Estimated reading time: 4 minutes
Gerhard en Jani Lourens van LGL Farming Co in Gauteng het as die wenners van Lamb Champs Pretoria 2026 uit die stryd getree. Terselfdertyd het die organiseerders aangekondig dat ’n nuwe internasionale wedstryd tussen Suid-Afrika en Namibië gehou gaan word.
Die Lourens-egpaar het op Saterdag, 25 Julie met die louere weggestap toe hulle Persie-lam as die beste vleis aangewys is. Vanjaar het 110 skaapboere van regoor Suid-Afrika aan die Pretoria-been van die kompetisie deelgeneem. Meer as 6 000 besoekers het die geleentheid by Harlequins Rugbyklub bygewoon.
Die gebruiklike Lamb Champs-boeredinee is die aand vooraf gehou, waartydens aangekondig is dat die eerste Lamb Champs Uitnodigingswedstryd op 31 Oktober vanjaar in Pretoria aangebied sal word. “Die invitational is die volgende groot hoofstuk in die Lamb Champs-verhaal,” het Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, gesê. “Ons wil ’n internasionale verhoog skep waar boere as nasionale verteenwoordigers erken word en waar landbou-uitnemendheid, koskultuur en nasionale trots saamkom.”
Pretoria se lamkonings
Die deelnemende boere se lamsvleis is op grond van streng kriteria deur onafhanklike beoordelaars beoordeel. Dit sluit in voorkoms, aroma, sagtheid, tekstuur, sappigheid, mondgevoel en algehele eetervaring. Die uiteindelike top vyf deelnemers was:
- Eerste plek: Gerhard en Jani Lourens van Gauteng – Persie.
- Tweede: Daan en Tharin Malan van Bethal, Mpumalanga – Dormer.
- Derde: Jaco Muller van die Vrystaat – Vleismerino × Rooi Persie.
- Vierde: Tsaats Hattingh van die Vrystaat – Dohne Merino.
- Vyfde: At Bibbey van die Vrystaat – Merino.
Rossouw het die wenners en deelnemers gelukgewens en gesê Lamb Champs plaas graag familieboere in die kollig en bied aan hulle die geleentheid om die uitsonderlike gehalte van hul produkte ten toon te stel. Die kompetisie bied ook vir verbruikers die kans om ’n beter begrip te ontwikkel van die vaardigheid, toewyding en sorg wat agter die lamsvleis op hul borde ingaan.
Meer oor die uitnodigingswedstryd
Die nuwe Lamb Champs Uitnodigingswedstryd beloof om almal op die punte van hul stoele te hê wanneer Suid-Afrika en Namibië mekaar in Oktober die stryd aansê. Elke land sal deur ’n span van tien skaapboere verteenwoordig word.
Rossouw het tydens die aankondiging by die boeredinee gesê verlede jaar se nasionale Lamb Champs-wenner, Hennie Jonker, het reeds sy plek in die Suid-Afrikaanse span verseker. Gawie van Heerden is as Suid-Afrika se spankaptein aangewys en die res van die span sal bestaan uit twee boere van elk van die streeksgeleenthede in Pretoria, Bloemfontein en Boland.
Lamb Champs Pretoria het prominente gaste uit die landbou-, politieke en diplomatieke gemeenskappe verwelkom, waaronder minister van landbou, Willie Aucamp, en die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell III.
Besoekers is vermaak deur Juan Boucher, Demi Lee Moore, Jakkals Vibes, Henru & Schwabie en WEST. Lamb Champs word met trots deur Pick n Pay geborg en bied Lamb Champs-vleis nasionaal in al hulle korporatiewe winkels aan. Hulle het ook onlangs ‘n spesiale Lamb Champs-klerereeks in Pick n Pay Clothing winkels onthul.
Pretoria 2026 is moontlik gemaak deur die ondersteuning van sy gewaardeerde vennote, waaronder Pick n Pay, Toyota, ZarBet, Zoetis, Buffelsfontein en Castle Lager. Die volgende geleentheid in die nasionale reeks, Lamb Champs Bloemfontein, vind op 29 Augustus by Toyota-stadion in Bloemfontein plaas. – Persverklaring (verwerk)
