RPO-konferensie 2026: Strategieë vir die suksesvolle toekoms van die bedryf

Estimated reading time: 9 minutes

Prof Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Nasionale RPO, het die dag se verrigtinge gelei.

Die Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se jaarlikse konferensie, wat op 13 Augustus 2026 by The Capital Hotel in Menlyn Maine, Pretoria, gehou is, het onder die gepaste tema “Wees toekomsbestand – lesse vir produsente deur produsente” plaasgevind. Die dag het ’n duidelike boodskap aan rooivleisprodusente uitgestuur: Die toekoms gaan nie net oor oorlewing nie, maar oor aanpasbaarheid, samewerking, biosekerheid, marktoegang en volhoubare winsgewendheid.

Onder leiding van die uitvoerende hoof van die Nasionale RPO, dr Frikkie Maré, het sprekers uit regeringsgeledere, die bedryf en produsentegemeenskap waardevolle lesse gedeel oor hoe Suid-Afrikaanse rooivleisprodusente hul ondernemings teen toenemende risiko’s kan versterk.

Die regering wil ’n vennoot wees

In sy openingsrede het Willie Aucamp, minister van landbou, die belangrike rol van rooivleisprodusente in Suid-Afrika se ekonomie beklemtoon. Hy het gesê die werklike waarde van landbou is veral sigbaar wanneer ’n mens kleiner dorpe besoek en sien hoe sterk plaaslike ekonomieë op boerdery steun. “Indien ons landbouers uit die land sou haal, het ons nie meer ’n land nie.”

Minister van landbou, Willie Aucamp, het gesê hy wil ’n vennootskap met produsente bou. (Foto: Deidré Louw)

Aucamp het hulde gebring aan boere wat daagliks vroeg opstaan om voedsel op Suid-Afrikaanse tafels te plaas, nie bloot as ’n beroep nie, maar as ’n roeping. Hy het produsente aangemoedig om aan te hou doen wat hulle doen en gesê die tyd is verby waar boere aan die kortste ent getrek het. Aucamp het erken dat die Nasionale Departement van Landbou uitdagings en tekortkominge het, maar gesê die departement moet nie ’n struikelblok wees nie, maar ’n hulpmiddel. Hy het beklemtoon dat die regering ’n diensbare vennoot vir die landboubedryf wil wees.

Die minister het ook verwys na die lesse wat die landbougemeenskap onlangs uit bek-en-klouseer uitbrekings geleer het. Die siekte het gewys dat probleme net opgelos kan word indien die regering en bedryf saamwerk.

“Ons kan nie alleen probleme oplos nie. Die totale waardeketting moet hande vat.” Hy het produsente aangemoedig om positief te bly, biosekerheidsmaatreëls streng toe te pas en nie skaam te wees oor winsgewendheid nie. “Die rooivleisbedryf mag maar wins maak. Dit is nodig vir oorlewing en groei.”

LEES MEER: RPO Vrystaat-kongres

Een sterk stem vir die bedryf

Frik van Rooyen, voorsitter van die Nasionale RPO, het gewaarsku dat uitvoerontwikkeling tans deur administratiewe vertragings belemmer word.

Frik van Rooyen, voorsitter van die Nasionale RPO, het terugvoer gegee oor die organisasie se werk die afgelope jaar. Bek-en-klouseer het die bedryf geweldig geknou en die ekonomiese skade was groot en vertroue in regeringsprosesse het skade gely. Terselfdertyd het die bedryf reeds begin aanpas by veranderende produksie- en markvereistes.

Van Rooyen het beklemtoon dat Suid-Afrika mededingend moet bly terwyl aan internasionale standaarde voldoen word. “Voldoening is nie meer opsioneel nie. Dit is ’n vereiste om in ’n internasionale mark sake te doen,” sê hy. Hy het wel gewaarsku dat uitvoerontwikkeling tans deur administratiewe vertragings belemmer word, met talle uitstaande uitvoeraansoeke wat krities vir markontwikkeling is. Hy het nietemin gepleit vir konstruktiewe samewerking met die regering. “Ons het mekaar nodig. Die regering en die bedryf moet verstaan dat ons vennote is.”

