HomeAgri NewsTrekkerverkope klim ná swak 2024

Trekkerverkope klim ná swak 2024

Estimated reading time: 5 minutes

‘n Positiewe sentiment in die landboubedryf, aangevuur deur verskeie ondersteunende faktore, het vanjaar tot dusver ’n hupstoot aan die verkope van nuwe trekkers en stropers in Suid-Afrika gegee. Daarmee saam dui tendense daarop dat ’n toename in nuwe masjinerieverkope dikwels ook gepaard gaan met ’n styging in die verkope van tweedehandse toerusting.

Verkope blom

Volgens die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (Saama) het totale trekkerverkope vir die jaar tot en met Mei met bykans 19,5% toegeneem in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Altesaam 2 926 trekkers is reeds vanjaar verkoop, teenoor 2 449 in dieselfde tydperk in 2024. Volgens voorlopige ramings kan jaarlikse verkope tussen 5 en 10% hoër wees as in 2024. Trekkerverkope in Mei 2025 alleen het met 12,2% gestyg in vergelyking met Mei 2024, met 635 eenhede wat verkoop is teenoor 566 verlede Mei.

Stroperverkope toon selfs ’n nog sterker groeikoers. Tot en met Mei vanjaar is stroperverkope bykans 44% hoër as verlede jaar, met ’n totaal van 148 eenhede wat verkoop is, teenoor 103 in dieselfde tydperk in 2024. In Mei alleen is 41 stropers verkoop, vergeleke met slegs 25 in dieselfde maand verlede jaar. Volgens Willie Human, voorsitter van Saama, moet die huidige styging in verkope egter in perspektief gesien word. Verlede jaar was daar uitdagende omstandighede vir produsente, met swak trekkerverkope in Mei 2024 en droogtetoestande wat produsente se opbrengste onder druk geplaas het.

Swak verkope in 2024

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê die toename in nuwe masjinerieverkope weerspieël hoofsaaklik die positiewe sentiment in die bedryf oor die 2024/25-graan- en -boordoes. Hierdie optimisme word deur gunstige weersomstandighede en basis-effekte ná die swak verkope in 2024 aangedryf. Daar is egter kommer oor die gewasgehalte weens die swaar reën in April vanjaar, maar daar is steeds optimisme oor die opbrengste wat die sterk verkope goed ondersteun. Volgens hom kan die afname in landboumasjinerieverkope verlede jaar toegeskryf word aan die feit dat Suid-Afrika se landbousektor reeds tussen 2020 en 2023 hoë vlakke van masjinerieverkope beleef het.

Verbeterde inkomste onder boere, aangevuur deur goeie oeste en stygende kommoditeitspryse, het daartoe gelei dat meer masjinerie aangekoop is. ’n Regstelling was dus onvermydelik, wat in 2024 tot ’n daling in verkope gelei het. Verder het die midsomer-droogte tydens die 2023/24-seisoen boere se omstandighede negatief beïnvloed, wat verkope verder onder druk geplaas het.

Die relatief hoë rentekoerse gedurende ’n groot deel van 2024 het bykomende ekonomiese druk op die bedryf geplaas, wat die swak verkope verder verklaar. Sihlobo sê die vooruitsigte vir vanjaar lyk egter meer gunstig. Rentekoerse het effens gedaal vanaf die vlakke van verlede jaar, alhoewel daar steeds onsekerheid oor die wêreldekonomiese vooruitsigte is weens hernude risiko’s. Dit is ook noemenswaardig dat sommige boere moontlik in die komende maande met die vervanging van masjinerie sal begin.

Die tweedehandse mark

Lucas Groenewald, bemarkings- en verkoopsbestuurder by John Deere, sê hoewel die maatskappy nie direk by die verkope van tweedehandse masjinerie betrokke is nie, dui tendense daarop dat ’n styging in die verkoop van nuwe toerusting gewoonlik ’n positiewe invloed op die tweedehandse mark het.

