SKRYF IN: LRF Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar 2023

Estimated reading time: 3 minutes

Die gesogte Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) se Suider-Afrikaanse Stoetteler van die jaar-kompetisie sal vanjaar vir die 21ste keer gehou word, nadat dit in 2003 vir die eerste keer aangebied is. Die bekende LRF Veeskool het ontstaan vanuit dié kompetisie. Die wenner van hierdie toekenning sal tydens die LRF Veeskool in Oktober aangekondig word.

Hoe om in te skryf

Die LRF Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar-kompetisie is uniek in die opsig dat vleisbeesstoettelers van regoor Suider-Afrika (insluitend Suid-Afrika, Zimbabwe, Namibië en Botswana) wat genetiese materiaal verkoop kan inskryf, ongeag of hulle LRF-lede is of nie.

Die inskrywingsvorm kan hier in Engels of Afrikaans, of by www.stockmanschool.co.za afgelaai word en moet voor 31 Julie om 17:00 aan prof Frikkie Neser by neserfw@ufs.ac.za gestuur word.

Inskrywings moet gebaseer wees op koeie en verse wat in 2021 gepaar is, kalwers wat in 2022 gebore is en bulle wat in 2022/2023 verkoop is.

Doel van die veeskool en kompetisie

Die LRF Veeskool is 12 jaar gelede op die been gebring om produsente op ‘n bekostigbare en toeganklike wyse toe te rus met kennis rondom die jongste tendense in diereteling regoor in die wêreld. Plaaslike en internasionale gassprekers lewer jaarliks insette en bied produsente die nodige kennis om beter veeboerderypraktyke en dus beter winsgewendheid te verseker.

Hierdie geleentheid is ook die kulminasie van die kompetisie en het ‘n hoogtepunt op die vleisbeesprodusente-kalender geword. Die Stoetteler van die Jaar-kompetisie is ‘n beliggaming van die veeskool se ideale en beloon produsente vir uitnemendheid in vleisbeesteling.

Lees meer oor die 2022 wenner hier.

Die kriteria

’n Onafhanklike paneel beoordelaars kies die stoetteler van die jaar gebaseer op die volgende kuddekriteria: Algemene bestuur, vrugbaarheid, genetiese bestuur (hier word die genetiese of teelplan oorweeg asook die verkoop van genetiese materiaal) en laastens gemeenskapsdiens.

Die bestuur van die kudde sluit die prestasietoetsing, bestuursiklus (dek-, kalf- en speenseisoen asook bulverkope) in. Tipiese veebelading en ouderdom van verse word ook oorweeg.

Die stoetbemarkingsprogram word bestudeer en daar word gefokus op veilingverkope, watter teelmateriaal verkoop is, voorafinspeksies, waarborge aan kopers en die teikenmark.

As dit kom by gemeenskapsbetrokkenheid moet deelnemers spesifieke inligting verskaf rondom posisies wat beklee is in die bees- of vleisbedryf, of programme waartoe die teler bygedra het. Dit sluit plaaslike skoue, produsenteverenigings en telersgenootskappe in. Werkeropleiding word ook oorweeg, asook enige kliëntedienste wat verskaf word.

Eienskappe van ‘n goeie kandidaat

Kandidate wat vir die toekenning oorweeg word is telers wat tipies ‘n goeie seleksieprogram volg en wie se kuddebestuur op ‘n hoë vlak is. So ‘n produsent lewer dus goeie gehalte diere vanuit die kudde aan die nabye omgewing of verder, vir beide die stoet- en kommersiële mark. Die teler se diere en/of genetika behaal ook goeie pryse by verkopings en uit die hand.

Die genetiese tendens van die kudde moet deur die teelplan ondersteun word. ‘n Goeie stoetteler monitor dit oor die jare en pas vroegtydig regstellings toe deur middel van onder andere bulkeuse. Goeie genetiese tendense en hoë vrugbaarheid (speenpersentasie word hier oorweeg) is ook belangrik en bewys dat die teelbeleid geslaagd is.

Aankondiging van die wenner

Finaliste word genooi na die LRF-Veeskool Galageleentheid wat op 12 Oktober 2023 by die Aldam-vakansieoord in Ventersburg plaasvind. Hier sal die wenner aangekondig word en pryse uitgedeel word. Die algehele wenner sal die geleentheid hê om hul stoetery te adverteer tydens ‘n openbare velddag wat die steun van die borge sal geniet. Die amptelike mediaborg, Plaas Media, sal ook oor die wenner berig in Veeplaas asook op hul radio-, TV- en aanlynplatforms, en ander media sal ook teenwoordig wees om aan die wenner blootstelling te gee.

Vir meer inligting, sien die advertensie hiernaas en klik hier om die inskrywingsvorm af te laai.

RSG Landbou: 2 Oktober 2023 – geborg deur Plaas Media

Goeie nuus vir landbou en inwoners wat afhanklik is van water uit die Kougadam...

Plaas TV: Klimaatslim boerdery, AFMA Forum, Agbiz Graan- en Oliesade-simposium en Kubota-trekkers

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is...

Strategies for managing seasonal infertility in pigs

Estimated reading time: 7 minutes The phenomenon of seasonal infertility among pigs is real,...

Avoid unilateral changes to the employment contract

Estimated reading time: 4 minutes The employment contract can be of immense value to...