Monday, December 8, 2025

BEK-krisis: Nuwe gevalle daagliks vermeld

Estimated reading time: 5 minutes

Ten spyte van gerugte dat die staat volgende week diere by Karan Beef se Heidelberg voerkraal gaan begin inent en die Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) ’n toppaneel veeartse saamgestel het, is “chaoties” die beste manier om die uitbreek van bek-en-klouseer (BEK) in Suid-Afrika op hierdie oomblik te beskryf.

Buiten die veelvuldige gevalle wat steeds in KwaZulu-Natal woed, is daar ook minstens een plaas in Noordwes, twee voerkrale in Gauteng, twee stukke kommunale gronde in Gauteng, en ’n plaas in Gauteng wat tans onder kwarantyn is volgens die interaktiewe kaart op die RMIS se webtuiste (www.rmis.co.za).

Dr Danie Odendaal, direkteur van die Veearts Netwerk (VNET), sê veeartse rapporteer vermoedelike BEK-insidente nou feitlik daagliks en die gevolge van elke positiewe geval is enorm.

BEK in voerkrale brei uit

Behalwe dat al drie van die Karan Groep se voerkrale oor die afgelope dae positief vir BEK getoets het, kon AgriOrbit verder vasstel dat twee ander voerkrale in KwaZulu-Natal ook vir BEK positief getoets het en dat daar een in Noordwes is wat ook positiewe toetse opgelewer het.

Die gevalle kon blykbaar almal teruggetrek word na vorige uitbrekings in KwaZulu-Natal wat steeds nie onder beheer gebring is nie.

Dr Shaun Morris, ’n veearts, voerkraalspesialis en direkteur van Octavoscene, sê so ’n siekte wat in voerkrale uitbreek lei tot massiewe finansiële verliese vir die betrokke voerkraal. 

Lees meer oor BEK-krisisbeheer: Fase 1 van RMIS operasionele sentrum funksioneel.

Melkplase ook nie veilig

Buiten die gevalle wat van beesplase en voerkrale kom, is daar ook ’n melkplaas in Gauteng wat positief getoets het. Dr Mark Chimes van Melk SA sê daar is verder nog drie plase in Gauteng en twee in KwaZulu-Natal wat getoets is, maar die uitslae is nog nie ontvang nie. Hierdie plase is almal naby aan voerkrale geleë wat reeds positief getoets het.

Só lyk die verspreiding van die nuutste BEK-uitbrekings volgens die RMIS se interaktiewe BEK-kaart.

Regeringsaksie

Die Nasionale Departement van Landbou (NDA) het intussen in ’n persverklaring bevestig dat die Noordwesprovinsie ook nou sy BEK-vrye status verloor het nadat twee plase in die Ventersdorp-omgewing en ’n abattoir by Brits amptelik onder kwarantyn geplaas is.

Dr Mpho Maja, die NDA se direkteur van dieregesondheid sê die departement het ook alle plase in Noordwes wat met die uitbreking in Gauteng verbind kan word, geïdentifiseer en onder tydelike kwarantyn geplaas totdat die nodige toetse op die diere uitgevoer kan word.

Joylene van Wyk, die ministeriële woordvoerder vir landbou, sê die 900 000 dosisse entstof wat vanaf Botswana bestel is behoort al hierdie week in Suid-Afrika aan te kom.

RMIS-paneel

In ’n poging om die situasie onder beheer te kry, is die RMIS se nuutgestigte Operasionele Sentrum ingespan en ’n werkgroep, wat op 17 Junie bekend gemaak is, is opgerig om hierdie probleem in samewerking met die regering die hoof te bied.

Hierdie BEK-groep se doel is om die kritieke aksies rondom die uitbreking te bestuur, marktoegang te beskerm, en die rooivleisbedryf se langtermyn-veerkragtigheid te versterk. Dié werkgroep se reaksie is geskoei op ’n plan wat deur prof Dietmar Holm, die adjunkdekaan van die Universiteit van Pretoria (UP) se Fakulteit Veeartsenykunde, opgestel is.

