Oorvloedige reën bring hoop én uitdagings vir Noord-Kaapse produsente

Estimated reading time: 2 minutes

Almal in die Noord-Kaap het verwag dat boere die winter met ’n swaar hart sou ingaan. Die reën het egter sedert die begin van die jaar begin val en die provinsie vertoon tans sy mooiste gesig in jare.

Daar heers groot dankbaarheid oor die oorvloedige reën en veeboere is besonder opgewonde oor die weiding en veld wat uit sy nate bars. Soos egter dikwels die geval is, bring hierdie opwinding ook nuwe uitdagings mee.

Willem Symington, president van Agri Noord-Kaap, sê veeboere is baie positief oor die feit dat daar genoeg kos in die veld sal wees vir die komende winter. Met die vroeë winter wat landbouers ervaar, is daar ook ’n groter moontlikheid dat vektor-oorgedraagde siektes soos bloutong en Slenkdalkoors nie vanjaar ’n houvas op Noord-Kaap produsente se kuddes sal kry nie.

Boere is vol vertroue dat die ondergrondse watertafels weer aangevul sal word en dat daar voldoende water vir die komende jare sal wees.

Uitdagings vir saaiboere en infrastruktuur

Aan die ander kant ondervind saaiboere beduidende probleme. Volgens Symington is daar oeste wat dringend gestroop moet word, maar boere kan weens die nat toestande nie in die lande kom nie. Veral lusernprodusente word swaar getref. In baie gevalle kan lusern nie gesny word nie, aangesien die lande te nat is. Selfs waar dit wel gesny word, kan dit nie behoorlik op die lande droog word nie.

Nog ’n nadeel van die goeie reën is die groter gevaar van oorstromings en gepaardgaande skade aan infrastruktuur. Omdat die Noord-Kaap nie gereeld sulke hoë reënval ontvang nie, word die instandhouding van infrastruktuur dikwels afgeskeep.

Swak paaie, sê hy, het ’n massiewe invloed op landbou in die provinsie. Nie net moet produkte na die mark vervoer word nie, maar insette moet ook die plase bereik. Dit alles veroorsaak dat vervoerkoste die hoogte inskiet.

Ten spyte van hierdie uitdagings is die algemene gevoel onder landbouers een van groot dankbaarheid. Hoewel daar steeds gebiede in die provinsie is wat min reën ontvang het, is die meerderheid boere dankbaar vir die reën wat wel geval het. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Skakel gerus vir Willem Symington by 084 592 7474 vir navrae.

Popular stories