Estimated reading time: 6 minutes
- Bloednier is een van die mees gediagnoseerde siektes by skape en kom ook by bokke en beeste voor.
- Dit is een van drie siektes waarna verwys word as enterotoksemie-vergiftiging.
- Bloednier is altyd teenwoordig. Kuddebestuurders moet dit gevolglik oorweeg om vee se immuniteit teen bloednier te verhoog indien daar ’n verwagte verandering in die samestelling van die voer is.
- In die geval van bloednier is die C. perfringens tipe D-spore in alle omgewings teenwoordig waar skape voorkom.
- Bloednier kan voorkom word deur betyds in te ent.
Bloednier is een van die mees gediagnoseerde siektes by skape en kom ook by bokke en beeste voor. Dit is een van drie siektes waarna verwys word as enterotoksemie-vergiftiging. Dit kom vanaf die maagdermkanaal en word deur variante van die bakterie, Clostridium perfringens, veroorsaak.
Bloednier is altyd teenwoordig. Kuddebestuurders moet dit gevolglik oorweeg om vee se immuniteit teen bloednier te verhoog indien daar ’n verwagte verandering in die samestelling van die voer is. Ryp en hitte kan plantskade veroorsaak, terwyl die voer van lekke en volvoer wat graan bevat, ook ’n uitbreking kan veroorsaak.
Leer hoe om bloednier te voorkom hier.
Waak teen hierdie bakterieë
Klostridialebakterieë is ook betrokke by ander veesiektes soos botulisme, tetanus en sponssiekte. Hierdie bakterieë het vier eienskappe in gemeen, naamlik:
- Die vorming van spore.
- Gifstofproduksie.
- Vermenigvuldiging in die afwesigheid van suurstof.
- Vorming van gas.
Tabel 1: Variante van die Clostridium perfringens-bakterie.
Oorsaak | Algemene naam | Aangetaste orgaan | Aanleidende oorsaak |
C. perfringens tipe A | Bloedderm (blood gut) | Ingewande | Proteïenryke groenweiding soos klawer |
C. perfringens tipe B | Bloedpens (lamb dysentery) | Melkpens | Melkstolsel in die maag |
C. perfringens tipe D | Bloednier (pulpy kidney disease) | Ingewande | Stysels of suikers en beskadigde groenvoer |
In die geval van bloednier is die C. perfringens tipe D-spore in alle omgewings teenwoordig waar skape voorkom. Hierdie spore broei uit, die bakterieë vermeerder in die ingewande en produseer dan toksiene wat in die bloedstroom opgeneem kan word. Hulle produseer ook gas.
Wanneer die stysel- en suikerinhoud van die voer toeneem, neem die C. perfringens-bakterieë dramaties toe, en hoë vlakke van die toksien word gevorm. Dit word in die bloedstroom opgeneem en kan skade aan die bloedvate in alle organe veroorsaak.
Die skade verloop soos volg:
- Bloeding en verlies van vloeistowwe uit die bloedvate.
- Bloeding in die niere en in die timusklier voor die hart.
- Bloeding en vloeistof wat uitlek en veroorsaak dat die longe vol vog word wat suurstofopname verhinder.
- Uiteindelik vorm die vloeistof in die longe ’n pienk skuim wat by die neus uitkom.
- Gas vorm in die ingewande.
- As gevolg van die skade aan bloedvate is daar dikwels vloeistof in die hartsak met ’n stolsel.
Toets en voorkom bloednier
’n Baie belangrike toets wat die diagnose van bloednier kan ondersteun, is om te kyk vir die teenwoordigheid van glukose in die urine.
Bloednier kan voorkom word deur betyds in te ent. Lammers kan teenliggaampies teen die bloedniertoksien in die biesmelk ontvang, wat ’n lam vir drie maande of langer kan beskerm. Ons vind egter toenemend lammers wat op die ouderdom van 30 dae weens bloednier vrek as gevolg van die swak oordrag van immuniteit. Dit is dus belangrik dat lammers binne die eerste ses uur na geboorte, biesmelk ontvang wat baie hoog in teenliggaampies is. Na hierdie tydperk word die teenliggaampies nie geabsorbeer nie.
Indien die aanvang van laktasie vertraag word (dikwels wanneer ureum aan ooie gevoer word), mag dit gebeur dat ’n lam nie voldoende teenliggaampies ontvang nie. In sommige gevalle kan dit ook wees dat die moeder nie binne die laaste vier tot ses weke van dragtigheid ’n skraagdosisinenting teen bloednier ontvang het nie.
