Estimated reading time: 3 minutes
Gedurende Mei 2025 het ons gesien hoe die rand stelselmatig teenoor die Amerikaanse dollar versterk het en die maand afsluit op R17,95 teenoor die dollar. Dit is sowat 46 sent sterker as aan die begin van Mei. Die rand het ook met sowat 39 sent teenoor die Euro versterk en sluit die maand af op R20,46 teenoor die Euro. Die repokoers is met 25 basispunte verlaag en veroorsaak dat die prima-uitleenkoers tans op 10,75% staan. Die verbruikersprysindeks (VPI) is op 2,8% beraam vir April 2025 met die produsenteprysindeks (PPI) wat op 0,5% beraam is.
Geelmielieprys wisselvallig
Die geelmielieprys het ’n wisselvallige maand gehad met die prys wat einde Mei sowat R134/ton laer as in die begin van die maand was en sluit die maand af op R4 175/ton.
Beeskarkaspryse styg, speenkalfprys daal
Die beeskarkaspryse het in die maand van Mei ’n stygende tendens getoon. Die gemiddelde A2-karkasprys het tot R68,34/kg gestyg wat sowat R2,40/kg hoër as laas maand is. Die B2-karkaspryse het ook in Mei met ongeveer R2/kg gestyg met die gemiddelde prys vir maand op R55,76/kg bereken. Die C2-karkasprys het ook opwaartse tendense ervaar en ’n gemiddelde prys van R52,39/kg bereik. Die speenkalfpryse het ’n daling vanaf laas maand ervaar en ’n gemiddelde prys van R36,17/kg is bereken. Daar word verwag dat die speenkalfprys gaan daal soos wat meer diere nou gespeen gaan word en weens die bek-en-klou (BEK)-uitdaging wat in die mark gesien word.
Kleiner styging in skaapkarkaspryse
Na 4 maande se opeenvolgende sterk groei in prys, ervaar die A2-skaapkarkaspryse ’n kleiner styging in pryse, soos gesien kan word in Figuur 1. Die A2-karkasprys het met 25 sent gestyg en ’n gemiddelde prys van R102,72/kg is bereken. Die B2-karkasprys ervaar ’n styging in pryse met sowat R1,03/kg, met die gemiddelde pryse wat op R69,25/kg vir die maand bereken is. Die C2-karkasprys het in die maand van Mei gedaal en ’n gemiddelde prys van R64,93/kg behaal (sowat R0,13/kg laer). Die speenlammark ervaar ’n styging in pryse met ’n gemiddelde prys R46,58 vir Mei wat ’n sowat R2,44/kg-verhoging vanaf April is.

Varkkarkasprys bestendig
Die klas O-varkkarkas se pryse beweeg redelik sywaarts in Mei met die gemiddelde prys wat 4 sent/kg gestyg het tot 31,99/kg. – Iniel Huggett & Dr. WA Lombard, Departement van Landbou-Ekonomie, UV
