Op die sybokhaarhorison: Nuwe internasionale wette en regulasies

Estimated reading time: 3 minutes

Verskeie belangrike onderwerpe is by vanjaar se Sybokhaar Suid-Afrika (SSA)-kongres, wat by die Drostdy-hotel in Graaff-Reinet aangebied is, bespreek. SSA se voorsitter, Chris Hobson, het rolspelers bedank vir hulle insette en etiese waardes.

Kommer oor Angoradiefstal neem toe en Sanmarie Vermaak, wat produsente namens SSA verteenwoordig, het klem gelê op die belangrikheid van diefstalaanmelding. Sy het gesê hierdie getalle word aan Agri Oos-Kaap deurgegee en daar word proaktief meegewerk om vee- en sybokhaardiefstal in die provinsie te beperk. Sy afgevaardigdes op hoogte gebring van ander aktiwiteite waaraan SSA aandag toewy, soos plaaswerkeropleiding.

Ter aansluiting het Beauty Mokgwamme, beampte by die SSA-bemagtigingstrust, gesels oor die vordering wat die trust maak en haar regterhand, Sandile Ngwane, se harde werk beklemtoon. Sy het gesê die trust is selfonderhoudend met sy kernbesigheid om opkomende boere by te staan in hul ontwikkeling tot kommersiële Angoraboere. Daar is wel ’n paar uitdagings, waarvan een die identifisering en verkryging van grond en nuwe vennote is.

Lees meer oor die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf hier.

Nuwe geleenthede

Met betrekking tot nuwe wetgewing van die Europese Unie (EU) wat oor die volgende twee tot drie jaar in werking moet tree, het Lindsay Humphreys, stigter van die volhoubaarheidskonsultasiemaatskappy, The Rethink Lab, verduidelik dat hoewel die wetgewing nie direk op Suid-Afrikaanse maatskappye wat sybokhaar uitvoer van toepassing is nie, die indirekte impak daarvan beduidend sal wees. Handelsmerke moet oor die sosiale en omgewingsimpak van hul hele voorsieningskettings, van die plaas tot aan die einde van kledingstukke se leeftyd, verslag moet doen.

Vordering in die tekstielbedryf

Die EU het hom daartoe verbind om kweekhuisgasvrystellings teen 2030 met 55% te verminder en deursigtigheid in die tekstielbedryf met nuwe wetgewing te verbeter. Van groot belang vir besprekings vanjaar is die instelling van die EU se tekstielwette, soos uitgelig deur Humphreys.

Tot 50% van sybokhaaruitvoere vanaf Suid-Afrika kan indirek deur hierdie wette beïnvloed word. Humphreys het gesê dit bied ’n groot geleentheid vir die sybokhaarbedryf in Suid-Afrika.

Dierewelsyn en siekte-identifikasie

Die bekende bedryfsveearts, dr Mackie Hobson, het gesels oor siektetendense waaronder longontsteking, clostridium perfringens-gifstowwe, vergiftiging en dies meer. Hy het gesê produsente moet proaktief wees om te bepaal waarom vrektes voorkom, en hy het ook ’n beskrywende aanbieding gegee oor hoe om ’n nadoodse ondersoek op bokke op die plaas te doen. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Sybokhaar Suid-Afrika by 041 581 1681 of info@mohair.co.za.

Popular stories