, en dan praktiese demonstrasies in die middag.

Vir meer inligting, skakel Lee-Ann Terblanche op 079 287 2390. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Related

Chubby Chick skietvoorval – tweede direkteur sterf

Estimated reading time: 6 minutes Deon Fourie, mede-direkteur van Chubby Chick in Potchefstroom, is vanoggend (14 Desember) in 'n Gauteng-hospitaal oorlede. Die nuus is deur...

Voer oppad na kurkdroë Boesmanland

Estimated reading time: 3 minutes Terwyl swaar reënbuie die afgelope tyd oor groot dele van Suid-Afrika neergesak het, het daar nog geen betekenisvolle reën in...

BEK-oorwinning laat Wes-Kaap juig

Estimated reading time: 3 minutes Wes-Kaap kan BEK-beeste begin slag Agri Wes-Kaap (AWK) en die Rooivleisprodusente-organisasie Wes-Kaap (RPOWK) bevestig dat daar geen verdere uitbreking van bek-en-klouseer...