HomeMagazinesVeeplaasVoerkrale in Suid-Afrika en hoe dit wêreldwyd vergelyk

Voerkrale in Suid-Afrika en hoe dit wêreldwyd vergelyk

Estimated reading time: 7 minutes

Voerkrale kan as’t ware as die brug tussen rooivleisprodusente en eindverbruikers beskou word. Vleisprodusente se hoofdoel is om diere optimaal af te rond en aan abattoirs of spesifieke verwerkers te verskaf. Die meerderheid van voerkrale se insette word vanuit Suid-Afrika se goed-gevestigde speenkalfproduksiebedryf verkry.

Veeprodukte se bruto waarde het in 2023/24 sowat 43,2% tot die totale bruto waarde van landbouproduksie bygedra. Hiervan het die slag van beeste en kalwers 10,4% verteenwoordig. Speenkalfproduksie vir die voerkraalbedryf is die algemeenste vorm van vleisbeesproduksie in Suid-Afrika, met voerkrale wat sowat 75% van alle beesvleis in die land afrond.

Die rooivleisbedryf is ’n belangrike en groeiende komponent van Suid-Afrika se landbou, en maak bykans 15,1% van die land se totale landbou-uitsetwaarde vir 2023/24 uit. Terwyl skape hoofsaaklik onder ekstensiewe omstandighede aangehou word, word baie beeste wat vir beesvleisproduksie bestem is in voerkrale afgerond voordat hulle bemark word.

Suid-Afrika se voerkraalbedryf bestaan uit sowat 100 kommersiële voerkrale. Meer as 300 abattoirs is oor die land versprei en funksioneer in samewerking met voerkrale. Daar bestaan ook ’n groot aantal informele vee-afrondingsbesighede (Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing [DFFE], 2021).

Voerkraalkapasiteit en -rol

Kapasiteit is ‘n belangrike aspek van die voerkraalbedryf, aangesien dit bepalend is van die buffer wat die stelsel tydens droogte of tydperke van weidingstekorte kan bied. Suid-Afrikaanse statistieke toon dat kommersiële voerkrale in staat is om nagenoeg 650 000 beeste op enige gegewe tydstip te huisves.

Wat bestaande bestuurspraktyke betref, het die bedryf die potensiaal om byna 1,7 miljoen beeste jaarliks vir slagting af te rond. Hierdie syfer is egter nie ’n uitgemaakte saak nie en kan wissel na gelang van die beskikbaarheid van beeste, verskuiwings in insetkoste, en siekte-uitbrekings of bewegingsbeperkings. Voerkraalkapasiteit dien dus as ’n ekonomiese instrument asook ’n beskermingsmeganisme wat die rooivleisbedryf ondersteun en in staat stel om veerkragtig te bly.

Rol in die waardeketting

Voerkrale het vier belangrike funksies in die waardeketting. Die afronding van diere op ‘n hoë-energiedieet verminder in die eerste plek karkasvariasie, en help dat die karkasse die vetbedekking en gewig bereik wat deur verwerkers vereis word. Dit vergemaklik op sy beurt die nakoming van uitvoervereistes.

Tweedens help voerkrale om ‘n seisoenale oorskot van voerbeeste te absorbeer, wat verhoed dat produsente teen noodpryse moet verkoop. Op hierdie manier word meer konsekwente slagvolumes dwarsdeur die jaar moontlik gemaak.

Derdens maak gesentraliseerde produksie in voerkrale voorsiening vir groter doeltreffendheid ten opsigte van veeartsenykundige sorg, voerverkryging en vervoer. Hierdie is voordele wat nie so maklik in kleiner, meer verspreide bedrywighede moontlik is nie.

In die vierde plek is voerkrale dikwels die meer naspeurbare skakel in die voorsieningsketting. Dit is al hoe belangriker vir uitvoermarkte wat omvattende sanitêre en dierewelsynsvereistes het. Volgens die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) en ander ontleders bied die voerkraalstruktuur beduidende voordele, hoewel uitvoergeleenthede steeds afhanklik is van betroubare afrondingsuitkomste.

Uitdagings

Aangesien voerkoste die grootste deel van ‘n voerkraalbesigheid se veranderlike koste uitmaak, kan veranderinge in graan- en oliesaadpryse die winsgewendheid van ‘n voerkraal aansienlik beïnvloed. Hoewel Suid-Afrika se jongste landbou-opdatering op sterk plaaslike oliesaadverwerking en beter beskikbaarheid van sojaboonmeel dui, bly prysonstabiliteit ’n uitdaging.

