Estimated reading time: 2 minutes
Gedurende Julie het die rand effens verswak teenoor die Amerikaanse dollar, dit het met 10 sent verswak en Julie het afgesluit met R16,52 vir een Amerikaanse dollar. Die rand het met 30 sent teenoor die euro verswak in die maand van Julie, en die maand het afgesluit op R19,01 vir een euro.
Indeks verskil maar mielieprys het gestyg
Die verbruikersprysindeks het met 0,5 % tot op 5% in Junie gestyg. Die produsenteprysindeks het met 0,3 % tot op 7,5% gedaal gedurende Junie 2026.
Die geelmielieprys het deur die loop van Julie vanjaar met R353/ton gestyg. Dit het die maand op R3 557/ton afgesluit.
Beeskarkaspryse styg oor al die klasse
Die beesvleispryse het oor al die klasse gestyg gedurende Julie. Die gemiddelde prys van klas A2-beeskarkasse styg met R3,03/kg en sluit Julie af op R68,07/kg. Die gemiddelde prys van klas B2-beeskarkasse styg met R3,22/kg tot op R62,26/kg. Die gemiddelde prys van klas C2-beeskarkasse styg vanaf R58,58/kg in Junie tot R60,04/kg in Julie. Die gemiddelde prys van speenkalwers het met R3,35/kg gestyg en Julie op R46,80 afgesluit.
Skaapkarkaspryse het aansienlik gestyg
Skaapkarkaspryse het verder gestyg in Julie en Figuur 1 dui die gemiddelde pryse van elke klas van Junie en Julie aan. Die gemiddelde prys van klas A2-skaapkarkasse styg met 38 sent/kg tot op R112,35/kg vir Julie. Die gemiddelde prys van klas B2-skaapkarasse toon ’n aansienlike styging van R7,87/kg aan en sluit Julie af op R88,02/kg. Die gemiddelde prys van C2-skaapkarkasse styg met R4,92/kg tot op R85,99/kg.
Die gemiddelde prys van speenlammers styg met R2,94/kg en sluit Julie af op ’n gemiddeld van R57,27/kg.
Varkkarkaspryse daal verder
Die gemiddelde prys van varkkarkasse daal met R4,51/kg en sluit Julie af op R29,37/kg. Dit is ongeveer R10/kg minder as wat in Januarie aangeteken is. – Carli Jacobs en dr WA Lombard, Departement Landbou-Ekonomie, Universiteit van die Vrystaat


