Estimated reading time: 5 minutes
- Hoewel infeksie en hoë somatiese seltelling (SST) dikwels hand-aan-hand loop, kan daar ook ander redes vir hoë SST wees.
- Melkmasjiene kan uierimmuniteit in gevaar stel.
- Doen gereeld speenondersoeke om seker te maak daar is nie onderliggende melkmasjienprobleme soos hier genoem nie.
- Bakteriese infeksie is hoofsaaklik ’n higiëneprobleem, behalwe vir seldsame gevalle waar infeksie deur die bloed veroorsaak word.
- Die belangrikste bron van aansteeklike oorsake van mastitis is diere wat van buite die plaas ingebring word.
Hoewel infeksie en hoë somatiese seltelling (SST) dikwels hand-aan-hand loop, kan daar ook ander redes vir hoë SST wees. Die bestuur van SST gaan dus veel verder as mastitisbehandeling en -voorkoming. So sê dr Mark Chimes, veterinêre adviseur vir Melk SA en bestuurder van die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) se dieregesondheids- en welsynsprogram.
Lees Die bestuur van SST in melkbeeste (Deel 1).
Nie-melkmasjien oorsake is suiwer ’n inflammasierespons en kan ’n uierbesering wees weens boelies in die groep, of die koei kan haarself beseer as sy gaan lê of opstaan. Hierdie tipe beserings is algemeen by koeie met swak uierkonformasie. Moet ook nie die rol van hittestres onderskat nie.
Melkmasjien kan irriteer
Melkmasjiene word ten minste twee keer per dag aan die uier geheg en ‘n klein irritasie kan met herhaling oor tyd ’n groot probleem word. Dit kan uierimmuniteit in gevaar stel, bakterieë die geleentheid gee om die uier binne te dring en sekondêre bakteriese mastitis veroorsaak.
“Hier kyk ons hoofsaaklik na kroniese onder- of oormelk. Maak seker die masjien word gereeld gediens, die pulsering is korrek, die vakuum is korrek en konsekwent, en die speenvoerings is in ’n goeie toestand. Die speenvoerings moet die regte grootte wees. ’n Gemengde kudde van Holsteins en Jerseys kan problematies wees, want die speenvoerings sal te groot wees vir die Jerseys en te klein vir die Holsteins.”
Hierdie gevalle van mastitis verg nie antibiotikabehandeling nie, omdat geen bakterieë betrokke is nie.
Wag en kyk
“Dit is op plaasvlak moeilik om te onderskei tussen mastitis weens bakteriese infeksie of beserings. Hoewel dit ’n potensieel gevaarlike benadering is, kan dit die moeite werd wees om koeie met hoë SST’s nie dadelik te behandel nie. Wag ’n paar dae om te kyk of die SST verder verhoog. As die oorsaak nie bakteries van aard is nie, sal die mastitissimptome binne ’n paar dae verbeter. Heelwat koeie val in hierdie kategorie.
“As mastitissimptome net sporadies voorkom, is dit dalk die moeite werd om daardie koei elke dag te toets, maar eers ’n paar dae te wag met behandeling. As haar SST styg of baie hoog is, behandel haar met antibiotika. As sy binne drie tot vyf dae nie beter word nie, behandel met antibiotika. As sy wel binne drie tot vyf dae verbeter, is antibiotika waarskynlik nie nodig nie.”
Doen gereeld speenondersoeke om seker te maak daar is nie onderliggende melkmasjienprobleme soos hier genoem nie. Al manier hoe bakterieë die uier kan binnedring, is deur die sluitspier (sfinkter) by die ingang van die speenkanaal. Die sluitspier gaan oop wanneer die koei gemelk word, en bly vir tot 15 minute oop nadat sy gemelk is. Dit is die gevaartydperk vir besmetting. Hou dus die area waar koeie wag om gemelk te word, asook die hou-area nadat hulle gemelk is, skoon. Dis ’n goeie idee om die koeie na melking in ’n voerarea te hou sodat hulle kan vreet en nie gou gaan lê nie.
Bakteriese infeksie
Bakteriese infeksie is hoofsaaklik ’n higiëneprobleem, behalwe vir seldsame gevalle waar infeksie deur die bloed veroorsaak word soos by brusellose, tuberkulose, voëlgriep en bek-en-klouseer – die verhoging van wit bloedselle in die uier verhoog die SST dramaties.
“Vier kriteria is nodig vir bakterieë om te gedy, naamlik vog, warm en humiede temperature, voedsel, en beskerming teen veral die ultravioletstrale van sonlig.
“Omdat die bakterieë nie self kan beweeg nie, het dit ’n manier nodig om by die speenopeninge uit te kom. Die belangrikste medium is ’n vuil, onhigiëniese omgewing soos vuil beddegoed (veral in volvoerstelsels), nat en modderige toestande (veral in weidingstelsels), vuil hande en skoonmaaklappe (gebruik eerder ‘n skoon stuk handdoekpapier vir elke koei) en ‘vuil’ melkmasjiene (as die klosse nie deeglik ontsmet word voor dit aan ’n volgende koei geheg word nie).
“Speendoop om die spene na melking te ontsmet is ook belangrik om te voorkom dat die normale bakterieë wat algemeen in die omgewing voorkom, nie die speenopening binnedring voor die sluitspier sluit nie.”
Aansteeklike oorsake
Die belangrikste bron van aansteeklike oorsake van mastitis is diere wat van buite die plaas ingebring word. Daarom is biosekuriteitsmaatreëls belangrik. Die tweede oorsaak is swak higiëne, waar oordrag van koei tot koei plaasvind. Besmette diere moet geïdentifiseer en geïsoleer word. Melk hulle laaste in ’n aparte tenk en ontsmet die melkmasjien deeglik.
Dit is moeilik om aansteeklike mastitis uit te wis, veral as dit deur Staphylococcus aureus veroorsaak word. Kweek kulture by koeie wat gereeld hoë SST’s het. As die laboratorium bevestig dat die oorsaak aansteeklik is, moet ’n antibiogram gedoen word om te identifiseer watter organisme betrokke is, sodat jy die regte antibiotika kan gebruik. Weerstand teen sekere antibiotikas is baie algemeen.
Gesonde koeie het goeie immuniteit en dit word bewerkstellig deur goeie voeding, die regte vitamiene en minerale, en algemene koeigemak wat met higiëne gepaardgaan. – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Vir meer inligting, skakel dr Mark Chimes by 074 510 7316 of besoek die SSA se webtuiste by www.dairystandard.co.za.