Volgens hom was  daar verlede jaar ’n ooraanbod van tweedehandse masjienerie en die mark was oorstroom. Daar was verkopers wat gesukkel het om goeie pryse te kry, veral omdat daar ’n groot hoeveelheid duur toerusting beskikbaar was. Dit was grotendeels omdat 2023 ’n baie goeie jaar vir die verkoop van beide nuwe en tweedehandse masjinerie was. Verder was masjinerie ná die uitdagings van Covid-19 skaars. Daar was toe tekorte, en gewoonlik wanneer daar ‘n tekort aan nuwe masjinerie is of wanneer die vraag daarna hoog is,  neem die belangstelling in tweedehandse masjinerie ook toe.

Volgens Groenewald lyk dit asof die tweedehandse masjinerie-verkope tans effens verbeter het. Of die mark egter ten volle herstel het ná die goeie verkope van 2023, is nog nie duidelik nie. Daar is nie volledige statistieke beskikbaar oor tweedehandse masjinerie-verkope nie, maar dit wil voorkom asof daar ’n verbetering is en voorraadvlakke het afgeneem.

Nietemin glo hy dat 2025 nie ’n uitsonderlike jaar vir hierdie verkope is nie. Daarteenoor was verlede jaar ’n gemiddelde jaar ná die goeie verkopemark vir nuwe en tweedehandse masjienerie in 2023. Verkope het na normale vlakke van sowat 6 500 tot 7 000 trekkers teruggesak, vergeleke met die piek van ongeveer 9 000 trekkers wat in vorige jare verkoop is. Daarmee saam volg die tweedehandse mark in die algemeen die neiging van die nuwe masjineriemark.

Vooruitsigte

Groenewald sê daar word verwag dat verkope teen die einde van die jaar tot 5% hoër kan wees, maar die feit dat die stroopseisoen in baie dele van die land twee maande later begin het weens laat reënval, kan ’n invloed op die mark hê. Boere sukkel steeds om te stroop en baie het eers onlangs hul sojabone afgehaal, terwyl hulle teen einde April daarmee moes klaar wees. Sommige boere het steeds nie toegang tot hul mielielanderye nie weens nat toestande.

Daar is ook die risiko dat mielies van ’n swakker graad mag wees. Groenewald meen dit alles kan ’n impak op boere se inkomste hê. Hierdie faktore moet nog uitspeel, en die uiteindelike effek op die mark is onseker. Hy sê wat tweedehandse verkope betref, is daar sekerlik nog ’n groot hoeveelheid voorraad in die mark beskikbaar. Kopers moet rondkyk vir goeie pryse want daar kan beslis winskopies wees. Sommige van die tweedehandse masjinerie kan teen afslagpryse aangebied word, en dit bied ’n geleentheid vir waarde-aankope. – Christal-Lize Muller Plaas Media

Vir meer inligting kontak Willie Human by 011 453 7249, Wandile Sihlobo by wandile@agbiz.co.za, of Lucas Groenewald by groenewaldlucas@johndeere.com.

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt,...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR)...

LandbouRadio: 3 April 2026

In Vrydag, 3 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met 'n plaasvars landbounuusbulletin. ⁠Tydens die...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the...

Government and ARC gives update on FMD vaccine numbers

Estimated reading time: 3 minutes The Agricultural Research Council (ARC) confirmed on 1 April that it has released another 20 000...

26th AFSTA Congress: Empowering Africa’s future, one seed at a time

Estimated reading time: 6 minutes Seeds are not just agricultural inputs; they embody our future, the promise of a resilient...

Keep exploring...

Landboumarkte: April 2025 ’n goeie maand vir rooivleispryse

Estimated reading time: 2 minutes In die maand verslag vir April 2025 sien ons dat die rand aan die begin van die maand verswak het,...

Landboumarkte: Mei 2025 Die styging in skaapvleispryse begin taan

Estimated reading time: 3 minutes Gedurende Mei 2025 het ons gesien hoe die rand stelselmatig teenoor die Amerikaanse dollar versterk het en die maand afsluit...