Daarbenewens verhoog die konsentrasie van diere die risiko van siekte-uitbrekings, wat tot bewegingsbeperkings kan lei en beide die voorsiening van beeste aan voerkrale en die vloei na abattoirs ontwrig.

Laastens speel die omgewingsimpak van grootskaalse afronding ’n toenemende rol in die oorwegings van kopers en regulerende owerhede. Hier word spesifiek verwys na voerdoeltreffendheid, afvalbestuur en kweekhuisgasvrystellings.

Omvang van plaaslike voerkrale

Suid-Afrikaanse voerkrale het, soos genoem, ’n staankapasiteit van sowat 650 000 diere op enige gegewe tydstip. Die voerkraalbedryf verskaf jaarliks bykans 1,7 miljoen slagdiere, wat 70 tot 80% van die nasionale beesvleisproduksiesyfer uitmaak. In vergelyking met die geskatte nasionale kudde van 12,2 miljoen beeste in Suid-Afrika, beteken dit dat sowat 14% van die kudde deur voerkrale gevoer en jaarliks geslag word.

Voerkrale kom in verskeie groottes voor – van klein tot middelgroot (8 000 tot 30 000 diere) en groot voerkrale wat meer as 145 000 diere kan huisves. Drie voerkraalkategorieë is van belang: plaasvoerkrale waar produsente hul eie speenkalwers voer, seisoenale voerkrale waar speenkalwers net gedurende en ná speentyd gevoer word, en kommersiële voerkrale wat diere deur die jaar aanhou.

Kommersiële voerkrale is dikwels met die res van die waardeketting geïntegreer, insluitend abattoirs, ontbeningsaanlegte, verpakkingsfasiliteite en kleinhandelaars. Voerkrale produseer selde self die kalwers; die meerderheid word deur koei-kalfprodusente voorsien. Speenkalfprodusente moet dus kennis dra van die eienskappe wat voerkrale verkies. Kalwers word op die ouderdom van sewe tot 12 maande in die voerkraal geplaas, en tussen 90 en 180 dae gevoer voordat hulle geslag word.

In die Verenigde State

Voerkrale in die Verenigde State (VSA) het aan die begin van 2025 sowat 14,3 miljoen beeste op enige gegewe oomblik aangehou – bykans 17% van die nasionale kudde. Altesaam 11,7 miljoen diere is in voerkrale met ’n kapasiteit van 1 000 diere of meer gehuisves, terwyl die res in voerkrale met ’n kapasiteit van minder as 1 000 aangehou is.

Die VSA het 26 105 voerkrale, waarvan 24 000 minder as 1 000 beeste huisves en 13% van die totale voerkraalproduksie uitmaak. Die oorblywende 2 105 voerkrale huisves meer as 1 000 beeste, insluitend 80 voerkrale wat meer as 50 000 diere aanhou, en dra sowat 87% tot die totale voerkraalproduksie by.

Die wêreld se grootste voerkraalfirma, Five Rivers Cattle Feeding in die VSA, besit 13 voerkrale wat oor verskeie state versprei is. Hulle kan op enige gegewe oomblik meer as 865 000 diere voer en bemark, en rond jaarliks sowat 1,8 miljoen diere af.

Kalwers word hoofsaaklik tussen 220 en 270kg of op ses tot agt maande gespeen, waarna hulle op gras tot tussen 340 en 360kg groei. Daarna word hulle vir 90 tot 120 dae in ’n voerkraal geplaas totdat hulle 500 tot 560kg bereik. In sommige gevalle word speenkalwers direk aan voerkrale verskaf, soos in Suid-Afrika ook gebeur.

Amerikaanse beeste word om verskeie redes op gras uitgegroei, ’n praktyk wat algemeen as backgrounding bekendstaan. Eerstens verlangsaam die dier se groeitempo as gevolg van die laer voedingswaarde en energie-inhoud van gras in vergelyking met die konsentraat wat in voerkrale gevoer word. Hierdie stadige tempo bevorder spierontwikkeling en verminder vetneerlegging. Dit verseker op sy beurt maksimumraamgrootte en uiteindelik swaarder karkasse. Die fokus is dus op die optimale benutting van koste-doeltreffende spierontwikkeling en raamgrootte, sodat die beste groeipotensiaal bereik kan word.

Tweedens lei die toenemende bedryfskoste van voerkrale daartoe dat jaar-oue kalwers wat op gras uitgegroei is, soms bo speenkalwers verkies word. Backgrounding verseker ook ‘n konstante vloei van diere deur die jaar.