Bloednierentstof is ’n dooie entstof wat uit die verswakte toksien bestaan en diere moet twee inentings vier tot ses weke van mekaar ontvang om voldoende vlakke van teenliggaampies te vorm. In natuurlike omstandighede sal hierdie beskerming vir ’n jaar duur. Waar diere aangeplante weidings bewei of graan as aanvullings in ’n voerkraal ontvang, moet die immuniteit ten minste 14 dae voor die verandering van voer, verwagte ryp, of warm weer wat groenvoer kan beskadig, verhoog word.
Ons aanbeveling is dat lammers ’n eerste inenting kry ten tyde van stertsny en merk. Dit sal die sporadiese maar algemene vrektes van twee- tot vier-maande-oue lammers verminder. Die speen-inentingsprogram moet rondom 100 dae gevolg word wanneer lammers, vier tot ses weke uitmekaar, ’n stel van twee inentings teen bloednier moet ontvang.
Voorgestelde program
By teeldiere moet die eerste entstof die oliegebaseerde entstof wees wat ’n langdurige basiese immuniteit bied en dikwels jare hou. Die vlak van immuniteit is egter nie altyd hoog genoeg nie en ‘n skraagdosis word na ’n maand benodig.
Die tweede inenting kan die aluingebaseerde produk of een van die vele kombinasie-entstowwe wees. Sommige entstowwe sluit ook Pasteurella-beskerming (voorkoming van longontsteking en septisemie) in, wat nuttig kan wees wanneer lammers na weidings of voerkrale gaan.
Een van die kombinasie-entstowwe beskerm ook teen Corynebacterium ovis wat die oorsaak van hoogs aansteeklike en problematiese absesse is wat in die limfknope in die nek en aan die binnekant van die bors vorm.
Tabel 2: Voorgestelde inentingsprogram vir lammers.
Ouderdomsgroep | Siekte | Produkkeuse |
Drie tot ses weke (merk) | Slegs bloednier | Aluingebaseerde entstof |
80 dae (ramme en ooie) | Bloednier plus bloutong A (BTA) | Oliegebaseerde entstof |
80 dae (hamels) | Bloednier (opsionele BTA) | Aluingebaseerde entstof |
100 dae (speen) | Bloutong B | |
120 dae (ramme en ooie) | Bloednier plus bloutong C (BTC) | Aluingebaseerde entstof, of Pasteurella plus klostridium, of Corynebacterium plus klostridium, of ’n 10-in-1 klostridiale entstof |
120 dae (hamels) | Bloednier (opsionele BTC) | Aluingebaseerde entstof (veld) vir bloednier, plus C. perfringens A (lande vir weiding), Pasteurella, plus klostridium (voerkraal) |
In die meeste troppe sal die dragtige ooie, voordat hulle lam, ’n skraagdosisentstof ontvang wat bloednier bevat. Dit sal meer as ’n jaar ná die laaste bloednierskraagdosis gebeur wat tydens speen gegee is. Dit is dus belangrik om te onthou om die vervangingsooie sowat nege maande ná speen (een-jaar-oue) in te ent.
’n Dier wat gedeeltelike immuniteit teen bloednier het, kan breinskade opdoen wanneer dit aan bloedniertoksiene blootgestel word. Hierdie diere kan verlam raak. Sommige toon egter slegs swakheid van die agterste ledemaat, en in sommige gevalle kan hulle volle epilepsie ontwikkel as hulle versteur word. Hierdie toestand word fokale simmetriese enkefalomalasie (FSE) genoem en word dikwels in voerkrale gesien.
Eerder bang Jan as dooie Jan
’n Skraagdosis van klostridium- plus Pasteurella-entstof moet 14 dae voordat voeding begin, toegedien word. Wanneer ’n uitbreking van bloednier plaasvind, moet die diere onmiddellik weer ’n inenting ontvang – dit kan egter sewe dae neem om diere teen vrektes te beskerm. ’n Inspuiting van langwerkende tetrasiklien kan lammers vir drie of vier dae beskerm. ’n Opvolginspuiting sal sterftes voorkom totdat die entstof na sewe dae van krag word.
Wees eerder versigtig en indien jy twyfel, gee ’n skraagdosis. – dr Johan van Rooyen, Steynsburg-dierehospitaal
Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 082 463 3087 of Wandile Khave by 066 303 6271 (WhatsApp), of stuur ‘n epos aan veearts.sdh@nokwi.co.za.