Estimated reading time: 4 minutes
Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en die Universiteit van die Vrystaat (UFS) se Fakulteit van Landbou, het die unieke Rico-beursfonds vandag in Bloemfontein bekendgestel. Die fonds is die uitvloeisel van ‘n inspirerende skaapstorie wat beslis nie ‘n wolhaarstorie is nie – dit is ‘n verhaal van uithou, aanhou en gee. Dit is nie net ‘n storie met ‘n gelukkige einde nie, maar ‘n nalatenskap waar die stokkie aangegee word, sodat ander uithouers en aanhouers se lewens kan verander. Sommige verhale vertel jou presies waarvoor ‘n bedryf hom beywer, en die wel en weë van Rico die skaap is so ‘n verhaal.
Rico se sinkplaatpad het begin waar hy op ‘n plaas in die ongenaakbare Moordenaarskaroo, van sy trop geskei is. “Enige boer sal jou vertel dat dit baie van ‘n skaap verg om stoksielalleen in hierdie area te oorleef,” vertel Dan Kriek, hoofbestuurder van die NWKV. “Rico was vir sewe jaar op sy eie, sonder enige mensehand wat hom versorg het, sonder beskerming teen roofdiere, en oorgelaat aan die elemente. Hy moes daagliks sy eie water en weiding opspoor, en het so van droogte tot droogte oorleef voordat iemand hom eendag teen ‘n lyndraad opgemerk het.”
Rico is na die Brinks van Spitzkop geneem waar hy versorg en geskeer is. Sy storie en sy vag het die nuus gehaal – ‘n plaaslike rekord 30,7kg wol. Nie alleen het Marietjie en Niel Brink vir Rico nog ‘n kans gebied nie – sy uitsonderlike verhaal is gevier met ‘n spesiale liedjie wat vanjaar saam met ‘n video tydens die NWKV se jaarkongres en eeufeesvieringe onthul is. Gerber en Co het ook gesorg vir ‘n unieke muurbehangsel wat uit Rico se verwerkte wol gemaak is.
Verhale van veerkragtigheid
“Rico se verhaal resoneer op talle vlakke met die NWKV. Die plaaslike wolbedryf vier vanjaar sy 100-jarige bestaan en, net soos Rico, was die bedryf se pad in Suid-Afrika nie altyd met rose besaai nie. Dis ook ‘n storie van moeilike tye, oorlewing en ingrypende verandering. Dit is egter ook ‘n storie van oorwinning, groei, vernuwing en talle hoogtepunte. Die verhaal van ons bedryf en die produsente wat hierdie bedryf deur dik en dun opgebou het tot waar dit vandag wêreldklas is, spreek van dieselfde veerkragtigheid wat Rico deur moeilike tye staande gehou het en hom ‘n legende van ons tyd maak.”
Simboliek is egter net werklik betekenisvol indien dit tasbaar gestalte kan kry. Die beste deel van ‘n mooi storie is ‘n mooi einde, maar ‘n storie met lang bene (of wol) is nog mooier. Nes die NWKV sy tweede bestaanseeu met hoop en nuutgevonde veerkragtigheid binnegaan, gaan Rico se storie nou ‘n nuwe fase in – waar ‘n helpende hand nou uitgereik word na ander met dieselfde oorlewingsetiek en wil om te groei.
Die Rico-beursfonds
Een van die Brinks se hartswense was dat Rico se verhaal ‘n positiewe invloed op ander se lewens kon hê. “Hulle verstaan self hoe ‘n droogte hulle kinders se universiteitsplanne kan bedreig en daarom was hulle versoek aan die NWKV dat ons die leiding neem om ‘n beursfonds te stig wat ‘n daadwerklike verskil aan hardwerkende leerders se lewens kan maak,” verduidelik Kriek.
Die NWKV is trots om die Rico-studiebeurs in samewerking met die UFS te loods. Na samesprekings met prof Johan van Niekerk en prof JW Swanepoel van die universiteit se Fakulteit van Landbou, is hierdie beursfonds nou ‘n werklikheid wat tydens ‘n spesiale geleentheid op 17 Augustus bekendgemaak is.
Die UFS het reeds agt bestaande volle beurse vir meestersgrade in Volhoubare Landbou onder die Rico-beursfonds geposisioneer. ‘n Verdere twee voorgraadse beurse word ook nou deel van die fonds: Een voorgraadse beurs is spesifiek vir ‘n leerder uit die breë Karoo-landbougemeenskap, terwyl die tweede voorgraadse beurs toegeken sal word aan ‘n leerder uit Suid-Afrika se ander wolproduserende streke. Hierdie twee leerders sal die geleentheid kry om in enige landbourigting onder die vaandel van die UFS se Landboufakulteit te studeer.
Die publiek kan binnekort ook deel van hierdie inspirerende verhaal word en hulle deel doen om ‘n voelgoed-episode in ‘n doengoedstorie te omskep, deur tot die fonds by te dra. Die NWKV en UFS se sosiale media-blaaie asook ander platforms sal binnekort meer inligting bied oor hoe die publiek finansieel kan bydra tot die beursfonds en ‘n blink toekoms vir ‘n paar waardige leerders te bied. Hou gerus die pers dop vir meer inligting. – NWKV, persverklaring
As jy ‘n bydrae wil maak tot die Rico-beursfonds, skandeer die QR-kode hieronder, kies “Rico bursary fund” in die keuselys, voltooi jou skenkingsbedrag en klik “Next.” Volg die instruksies om jou skenking te voltooi.
Vir meer inligting en navrae, skakel Dan Kriek by 082 944 0566 of Bonita Francis by 082 413 6416, of stuur ‘n e-pos na nwga@nwga.co.za.
