Estimated reading time: 3 minutes
Daar is elke dag minder entrepreneurs wat suiwelprodukte aan al hoe meer Suid-Afrikaanse inwoners moet lewer.
Daarom moet die land se suiwelbedryf binne Melk SA verenig bly om die mededingendheid van die bedryf te optimaliseer, het Nico Fouché, uitvoerende hoof van Melk SA, verlede week tydens dié organisasie se algemene jaarvergadering gesê. “Die suiwelbedryf is baie kwesbaar en Melk SA se rol om hande met regeringsdepartemente te vat, word al hoe groter.”
Só lyk die syfers
Tans produseer elke kommersiële melkbees vir ongeveer 107 inwoners in Suid-Afrika melk en elke primêre suiwelprodusent verskaf aan ongeveer 72 730 verbruikers melk.
Wat die sekondêre bedryf betref, moet elke suiwelfabriek produkte aan bykans ’n halfmiljoen (496 100) verbruikers lewer – en 30 van die land se 130 suiwelfabrieke verwerk 90% van die land se roumelk in gepasteuriseerde melk en ander suiwelprodukte.
“Suid-Afrika vervaardig sowat 0,4% van die planeet se melk en in teenstelling met baie ander lande is ons selfvoorsienend in ons suiwelbehoeftes,” het Fouché met die gehoor gedeel. Hy het benadruk dat dit bewonderenswaardig is om te sien hoe produsente en verwerkers oor die vermoë beskik om bokant die land se daaglikse probleme uit te styg.
Saamstaan, nie saamspan nie
Fouché het sy kommer oor rolspelers binne die suiwelwaardeketting uitgespreek wat nie deel van die georganiseerde bedryf wil wees nie, maar sterk opinies oor die bedryf lug.
Sulke opinies en klagtes het in die onlangse verlede tot duur ondersoeke na die bedryf se waardeketting gelei, waarvan arbeid en die regering deel is. In hierdie ondersoeke is die kwessie van beheer gou in die kiem gesmoor, en is dit maar net weer beklemtoon dat elke rolspeler (insluitend besigheid, georganiseerde bedryf, arbeid, en regering) sy rol optimaal in die vryemark moet vervul.
Te midde van dié uitdagings het Fouché dank teenoor die visie van Melk SA se stigters 23 jaar gelede uitgespreek. “Ek is dankbaar dat hulle die insig gehad het om te besef dat die bedryf ’n verenigde platform sou nodig hê om strategies en as eenheid op te tree in sake wat van ’n gemeenskaplike belang is.” Hy het spesifiek daarop gewys dat die bedryfsinligting wat op ’n maandelikse basis ingesamel en beskikbaar gestel word, ’n wyer spektrum as vier jaar gelede dek en van onskatbare waarde vir die bedryf is.
Ekonomiese prentjie
Bertus van Heerden, Melk SA se bestuurder van ekonomieë en markte, het die plaaslike en internasionale suiwelmark te midde van groot internasionale onsekerhede bespreek. Tewens, Van Heerden glo dat die potensiaal vir die ontstaan van ’n groot oorlog wesenlik verhoog het. In tandem met die onsekerhede het die dryfveer vir selfvoorsienendheid tussen lande verdere stukrag gekry.
In ooreenstemming met die onsekerhede het die internasionale vry-aan-boord-pryse van suiwel dramaties in 2024 gestyg. Die prys van botter het met 25,8% verbeter, die prys van afgeroomde melkpoeier (SMP) het met 6,1% toegeneem en cheddarkaas het ook teen ’n gemiddeld van 12,2% hoër verhandel in die laaste kwartaal van 2024.
Wat die plaaslike mark aanbetref het Suid-Afrika se suiwelinvoere met bykans ’n derde (31,3%) gedaal, terwyl 6% minder suiwel uitgevoer is. Onverwerkte melkproduksie het egter teen 3,5% jaar-op-jaar gestyg.
Van Heerden het bygevoeg dat die internasionale suiweldatabasis, IFCN, se 2024-verslag daarop dui dat melkpryse wêreldwyd met 25,5% gedaal het teenoor 2023 weens ’n verhoogde aanbod en verlaagde vraag. Binne hierdie konteks is Suid-Afrika een van die laagste koste produsente ter wêreld.
Voer en arbeid is die twee grootste uitgawes vir melkprodusente, sê Van Heerden en voeg by dat die speelveld ongelyk bly as gevolg van subsidies wat aan Europese produsente ’n onregverdige markvoordeel bied. – Susan Marais, Plaas Media