Estimated reading time: 3 minutes

The House of Fibre het die mark drie jaar gelede as ’n leier op die gebied van bokhaar betree en het onlangs ’n proaktiewe stap geneem met die aankoop van ’n splinternuwe pakhuis in Gqeberha. Die nuwe perseel beslaan 13 000m² en bestaan uit slegs een vlak. Wat dit egter uniek maak, is die feit dat dit geheel en al onafhanklik sal wees van die land se kragnetwerk.

“Dit sal die grootste son-afhanklike bokhaarpakhuis, met alles onder een dak, in die wêreld wees,” sê The House of Fibre se algemene bestuurder, Pierre van der Vyver.

Die groep het hul huiswerk baie goed gedoen en die skuif, wat teen die einde van Junie beplan word, is iets waarna die hele span uitsien. “Toe ons drie jaar gelede die mark betree het,” sê Pierre, “het ons in ’n splinternuwe graad 1-gebou ingetrek en die toon aangegee van hoe bokhaar voorberei moet word, asook die tipe gebou waarin dit moet gebeur.

“Danksy die groot dakoppervlakte van die nuwe gebou, gaan ons sonpanele installeer wat The House of Fibre ten volle onafhanklik van Eskom se kragnetwerk sal maak. ’n Kragopwekker sal ook vir noodsituasies geïnstalleer word. Verder gaan ons ook ’n stelsel inbou wat ons onafhanklik van Nelson Mandela-baai se munisipale watertoevoer sal maak.”

Lees meer oor die Angorabok-voedingsprojek hier.

Op die wêreldmark se voorgrond

Volhoubaarheid speel ’n belangrike rol by The House of Fibre, en een van hul belangrikste voorvereistes is om aan hul oorsese kliënte, byvoorbeeld Chanel en Louis Vuitton, se standaarde te voldoen. “Ons streef daarna om ’n ten volle internasionale makelaar te wees en hanteer reeds die bokhaarskeersel vanaf Engeland, ’n groot deel van die Australiese bokhaarskeersel, en 90% van die Lesotho-skeersel.”

Pierre voeg by dat Lesotho, naas Suid-Afrika, die wêreld se tweede-grootste bokhaarprodusent is. “As ons dus al hierdie bokhaar onder een dak kan bring, sal dit net meer as 40% van die wêreld se produksie onder een dak wees. Dit sal The House of Fibre in ’n wêreldleierposisie plaas, en ons is geweldig trots daarop dat ons met die verkryging van die perseel, ’n voorbeeld kan wees van leierskap en volhoubaarheid.”

Meer as 70% van The House of Fibre se kliënte is volgens die Volhoubare Bokhaarstandaard (RMS) gesertifiseer, en volgens Pierre behoort hulle aanstaande jaar die 80%-merk te bereik.

Vir meer inligting, kontak Pierre van der Vyver by 066 056 8125 of besoek www.house-of-fibre.co.za.