Estimated reading time: 4 minutes
Die onafhanklike hoëronderwysinstelling, Akademia, het op Donderdag 2 Oktober 2025 verdere stukrag aan sy voorneme verleen om tot die landbou-opleidingsarena toe te tree deur ʼn strategies-gefokusde landbouskenkingsfonds in die lewe te roep.
Dié fonds, ter ondersteuning van die instelling se voorgestelde landboustroom, vorm deel van sy 2028 wêreldklas-kampusontwikkeling in die ooste van Pretoria. Die kampusontwikkeling verteenwoordig ʼn dinamiese en geskiedkundige samewerking tussen Akademia en die eiendomsbeleggingsmaatskappy, Kanton.
Meer as net suksesvolle oeste
Die bekendstelling van die Akademia-landbouskenkingsfonds is gemaak tydens die OBARO-gholfdag wat by die Silver Lakes-gholfklub in Pretoria-Oos aangebied is. OBARO, as kommersiële agrimaatskappy, ondersteun met trots hierdie inisiatief as een van die eerste vennote.
“OBARO glo in meer as net suksesvolle oeste, ons glo in die ontwikkeling van die jeug en die bou van ’n volhoubare landboutoekoms. Laasgenoemde sluit in die uitbouing en versterking van die landbouwaardeketting en die vestiging van kundigheid binne dié sektor,” sê Nic Bronkhorst, uitvoerende hoof van OBARO. Hy voeg by dat Akademia se visie ten nouste hiermee belyn is en daarom is dit vir dié agrimaatskappy ’n hartsaak om saam met sy gewaardeerde kliënte en vennote hierdie inisiatief te ondersteun.
Fonds verseker landboukundige opleiding
Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, spreek die doelstelling van die fonds direk tot die instelling se begronding, naamlik om ʼn akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word met die oog op ʼn vrye toekoms. “Deur die daarstelling van dié fonds erken Akademia die uiters kritieke rol wat landbou speel, nie nét wat voedselvoorsiening betref nie, maar óók in terme van ekonomiese stabiliteit, volgehoue werkskepping, en die doelgerigte ontwikkeling van gemeenskappe dwarsoor die land,” sê Visser.
“By wyse van dié fonds sal Akademia help om te verseker dat toekomstige generasies op ’n roepingsgedrewe manier as landboukundiges opgelei word wat hierdie sektor, as een van die hoekstene van die Suid-Afrikaanse ekonomie, se volhoubaarheid en impak positief sal versterk,” meen Visser.
Dit is, volgens Visser, die instelling se strewe om teen 2030 jaarliks om en by 250 nuwe eerstejaarstudente in verskeie landbouprogramme op die Pretoria-kampus te verwelkom. Die uiteindelike droom is om ’n omvattende aanbod binne ’n uitgebreide landboudissipline daar te stel wat wissel van hoër sertifikate tot en met doktorale studiegeleenthede.
In die lig hiervan word die volgende programme tans beplan en ontwikkel:
- BAgric (Landbou).
- BSc (Landbouwetenskappe).
- Hoër sertifikaat in Diereproduksie.
- Hoër sertifikaat in Gewasproduksie.
Die fonds sal oor die lang termyn ook vir die uitbouing van akademiese navorsing in landbou-ekonomie, volhoubare boerderypraktyk, asook landboubestuur aangewend word.
Só werk die landbouskenkingsfonds
Volgens Visser beoog die instelling om by wyse van dié fonds ’n totaal van R78 miljoen in bevestigde skenkings of formele verbintenisse te verseker. Hierdie kapitaal sal die volledige ontwikkeling en gepaardgaande instandhouding van onder meer ’n toegewyde proefplaas vir navorsing, praktykgerigte opleiding, én die ontsluiting van vindingryke asook toekomsgerigte landboupraktyke insluit.
Die proefplaas word vir fase twee van die kampusontwikkeling geoormerk, en sal in Januarie 2028 ’n aanvang neem. Dit word voorsien dat dié fase tot en met Desember van dieselfde jaar sal duur. Volgens Visser word die beoogde ingebruikneming van die proefplaas vir Januarie 2029 in die vooruitsig gestel.
Oorhoofs, sal die fonds ook deur toegewysde fases tot die volgende strategiese prioriteite spreek:
- Studiebefondsing en -ondersteuning.
- Akademiese program- en kurrikulumontwikkeling.
- Daarstelling van implemente, toerusting, en digitale tegnologieë vir praktiese leerervarings.
- Ereleerstoele en die bevordering van akademiese navorsing.
Gemeenskapsbetrokkenheid as ʼn belegging
“Akademia is ’n gemeenskapsinstelling en dit is vir ons belangrik om hande te vat en die toekoms tesame en op ’n hoopvolle wyse te betree,” sê Visser en voeg by dat deur betrokke te raak, gemeenskappe, ondernemings en individue kan help om ’n generasie vaardige, roepingsgedrewe landboukundiges op te lei wat die sektor se volhoubaarheid en veerkragtigheid kan versterk.
Betrokkenes geniet as skenkers ook verskeie voordele, waaronder:
- Belastingvoordele aan die hand van die uitreiking van ʼn artikel 18A-sertifikaat.
- Skepping van ’n blywende nalatenskap.
- Toegang tot toekomstige gehalte-Akademia-landboustudente en -kennis.
“Betrokkenheid in terme van die Landbouskenkingsfonds spreek tot soveel méér as net ’n daad van ondersteuning,” sê Visser en verduidelik dat dit in wese ’n strategiese belegging in die toekoms van landbou, die Afrikaanse universiteitswese, asook die gemeenskap verteenwoordig. – Persverklaring, Akademia

