Estimated reading time: 4 minutes
Plaas Media het op Donderdag, 13 Augustus, van vroeg tot laat saamgekuier by Overberg Agri se gewilde Herkouerdag op die Roodebloem-proefplaas buite Caledon. Die fokus vanjaar se dag was op winsgewende en volhoubare herkouerproduksie.
Bewaringslandbou lei tot produksieverhoging
Prof Pieter Swanepoel, medeprofessor en hoof van die Departement Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch, het geïntegreerde vee- en weidingstelsels van naderby bekyk. Hy het ook die potensiaal om die koolstofvoetspoor te verklein en gewasproduksie meer volhoubaar te maak, ontleed. Volgens hom het studies getoon dat die toepassing van bewaringslandboubeginsels, waaronder die behoud van oesreste, geenbewerking en wisselbou, tot ’n produksieverhoging van 8% teenoor konvensionele landbou kan lei.
Prof Swanepoel het ook gewys op die voordele daarvan om vee in gewasstelsels soos koring en kanola te integreer. “Vee versnel die prosesse en ’n mens geniet vinniger die voordele van bewaringsboerdery,” het hy gesê. Die insluiting van vee kan opbrengste verhoog, boerdery meer omgewingsvriendelik maak en produsente help om minder afhanklik van stikstof te wees. Hy meen ook dat minder afhanklikheid van onkruiddoders ’n positiewe impak op die stelsel kan hê.
Inenting en biosekuriteit is integraal tot BEK
Dr Muller Strydom, ‘n veearts en spesialis in dieregesondheid en biosekuriteit, het die huidige bek-en-klouseer-situasie in Suid-Afrika bespreek. Hy het na ’n onlangse uitbreking in die Swartland verwys en gesê die siekte is moeilik om te beheer sodra dit in ’n gebied gevestig is.
Hy het ook gewys op simptome en letsels, waaronder uierletsels en die sogenaamde tiger stripe-sindroom in die hart. “Hoe gaan ons dit uitwis? In my opinie is daar net een van twee maniere, naamlik inenting en goeie biosekuriteit,” het hy gesê. Hy sê minstens 80% van alle diere moet ingeënt word om kudde-immuniteit te bewerkstellig. Produsente wat self diere inent, dra terselfdertyd die verantwoordelikheid om streng biosekuriteitsmaatreëls toe te pas.
Die beter produksielam
Dr Andy Hentzen, medeprofessor in die Fakulteit Veeartsenykunde by die Universiteit van Pretoria, het in sy aanbieding van “Die beter produksielam – sal jy hom herken as jy hom sien?” gefokus op die eienskappe van ’n hoë-presterende produksielam en hoe genetiese seleksie tot meer winsgewende diere kan lei. Omdat daar nie altyd genoeg tyd is om die volle potensiaal van goeie genetika te benut voordat lammers bemark word nie, kan ’n hoër gemiddelde daaglikse toename (GDT) praktiese voordele bied.
Dit sluit vroeër speen, selfs met kruipvoer, en presisievoeding van lammers met hoër produksiepotensiaal in. Hy het ook die belangrikheid van vervangingsooie en terminale kruising beklemtoon.
Wolmark geleenthede en ander besprekings
Isak Staats, uitvoerende hoof van BKB Wol en Sybokhaar, het die jongste wolmarkte en tendense bespreek. Volgens hom beteken die afname in wolproduksie nie noodwendig dat minder wol in die algemeen geproduseer word nie, maar eerder dat minder sterkwol en meer fynwol geproduseer word. Hy het ook gewys op ’n afname in die vraag na wol uit Europa en gesê hy verwag nie dat Australiese wolprodusente in dieselfde mate na die mark sal terugkeer nie. Ten spyte hiervan meen hy dat Suid-Afrikaanse wolprodusente uitstekend geposisioneer is.
Vir meer inligting, kontak Adré Nel, digitale bemarkings- en kommunikasieleier by Overberg Agri, by 028 214 3876 of adren@overbergagri.co.za. – Carin Venter, Plaas Media