’n Kernboodskap van sy toespraak was die behoefte aan groter eenheid in die bedryf. Volgens Van Rooyen versplinter die talle organisasies wat soortgelyke doelwitte nastreef, die bedryf se invloed. “Een organisasie moet met een sterk stem praat.” Hy het daarop gewys dat die uitdagings wat produsente in die gesig staar te kompleks geword het vir individuele optrede en dat kollektiewe aksie noodsaaklik is om die bedryf se belange te beskerm.

Toekomsbestande weiding begin by ’n kopskuif

Een van die hoogtepunte van die dag was die sessie deur dr Louis du Pisani, ’n onafhanklike landboukonsultant, en Willie Storm, ’n beesprodusent in die Kalahari, wat praktiese lesse gedeel het oor klimaatslim weidingsbestuur. Storm was in 2025 Veeplaas se Klimaatslim-ambassadeur van die jaar.

Dr du Pisani het die toon aangegee met ’n eenvoudige maar kragtige stelling: “As die omgewing waarin jy besigheid doen vinniger verander as waarteen jy aanpas, staar jou besigheid sy einde in die gesig.”

Storm se verhaal dien as ’n voorbeeld van hoe langtermyndenke ’n boerdery kan transformeer. Storm het in 1986 met ’n klein skaapkudde begin boer en het later sy pa se plaas oorgeneem. Vandag boer hy met sowat 3 000 koeie op verskeie plase in die Olifantshoek-omgewing. Die groot keerpunt het in 2008 gekom toe hy besef het dat sy boerdery stadiger verander as die wêreld rondom hom. Hy het toe begin fokus op ontbossing en veldherstel om sy grond klimaatbestand te maak. Aanvanklik kon sy plaas slegs 21ha/GVE (grootvee-eenheid).

Vandag ondersteun dieselfde grond ongeveer 5ha/GVE in ’n omgewing waar die standaard 15ha/GVE is. Storm het verduidelik hoe ernstige bosverdigting sy boerdery beperk het en hoe hy, deur jare se volgehoue bosbeheer, die veld se produktiwiteit herstel het. Hy het daarop gewys dat bosbeheer nie ’n eenmalige aksie is nie. “Jy kan nie net die bos doodmaak en dink jou werk is klaar nie. Jy moet ook goeie weidingsbestuur toepas.” Hy beskryf veldherstel as ’n proses wat deur verskillende fases beweeg, van ontbossing na pioniergrasse, en vervolgens die skep van sub-klimaksveld en uiteindelik gesonde klimaksveld.

Vandag rus sommige van sy kampe vir ’n volle jaar om herstel te bevorder. Die resultate is duidelik sigbaar in verbeterde grondgesondheid, beter waterinfiltrasie en sterker plantegroei. ’n Belangrike les in sy ervaring is dat produsente hul fokus moet verskuif van maksimum produksie na langtermyn volhoubaarheid. “Dit vat vyf jaar om jou grond te verwoes en ’n leeftyd om dit te herstel.” Storm het ook beklemtoon dat sukses nie bloot gekopieer kan word nie. Elke produsent se plaas en grond is anders en ’n mens moet die gereedskap gebruik wat by jou eie omstandighede pas. “Toekomsbestande weiding is ’n kopskuif, nie net ’n tegniek nie.”

Dr Louis du Pisani, ’n onafhanklike landboukonsultant, en Willie Storm, ’n beesprodusent in die Kalahari en Veeplaas se 2025 Klimaatslim Ambassadeur, gesels oor toekomsbestande weiding.

Produksiebeginsels vir winsgewende boerdery

Bertus Burgers, 2017 se nasionale beesboer van die jaar, glo dat daar meer op vetproduksie en minder op vleisproduksie gekonsentreer moet word as speenkalwers geteel word.

Nog ’n insiggewende aanbieding is deur Bertus Burgers, 2017 nasionale beesboer van die jaar, gedoen. Hy het geargumenteer dat die bedryf se fokus op die ideale voerkraalkalf oor dekades heen veroorsaak het dat produsente in die verkeerde rigting teel. Na sy mening het die strewe na groter rame, meer vleis en swaarder speenkalwers dikwels ten koste van aanpasbaarheid, vrugbaarheid en winsgewendheid gebeur.