Die lede van die werkgroep is:

  • Dr Baty Dungu, ’n veeartseny- en entstofspesialis.
  • Prof Francois Maree, spesialis by die UP se Departement Mediese Virologie.
  • Dr Gerhard Neethling, hoofbestuurder vir entstof van die Rooivleisabattoirvereniging (RMAA).
  • Dr Livio Heath, navorsingsspanbestuurder vir entstofproduksie vir die Landbounavorsingsraad (LNR) se enstofprogram by die LNR Onderstepoort Veterinêre Instituut (OVI).
  • Dr Mark Chimes, Melk SA se programbestuurder: Dieregesondheid en -welsyn.
  • Dr Peter Evans, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAPPO).
  • Dr Kabols le Riche, RMIS-direkteur van diere- en openbare gesondheid.
  • Dr Danie Odendaal, direkteur van van die Veearts Nerwerk.
  • Dr Dirk Verwoerd, Karan Beef se voerkraalveearts.
  • Dr Shaun Morris, direkteur van Octavoscene.
  • Dr Stuart Varrie, bedryfsveearts vir die wolbedryf.
  • Dr Hendrik Hansen, ’n veearts in privaatpraktyk.
  • Dr Adriaan Olivier, bedryfsveearts vir die volstruisbedryf.
  • Dr Anthony Davis, ’n privaat veearts wat in suiwelkuddes spesialiseer.
  • Dr Phillip Oosthuizen, bedryfshoof van die RMIS.
  • Dr Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).

Nasionale plan vir BEK geëis

Hoewel AgriOrbit uit John Steenhuisen, minister van landbou, se kantoor bevestiging ontvang het dat die RMIS se aksies die staat se steun geniet, is daar groeiende druk dat die regering ’n nasionale strategie teen BEK ter tafel moet lê.

Volgens dr Morris behoort só ’n plan te bepaal dat alle beeste in die land ingeënt moet word teen BEK. Dit gaan ’n 5 tot 10 jaar-termyn in beslag neem. Eers as die siekte onder beheer is, kan die plan stelselmatig onttrek word soos in Bolivia en Brasilië, wat vir sowat 30 jaar daaraan gewerk het om by ’n punt te kom dat die land BEK-vry verklaar is sonder dat die diere ingeënt hoef te word. Hierdie inligting is bekendgemaak op 6 Junie vanjaar nadat die BEK-vrye nuus einde Mei tydens die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) se 92ste Algemene Sessie van die Wêreldvergadering van Afgevaardigdes in Parys, Frankryk onthul is.

Dr Odendaal sê ook hierdie uitbreek van BEK gaan beslis nie vinnig opgelos word nie en die ekonomiese gevolge gaan vir vleisboere problematies wees. Na verwagting gaan die gevolg wees dat beesvleispryse aanvanklik gaan styg omdat voerkrale nie meer genoeg vleis kan voorsien nie. Teen die tyd dat die probleem opgelos is, gaan daar waarskynlik weer ’n ooraanbod van beesvleis wees en gaan die pryse weer tuimel. Hy het ook bygevoeg dat Suid-Afrika fyn trap wat uitvoere betref en met hierdie uitbrekings kan die uitvoermarkte se deur ook vir Suid-Afrika begin toegaan. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Produsente kan hul plase op die RMIS se webtuiste gaan registreer en die nuuste inligting oor BEK-uitbrekings ontvang deur dié skakel te volg: www.rmis.co.za/fmd-updates/fmd-real-time-communication-support-digital-infrastructure-for-instant-alerts-and-stakeholder-updates/

Must read

Katoen-verwysingsprys: Week van 1 tot 5 Desember

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee....

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 48 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. How are these...

RSG Landbou: 8 Desember 2025 – geborg deur BKB

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor haarwurm en ons gesels met Rensgrow Beefmaster oor hulle boerdery. Haarwurm Het jy geweet, haarwurm is...

LandbouRadio: 8 Desember 2025

In Maandag, 8 Desember se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Prof Michiel Scholtz, spesialisnavorser by die Landbounavorsingsraad, praat oor die klimaatslim beesvleiswerkswinkel wat...

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas Trywell in Carnarvon, was die naaswenner van die Noord-Kaapse Jongboer...