Agri Noord-Kaap-kongres: Die toekoms van landbou in die Noord-Kaap

Estimated reading time: 4 minutes

Die lewe verander vinnig en die landbou bly nie agter nie. Daar is gedurige nuwe tegnologie wat landbou vergemaklik en produsente help om beter toekomsbesluite te neem. Dit is noodsaaklik dat die hedendaagse produsent hierdie kennis moet verkry, dit huis toe neem en dit deel van sy lewe en sy boerdery maak. Daar is egter ook die ou tradisionele manier van sosialisering wat steeds net so belangrik is.

Vir Willem Symington, president van Agri Noord-Kaap, is sosialisering een van die steunpilare van ’n gesonde gemeenskap, veral ’n gesonde landbougemeenskap. Tegnologie kan nie instaan vir kontak tussen mense nie. Dit is een van die redes waarom Agri Noord-Kaap nog elke jaar op die tradisionele manier kongres hou, sodat produsente en ander rolspelers met mekaar kan kontak maak en daar ’n plek kan wees om suksesse en uitdagings te deel.

Vanjaar se Agri Noord-Kaap-kongres was weer een van die glansgeleenthede in die provinsie se landboubedryf, waar daar nie net geluister is na kenners wat oor slim boerdery gesels nie, maar waar daar ook tot laat in die aand gekuier is.

Slim landbou, slim landbouers

Die tema van vanjaar se kongres was “Slim landbou, beter toekoms” en dit was deur al die sprekers aangeraak. Dr Jaco du Toit, ’n kenner in rekenaarwetenskap en waarnemende dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, het gesels oor kunsmatige intelligensie in landbou. Hy het veral gekyk na die risiko’s wat rekenaarprogramme kan inhou en vir produsente attent gemaak op die risiko’s wat die verkoper van programme nie vir jou sal sê nie.

Dr Rudi Steinbach, ’n senior ekonoom wat spesialiseer in die makro-ekonomiese modellering van die Reserwebank, het gesels oor die implikasie van die Reserwebank vir landbou en die rol wat die makro-ekonomie in landbou speel.

Dawie Maree, hoof van Inligting en Bemarking by FNB, het gekyk na ekonomiese intelligensie vir ’n beter toekoms in landbou. Sy boodskap aan die produsente was dat daar baie hulpmiddels in die vorm van tegnologie beskikbaar is, maar die boer moet steeds sy stempel afdruk en daardie hulpmiddels gebruik om beter besluite te neem.

Faktore wat landbou beïnvloed

In sy presidentsrede het Symington drie vrae gevra wat baie kongresgangers laat nadink het. Op die oog af lyk dit na eenvoudige vrae met logiese antwoorde, maar hoe langer jy daaroor nadink, hoe meer begin jy wonder. Die vrae was:

  • Hoe lyk die landbousektor werklik?
  • Wie is almal by landbou betrokke?
  • Hoe het landbou verander en hoe lyk die toekoms?

Volgens Symington het die grond onder landbou verskuif. “Ons leef in ’n wêreld wat voortdurend verander. Hierdie verandering beïnvloed ons almal se lewens, ons boerderye, ons besighede – en dit gebeur vinnig.”

Hy vertel dat georganiseerde landbou 122 jaar gelede van die been af gekom het, omdat produsente besef het hulle moet hulself verenig. Daardie behoefte bestaan steeds onder produsente, maar daar is heelwat faktore wat die wese van landbou beïnvloed. Die eerste is ’n veranderende geopolitieke landskap. Dit is nie meer so maklik om die wêreld in oos en wes te verdeel nie. Magsbasisse en invloedsfere het verskuif en dit het alles ’n direkte invloed op landbou.

Net so is ’n veranderende ekonomiese landskap ook ’n faktor. Die vrae wat gereeld in die ekonomie gevra word, is: Waar is die vraag na landbouprodukte? Hoe lyk marktoegang? Wat is die impak van internasionale handel op tariewe? Net so speel klimaatsverandering ’n groot rol in boerderymetodes en die volhoubaarheid van landbou.

Suid-Afrikaanse werklikhede

Volgens Symington is die ontwikkeling van tegnologie een van die grootste faktore wat ’n invloed op landbou het. Hoewel dit soms moeilik is om tred te hou met die vinnige ontwikkeling van tegnologie, is dit ’n faktor wat, net soos klimaatsverandering of die verskuiwing van die ekonomie, nie uit die oog verloor moet word nie. Dit is hier om te bly. “Tegnologie maak nuwe wêrelde oop en ons organisasie moet hierdie geleenthede raaksien en dit benut om lede te bemagtig en die hele landbousektor suksesvol en toekomsgerig te maak.”

Hy het ook nie geskroom om ’n vinger na die verval van die infrastruktuur, swak ekonomiese groei, onvoldoende dienslewering en werkloosheid in die Noord- Kaap te wys toe hy begin gesels oor die toekoms van landbou nie. Hy glo dit is die landbou wat Noord-Kaapse dorpe aan die gang hou en produsente op die grond wat hul tyd en geld aanwend om dorpies in stand te hou. Hy vertel dat hy gereeld met die Noord-Kaapse produsente in aanraking kom en dit is altyd vir hom opvallend dat hierdie landbouers sekere eienskappe deel.

“Die hedendaagse produsent, oud en jonk, het eienskappe wat my trots laat voel om met hulle geassosieer te word en wat vir my ’n hoop vir ons toekoms gee. Hulle aanvaar eienaarskap met ’n positiewe gesindheid. Hulle het innoverende en oplossingsgedrewe denke en is trots op hulself, hul boerdery en hul gemeenskap. Verder is hulle optimisties oor die volhoubaarheid van hul boerderye en oor die toekoms van hul nageslag.” Hy het ’n beroep op produsente gedoen om hierdie ingesteldheid na die res van die gemeenskap uit te dra, want dit is wat gemeenskappe bou. – Koos du Pisanie, Plaas Media

  • Koning Scholtz (links) en Wilco Fourie (regs) was onder die gaste wat vanjaar die Agri Noord-Kaap-kongres bygewoon het.

Related

Calls for South Africans to stand ‘stronger together’ against rabies

Estimated reading time: 3 minutesSouth Africa joins the global community on 28 September to commemorate World Rabies Day under the theme, “Stronger together”. The...

Mohair in demand, despite lower prices

Estimated reading time: 2 minutesProducers should not panic about the first winter auction’s lower prices for adult mohair, caused by a slight oversupply of...

Moratorium offers relief for FMD-challenged buffalo industry

Estimated reading time: 4 minutesThe South African wildlife sector has welcomed a decision by minister of agriculture, Willie Aucamp, to halt the automatic culling...