Figuur 1:Aantal voerkrale in VSA volgens kategorieë (Bron: Oklahoma Staatsuniversiteit).

Brasiliaanse bedryf

Brasilië spog met die grootse vleisbeeskudde ter wêreld, met sowat 238 miljoen beeste – amper 20 keer meer as in Suid-Afrika. In 2024 het voerkrale nagenoeg agt miljoen beeste op sowat 2 600 eiendomme aangehou. Hierdie voerkrale maak 20% van die totale beesslagtings uit (39 miljoen) en verteenwoordig ongeveer 3 tot 4% van die nasionale kudde.

Verskeie redes kan aangevoer word vir die relatiewe lae getal beeste wat aan voerkrale verskaf word. Een daarvan is dat 21% van die land uit grasveld bestaan, wat produsente aanmoedig om hul beeste eerder binne ’n lae-koste, veldgebaseerde stelsel vet te maak.

’n Verdere moontlikheid is dat Brasilië groter klem op kuddebou plaas en dus word meer diere teruggehou. Daarbenewens maak klein- tot mediumgrootte produsente sowat 76% van die plattelandse ondernemings uit, terwyl hul beeste 31% van die nasionale kudde verteenwoordig. Dit beteken dat hierdie produsente dikwels beperkte toegang tot krediet, tegniese ondersteuning en modern tegnologie het en gevolglik nie genoeg fondse besit om in voerkrale te belê nie.

Australiese bedryf

Sowat 400 voerkrale is in Australië geakkrediteer, met kapasiteit wat wissel van 500 tot 50 000 beeste. Hierdie voerkrale het gesamentlik ‘n maksimumkapasiteit van 1,7 miljoen beeste, waarvan 1,5 miljoen tans aangehou word; dit verteenwoordig net 2 tot 3% van die Australiese beesbevolking.

Die lae aantal diere wat voerkrale binnegaan kan waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat 80% van Australië se mielies in Queensland en New South Wales geproduseer word. Vervoerkoste na ander dele van die land is dus hoog.

As gevolg van geologiese, topografiese en klimatologiese faktore is die meerderheid van Australië se grondoppervlak geskik vir ekstensiewe boerdery. Daarteenoor is minder as 25% van die land se grond geskik vir intensiewe boerdery. In die state waar voerkrale wel voorkom, is die bedryf baie soortgelyk aan dié van Suid-Afrika.

Beeste in Australiese voerkrale spandeer gemiddeld 50 tot 120 dae in die voerkraal (sommige tot 300 dae), afhangend van die marktipe wat verkies word. Hul ingangsgewig is gewoonlik 250 tot 450kg, en hulle word op 400 tot 700kg geslag. – Iniel Huggett en Timon Dedekind, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting en verwysings, stuur ’n e-pos na HuggettI@ufs.ac.za of DedekindTC@ufs.ac.za

100 jaar van wolproduksie (Deel 5): Die boublokke van ’n welvarende land

Estimated reading time: 7 minutesDie Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) betree binnekort die volgende 100 jaar van sy bestaan. Die organisasie...

RSG Landbou: 26 Augustus 2026

In vandag se aflewering van RSG Landbou vind ons meer uit oor predasiebestuur, die Rooivleisbedryfsdienste se betrokkenheid by die...

LandbouRadio: 26 Augustus 2026

In Woensdag, 26 Augustus se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende:Leon die skaapherder is eerste aan die woord...

Lantana camara: Waak teen dié struik

Estimated reading time: 3 minutesLantana-vergiftiging is een van die algemeenste vorme van plantvergiftiging by vee en veroosaak lewerskade, geelsug...

The ARC Beef Performers Awards 2026: Honouring excellence and progress

Estimated reading time: 4 minutesOn 26 November 2026, the Agricultural Research Council's Beef Cattle Improvement Scheme, in collaboration with...

RSG Landbou: 25 Augustus 2026

In vandag se aflewering van RSG Landbou ontvang ons die nuutste wolmarkverslag, ons vind meer uit oor die Agri...

Keep exploring...

Landboumarkte: Julie 2025 Skaapvleispryse, prestasies verskil tussen klasse

Estimated reading time: 3 minutesGedurende Julie 2025 het die rand met ongeveer 22 sent teenoor die Amerikaanse dollar verswak en sluit die maand af...

Landboumarkte: Augustus 2025 skaapvleispryse styg skerp

Estimated reading time: 3 minutesGedurende Augustus het die rand teenoor die Amerikaanse dollar met ongeveer 30 sent versterk teenoor einde-Julie se vlakke, en sluit...