Estimated reading time: 3 minutes
Gedurende Augustus het die rand teenoor die Amerikaanse dollar met ongeveer 30 sent versterk teenoor einde-Julie se vlakke, en sluit die maand op R17,72 vir een dollar af. Na ’n versakking aan die begin van die maand, het die rand weer veld gewen teenoor die Euro en die maand afgesluit op R20,66 vir een Euro. Die verbruikersprysindeks (VPI) is op 3,5% vir Julie 2025 beraam wat 0,5% hoër is as in Junie. Die produsenteprysinflasie vir Julie 2025 het groot styging getoon en is op 1,5% bereken teenoor 0,6% ’n maand tevore. Die prima-uitleenkoers was 10,5%
Laagste geelmielieprys vir 2025
Die geelmielieprys het in Augustus ’n verdere daling in pryse ervaar (sowat R370/ton laer as einde-Julie) en sluit die maand op R3673/ton af aan die einde van Augustus. Die week het ook die laagste geelmielieprys van 2025 tot dusver opgelewer.
Beeskarkaspryse toon opwaartse neiging
Die beeskarkasmark het ’n styging in pryse ervaar na die dalings wat in Julie gesien is. Die gemiddelde A2- beeskarkasprys het met R0,26/kg gestyg en sluit die maand op ʼn gemiddelde prys van R73,14/kg af. Die B2-karkasprys het ’n styging van ongeveer R2,21/kg ervaar en behaal ’n gemiddelde prys van R59,91/kg vir die maand. Die C2-karkasprys het ook ’n opwaartse tendens ervaar en ’n gemiddelde prys van R58,92/kg is vir die maand bereken (sowat R1,70/kg hoër as in Julie). In die maand van Augustus ervaar die speenkalf mark ʼn verdere styging in pryse en sluit die maand af op ʼn gemiddelde prys van R37,63/kg (teenoor R36,24/kg in Julie).
Skaapvleispryse styg sterk
Na dalings in die skaapvleispryse in Julie het die pryse sterk gestyg in Augustus (Figuur 1). Die A2-skaapkarkas se gemiddelde prys styg met ongeveer R2,36/kg en eindig die maand op ʼn gemiddelde prys van R108,22/kg. Die B2-karkas ervaar ook ’n groot versterking van ongeveer R9,20/kg en sluit die maand op ’n gemiddelde prys van R84,64/kg af. Die C2-skaapkarkaspryse het ook ’n stygende tendens getoon met die pryse wat met R7,82/kg gestyg het en sluit die maand dus op ’n gemiddelde prys van R82,65/kg af. Die stoorlamprys ervaar ’n effense styging en sluit die maand op ʼn gemiddelde prys van R50,67/kg af (sowat R1,60/kg hoër as in Julie).
Figuur 1: Skaapkarkaspryse vir 2025

Varkkarkaspryse styg steeds
Die O-varkarkasprys ervaar ’n verdere styging in pryse en eindig die maand op ʼn gemiddelde prys van R34,91/kg, ongeveer ’n R0,74/kg verbetering teenoor Julie. – Iniel Huggett en dr WA Lombard, Departement van Landbou-Ekonomie, Universiteit van die Vrystaat