Hy meen die belangrikste winsdrywer op ’n veeplaas is nie noodwendig net vrugbaarheid nie, maar eerder aanpasbaarheid. Diere wat maklik aanpas, hul kondisie behou en natuurlik kan reproduseer, is meer winsgewend as diere wat voortdurend duur aanvullings benodig. Burgers het sterk gepleit vir die seleksie van koeie wat vroeg in die seisoen dragtig raak en vir genetika wat by plaaslike omstandighede aangepas is. Hy het gewaarsku teen die gebruik van grootraambulle wat die produksie-eise op koeie verhoog en uiteindelik die winsgewendheid van die kudde verminder.

Volgens hom moet produsente minder fokus op individuele gewigte en meer op funksionele eienskappe wat reproduksie, aanpasbaarheid en oorlewing ondersteun. “Maak jou oë oop en kyk wat regtig op jou plaas aangaan,” was sy slotboodskap.

Die mark van die toekoms

Die finale sessie het gefokus op marktoegang, uitvoere en die rol van tegnologie in die toekomstige beesvleiswaardeketting. Matthew Karan, direkteur van Karan Beef, het verduidelik dat Suid-Afrika reeds oor uitstekende produsente en veeartskundigheid beskik. Die uitdaging is nie noodwendig om veilige beesvleis te produseer nie, maar om vertroue by invoerlande te kweek. Die uitbrekings van bek-en-klouseer het die land se uitvoerbeeld groot skade berokken. Volgens hom is die bedryf se opdrag nou om die bestaande markte te beskerm, verlore markte te herwin en nuwe bestemmings te ontwikkel.

Henk Groenewald, hoofbestuurder van Karan Beef, het die belangrikheid van data, naspeurbaarheid en biosekerheid beklemtoon. Voerkrale en kopers soek toenemend geverifieerde inligting oor kalwers wat aangekoop word. Naspeurbaarheid, produksiegeskiedenis en prestasiedata gaan volgens hom ’n deurslaggewende rol speel in toekomstige bemarking. “Jy kan nie bestuur wat jy nie meet nie,” was Groenewald se gerekende woorde.

Hy het produsente aangemoedig om data oor dragtigheidsyfers, speengewigte, bulprestasie en vrektes noukeurig aan te teken. Die gebruik van identifikasieplatforms en RFID-oormerktegnologie maak dit moontlik om inligting deur die hele waardeketting te deel. Volgens Groenewald sal produsente wat konsekwent gesonde, eenvormige en naspeurbare kalwers lewer, voorkeur geniet by voerkrale. Biosekerheid bly intussen ’n ononderhandelbare vereiste. “Produsente wat streng biosekerheid toepas, sal in die toekoms beloon word,” sê hy.

Die dag se boodskap is waarskynlik die beste opgesom deur die lesse van die produsente self, wat daarop neerkom dat sukses nie daarin lê om harder te werk nie, maar om slimmer aan te pas by ’n wêreld wat vinnig verander. Die produsente wat bereid is om hul denke aan te pas, saam te werk en langtermynbesluite te neem, sal diegene wees wat nie net die volgende uitdaging oorleef nie, maar in die rooivleisbedryf van die toekoms floreer.– Du Preez de Villiers, Plaas Media

Matthew Karan, direkteur van Karan Beef, het in sy voordrag gesê plaaslike vleis en die mark is reg vir uitvoer; dis net die administrasie wat kort.
Henk Groenewald, hoofbestuurder van Karan Beef, het gesê streng biosekerheid op plase sal in die toekoms beloon word.

Must read

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 34 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO).Click here for this week's report.How are these...

SA Canegrowers welcomes DBRP adjustment, but says more is needed to close import gap 

Estimated reading time: 3 minutesSA Canegrowers welcomes the decision by the government to adjust the dollar-based reference price (DBRP) for sugar imports. The upward adjustment is critical...

Omgewingsnakomingspraktyke en wetgewing: Wat produsente moet weet

Estimated reading time: 7 minutesOmgewingsnakoming raak toenemend ’n praktiese werklikheid vir produsente, veral waar landbou, mynbou en hernubare energie-ontwikkelings mekaar op dieselfde grondgebied ontmoet....

LandbouRadio: 28 Augustus 2026

In Vrydag, 28 Augustus se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende:Ons skop die program af met 'n kraakvars landbounuusbulletin en weervoorspelling.⁠Dr Danie Odendaal,...

Sosiale media en die reg: Wees baie versigtig

Estimated reading time: 4 minutesOmdat die akkuraatheid of waarheid van inligting selde gekontroleer of getoets word, hou die onoordeelkundige maak of deel van sosiale...