Estimated reading time: 5 minutes
- Die aankoop van ’n bul is een van die mees riskante besluite wat ’n kommersiële beesonderneming kan neem, sê dr Mario Beffa, hoof uitvoerende bestuurder van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF).
- Bulkoop is glad nie ‘n maklike of eenvoudige proses nie. Daar is talle belangrike aspekte wat noukeurig oorweeg moet word. Die eerste en fundamentele vraag om te beantwoord, is wat presies dit is wat jy wil bereik.
- In ’n koei-kalfstelsel sal ‘n bul twee doelwitte bereik. Vroulike kalwers sal geproduseer word en later as vervangingskoeie dien, en manlike kalwers sal geproduseer word en na die voerkraal gestuur word.
- Daar is geweldig baie inligting beskikbaar waarmee produsente die regte bul vir hul behoeftes kan selekteer. Die eerste hiervan is die veilingskatalogus. Om dit ten beste aan te wend, moet jy egter leer hoe om hierdie inligting te interpreteer.
- Fisiese evaluering sal altyd ’n belangrike deel van bulseleksie bly.
Die aankoop van ’n bul is een van die mees riskante besluite wat ’n kommersiële beesonderneming kan neem. Aan die woord is dr Mario Beffa, hoof uitvoerende bestuurder van die Lewendehawe Registrerende Federasie of LRF. Hy het tydens die onlangse LRF-veeskool by Aldam ook ‘n aanbieding met die titel “Beter bulaankope” gedoen.
Lees hierdie artikel in Engels hier.
“Wanneer ons na beesproduksie verwys,” het hy verduidelik, “dien stoetbeeste as die fondasie van teling vir produksie. Verskillende rasse en raskombinasies bied aan die beesprodusent die opsie om die beste ras of raskombinasie te kies om by sy spesifieke produksie-omgewing te pas.
“Bulkoop is glad nie ‘n maklike of eenvoudige proses nie. Daar is talle belangrike aspekte wat noukeurig oorweeg moet word.”
Wat is jou teeldoelwit?
Die eerste en fundamentele vraag om te beantwoord, is wat presies dit is wat jy wil bereik. Wat is jou teeldoelwit? “Dit is nie ’n akademiese vraag nie. Gewoonlik wil ’n produsent maksimum wins binne sy spesifieke produksie-omgewing maak. Eenvoudig gestel: Wat gaan vir my geld maak, en wat gaan dit my kos om dit te maak?”
In ’n koei-kalfstelsel sal ‘n bul twee doelwitte bereik. Vroulike kalwers sal geproduseer word en later as vervangingskoeie dien, en manlike kalwers sal geproduseer word en na die voerkraal gestuur word.
“Vrugbaarheid as winsdrywer is vier keer belangriker as enige ander eienskap waarvoor jy kan selekteer. Dit is dus vier keer belangriker as enigiets anders om na ’n bul te kyk in terme van die koeie wat hy gaan produseer en wat aangepas en produktief in jou omgewing sal wees.”
Die koeikudde verteenwoordig ongeveer 67% van die vee-eenhede in ’n koei-kalfstelsel. Gewoonlik is hierdie vroulike diere hoofsaaklik van weiding afhanklik. Dit is dus belangrik dat die koeikudde aangepas is by die omgewing, veral wat betref die droë seisoene en groot temperatuurwisseling.
Daarenteen maak bulle 4% van die kudde uit en dra 50% van die genetiese materiaal tot die jaarlikse kalweroes by.
“Die bul wat jy aankoop sal oor drie generasies vir 88% van die genetiese samestelling van jou koeikudde verantwoordelik wees. Die langtermyn impak van jou bulkeuse is dus enorm. Jy sal die impak van daardie bul, hetsy goed of sleg, vir ten minste 15 jaar in jou kudde sien.”
Alhoewel aanpasbaarheid nie maklik meetbaar is nie, glo dr Beffa dat raamgrootte ’n goeie aanduiding daarvan is. “Ons almal weet dat grootraamdiere nie maklik by stresvolle omgewings aanpas nie. Dit is dus noodsaaklik om ‘n goeie begrip te ontwikkel vir die ideale raamgrootte vir maksimum vrugbaarheid en produktiwiteit in jou produksie-omgewing. Groter is nie noodwendig beter nie.”
Leer meer oor bulle se voedingbehoeftes tydens die winter hier.
Selekteer beter bulle
Daar is geweldig baie inligting beskikbaar waarmee produsente die regte bul vir hul behoeftes kan selekteer. Die eerste hiervan is die veilingskatalogus. Om dit ten beste aan te wend, moet jy egter leer hoe om hierdie inligting te interpreteer. (Sien ons artikel in die Rooivleis-afdeling van hierdie uitgawe.)
“Daar is ook ’n groot hoeveelheid inligting aanlyn beskikbaar. Breedplan, byvoorbeeld, het baie inligting wat geredelik beskikbaar is. Een van die belangrikste bronne van inligting is egter die teler. Bel hom of haar en vra uit oor die bul waarin jy belangstel. Vind uit tot watter mate sy of haar teeldoelwitte met joune ooreenstem.”
Die volgende stel inligting wat beskikbaar is, is indekse en beraamde teelwaardes (EBV’s). Hierdie is tegniese spesifikasies. “As jy ’n nuwe kar koop, kyk jy tog na die tegniese spesifikasies soos enjinkapasiteit, grondvryhoogte, brandstofverbruik, en dies meer. Die indekse is ’n aanduiding van hoe winsgewend ’n individuele dier se nageslag sal wees. Maak gebruik daarvan.”
Vervolgens is dit belangrik om te kyk na die individuele EBV’s wat vir jou kudde van belang is, soos geboortegewig, koeigrootte, melk en groei. “Iets wat toenemend belangrik raak, is ‘n bewustheid rondom genetiese toestande wat moontlik in jou kudde kan insluip. Dubbelbespiering is ’n goeie voorbeeld. Maak seker jy verstaan waarom hierdie toestande voorkom en watter maatreëls bestaan om dit in toom te hou.”
Oefen jou oog
Fisiese evaluering sal altyd ’n belangrike deel van bulseleksie bly. “Die tegniese spesifikasies laat jou toe om jou soektog tot ’n paar individue te verminder en beperk. Daarna is dit tyd om noukeurig na die oorblywende kandidate te kyk. Die bul is in wese ’n genetiese pakket, maar daardie pakket moet jou koeie dragtig kry. Hy moet struktureel gesond wees en nie binne ’n jaar of wat boedel oorgee nie.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Mario Beffa by mario@lrf.co.za.