Friday, March 31, 2023

Pampoenboere se alumni steun klagtes teen verval

Estimated reading time: 2 minutes

Saai, ’n netwerk vir familieboere, het onlangs sy skok oor die toestand van die Potchefstroom Landboukollege, ook as Pampoenboere bekend, se kampus uitgespreek. ’n Regspan is geraadpleeg oor moontlike optrede om die kollege van ineenstorting te red.

Studente kla dat die instandhouding van die geboue en terrein so ver agter geraak het dat dit ’n onveilige omgewing skep. Van die eens trotse, tradisieryke instelling wat beide topboere en landboutegniese adviseurs opgelei het, is daar geen spoor nie.

Saai het op 21 Julie 2022 klagtes by die Potchefstroomse polisiestasie teen die Noordwes Departement van Landbou, die Departement van Openbare Werke en die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronowerheid, ingedien.

Die klagtes ingevolge artikel 51(1)(a) en artikel 27(18) van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, 1999 (Wet 25 van 1999) volg ná die skokkende onthullings oor die toestand van die nasionale monumente by die Potchefstroom Landboukollege.

“Die voortdurende verval van fasiliteite, geboue en administrasie is al vir meer as ’n dekade ’n probleem. Dit is ’n simptoom van die wanbestuur wat heers by die Potchefstroom Landboukollege en dus doen Saai ’n beroep op die Noordwes Departement van Landbou om die bestuur van die kollege in bekwame hande te plaas,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Nuwe alumni-vereniging

Saai het ook die stigting van die Potchefstroom Landboukollege Alumni-vereniging aangekondig. Hierdie vrywillige vereniging bestaan uit oudstudente van die kollege wat besorg is oor die toestand van die kollege se opleiding en infrastruktuur. “Die instansie was eens ’n baken van uitnemendheid in die landbougemeenskap en ons as alumni wil dit graag herstel tot die trotse instansie wat dit was en weer kan wees,” sê Boy Saaiman, stigter van die Potchefstroom Landboukollege Alumni-vereniging.

Luister wat Rossouw hieroor te sê het:

Die strafregtelike klagtes is slegs een van vele stappe wat geneem word om die bestuur aanspreeklik te hou en noemenswaardige verandering by die kollege teweeg te bring.

Oudstudente van die kollege kan by die alumni-vereniging aansluit deur die volgende webblad te besoek: www.pampoenboere.orgPersverklaring, Saai

Popular stories